Die GHA rig die volgende uitnodiging aan die publiek
Elke jaar klim honderde feesgangers Majubaberg uit om die Slag van Majuba te herdenk, en jy kan ook.
Dié veldslag het gedurende die Eerste Vryheidsoorlog op 27 Februarie 1881 plaasgevind.
Die Engelse genl. GPC Colley het met 728 man die kruin van Majuba stilletjies die vorige nag beset met die doel om die Boere uiteindelik te verslaan en die pad na Pretoria oop te maak vir die Engelse magte in aantog vanaf Durban.
Toe genl. Piet Joubert besef dat die Engelse die berg deur die nag beset het, gee hy vir sy twee generaals Frans Joubert en Nicolaas Smit die bevel: “Die Engelse is daar bo en julle gaan hulle daar afhaal… dadelik!”
Die res is geskiedenis…
Groot Trek 175 (www.afrikaans.org.za)
Vanjaar vind daar weer ‘n saamtrek op Majuba plaas om dié veldslag te herdenk en wel vanaf vanaf 22 tot 24 Februarie. Mense kom kamp daar uit vir die hele naweek. Ander kom net deur vir die Saterdag en hou lekker piekniek.
Vanjaar se fees vind plaas in die jaar waarin ons die Groot Trek 175 herdenk. Om die Groot Trek te herdenk het die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) ’n spesiale bronsmedalje laat slaan wat mense kan kry as aandenking. So, almal wat om 9h30 op Saterdag 23 Februarie saam met ons die berg bestyg en die kruin bereik, kan ‘n medalje kry om hulle te herinner aan dié besondere dag en uitstappie.
Op die medalje is die embleem van die Groot Trek 175 geslaan.
Was dit nie vir die Groot Trek van 1835 – 1838 nie, sou die Slag van Majuba waarskynlik nooit plaasgevind het nie. Daarom bied die GHA hierdie spesiale bronsmedalje aan om volksgenote op Majuba te herinner aan die Groot Trek.
Om deel te neem kos R25 en die opbrengs sal aangewend word ten bate van ons wondersoete taal, Afrikaans. Persone wat meer wil weet, kan my kontak by andre@afrikaans.org.za of 082 570 0184.
Vol Program
Soos gewoonlik is daar ‘n program vol van pret en plesier dié naweek.
Behalwe van sang en musiek, fakkelloop, sweepklap, volkspele en Boeredanse, sal die perdekommando oudergewoonte ‘n pragvertoning lewer met historiese vlae waarna mnr Andries Breytenbach ‘n kort vertelling sal lewer van die historiese gebeurtenis wat op Majuba plaasgevind het.
Besoekers sal kan deelneem aan die boeresport en die Cantus wat jaarliks aangebied word. Hulle is ook welkom om ‘n piekniekmandjie saam te bring of kan die CVO-skool Volksrust se kosstalletjie besoek vir heerlike boerekos of lekkernye.
Ons hoop om almal daar te sien.
DATUM: 11 Februarie 2013
PLEK: Pretoria
ONDERWERP: Majubafees 22 – 24 Februarie 2013
ORGANISASIE: Die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans
KONTAK PERSOON: André Alkema, Voorsitter, 012 327 2329/30