Die van julle wat al “Ken jy tant Mossie?” sien optree het, sal weet dat dit ’n vertoning is wat ‘n mens moet sien.

Onthou jy die groot groen bundel onder in die klavierstoeltjie? Ken jy tant Hessie se wit perd, Mooie Mietjie en Sarie Marais? Natuurlik ken ons hulle almal!

Die groen FAK-bundel word afgestof en die krane oopgedraai vir ‘n musikale fees van vernuwe volkstreffers! Van die bekende nommers word ‘opgezoesh‘, en die minder bekende liedjies in die skatkis word ontsluit.

Vier musikante tree op onder andere twee klaviere, viool, perkussie, twee trekklaviere, baskitaar en saksofoon op, naamlik: STEFFIE LE ROUX (Cutt Glas & ‘Stuur groete aan Mannetjies Roux’), BABETTE VILJOEN (ATKV Crescendo-Kreatief Wenner 2011, Anderkant Nêrens se mense), WERNER FERREIRA (begeleier vir Jak de Priester), IZELLE CLAASSEN (begeleier vir Louis Brittz, Laurika Rauch DVD). Teks, vertolking en grappies is deur CORNEELS SCHABORT (Lagnes).

Kisklere is onnodig en kappies kan in die kas bly lê… los dit net vir die “ê”. Kom sakkie-sakkie saam!