Deur Leané Meiring uit Beeld
Dit was ’n gewone Saterdag. Die trekkers het klaar gewerk vir die week. Hulle was ontspanne en het gebraai en kuier voor dié wrede nag van 17 Februarie 1838.
So het dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, gister gesê by die gedenkdiens vir 482 Voortrekkers wat presies 175 jaar gelede wreedaardig deur impi’s van die Zoeloekoning Dingaan met assegaaie doodgesteek is.
Dit was die Groot Trek se grootste terugslag: 185 Voortrekker-kinders, 56 vroue, 41 mans en 200 dienswerkers het in die slagting by Bloukrans in die hedendaagse KwaZulu-Natal omgekom.
“Daar was net verminkte lyke, bloed wat van die ossewaens afgedrup het en vertrapte babas onder die waens se wiele? …”, het Langner dramaties aan die groep Voortrekkers gesê wat gister by die Bloukrans-monument byeengekom het.
Hulle het van heinde en verre gekom om eer aan die trekkers te betoon.
Vier ruiters van Pretoria het hul perde opgesaal en dié groep Voortrekkers se spore van Kerkenberg tot by Bloukrans gevolg.
Die monument is in 1895 opgerig toe die oorskot van die trekkers daarheen geskuif is.
“Dit was die enigste keer in Suid-Afrika se geskiedenis dat soveel kinders op een aand gesterf het. Almal – wit, swart en bruin – is in een graf begrawe.”
Juis daarom is die monument volgens Langner vandag steeds relevant omdat kinders steeds soveel lyding verduur.
“Dink maar aan Anene Booysen wat wreed verkrag en vermoor is,” het hy gesê.
Marie Ludick van Harrismith is al 30 jaar ’n lid van die Voortrekkers.
Sy het sowat tien kinders van dié dorp se Voortrekkers na die monument gebring.
“Ons hamer nie meer op die geskiedenis soos in die ou dae nie, maar die kinders moet darem hul herkoms ken,” het sy gesê.
“Dis belangrik vir my, want ek dink aan die kinders wat hier dood is. Dit kon ek gewees het,” het Carike Langner (8), een van die jongste Voortrekkers, gesê.
Ook Dirk Lamprecht (18), wat al 12 jaar ’n Voortrekker is, het gesê hy hou van Voortrekker-wees omdat hy baie dinge leer wat hy nie op skool geleer word nie.
“Natuurlik is die pragtige meisies van Doornkloof se Voortrekkers ook ’n groot trekpleister.”
Klik hier vir die oorspronklike berig op Beeld se webtuiste