Groot Trek-herdenking: Kinders slaag met rekord vir langste Voortrekker-stokbrood

Nagenoeg 120 Voortrekkers van die Polsslag-kommando in Centurion het op Maandag, 4 Maart 2012 daarin geslaag om ʼn Suid-Afrikaanse rekord vir die langste stokbrood – oftewel Welbeloontjies soos dit destyds onder die Voortrekkers bekend gestaan het – te bak. Groot sukses. Die stokbrood was ten einde 15 besemstokke lank. Geen plaaslike rekords van dié aard kon opgespoor word nie.

Dié rekordpoging vorm deel van die bekendstelling van Kraal Uitgewers se nuutste boek, Trekkerkinders, uit die pen van dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK.

Die 175ste herdenking van die Groot Trek word vanjaar gevier en met ʼn tradisionele Voortrekker-resep, wat nou in Trekkerkinders opgeteken is, sal kinders van so jonk as 6 jaar tot 18-jariges dié rekordpoging aanpak.

Trekkerkinders fokus op die geskiedenis van die Groot Trek en spesifiek die noemenswaardige rol wat kinders tydens dié tyd gespeel het. Die boek, met pragtige illustrasies, bevat ’n handige opsomming van die belangrikste gebeure van die Trek (tussen 1835 en 1838), kort profiele oor ’n paar van die mees prominente leiersfigure van dié geskiedkundige era sowel as 14 treffende heldeverhale van kinders (soos oorspronklik opgeteken deur onder andere C.R. Swart en J.D. Kestell). Die lewe van kinders in die tyd van die Trek word van naderby beskou en ou Voortrekkerspeletjies, -gesegdes en selfs geliefde Voortrekkerdisse word herontdek. Meer as ’n dosyn gedigte wat die wel en weë van die Groot Trek besing (uit die pen van meesters soos C. Louis Leipoldt, Totius en A.G. Visser) is ook ingesluit in die bundel en bied ’n blik op die Trekkerlewe soos gesien deur die oë van die mees prominente Afrikaanse digters.

“Trekkerkinders skets ’n prentjie van die wêreld van die Groot Trek op ’n eenvoudige en verstaanbare wyse. Dit is die ideale gids vir ouers, onderwysers of ander volwassenes wat die geskiedenis van die Groot Trek aan die volgende geslag wil oordra. Deur verhale van opoffering, hartseer, moed en heldedade sal hedendaagse Afrikanerkinders kan verstaan wat hul voorouers meer as 175 jaar gelede deurgemaak het,” verduidelik Langner.

Vir meer inligting kontak:
Ilze Nieuwoudt
Publikasiebestuurder: Kraal Uitgewers
012 644 4430
079 874 2024
ilze@solidariteit.co.za

Meer inligting oor Trekkerkinders

Prominente Groot Trek-gebeure wat verweef met die verhale van kinderhelde vertel word, sluit onder meer in:
–    Die moord op Retief, sy manskappe en vier jong Voortrekkerseuns in Dingane se kraal;
–    Die aanval en heldedade van kinders by Bloukrans en Moordspruit;
–    Die Slag van Italeni en die dood van Dirkie Uys.

Lees meer oor die volgende onderwerpe in Trekkerkinders:
•    Waar kom spreekwoorde soos “Kortgespan”, “Krakende waens loop die langste”, “Leisels in die hand neem” en “Rieme neerlê” vandaan?
•    Hoe het Voortrekkerkinders gespeel? Hoe het hulle hul speelgoed soos kleiosse en poppe gemaak en wat was “ou-ooi en jakkals” en “beesvelgooi”?
•    Watter boererate het die Voortrekkers gehad vir keelseer, koors en maagpyn en vir watter skete het leeuvet en opgekookte roosmaryn gehelp?
•    Oor watter eenvoudige disse was die kinders van die Groot Trek gaande en wat is “welbeloontjies” en “Kouewater-gemmerbier”?
•    Wie was Andries Wilhelmus Pretorius, Koos Bybel en Gerhardus Marthinus Maritz?

Trekkerkinders is beskikbaar by Kraal Uitgewers en kos R80 (R20-posgeld uitgesluit). SMS die woord “TREK” na 34388 om dié boek te bestel