Op 16 Desember 2009 was my man, Daan Prinsloo, die gasspreker by Grootfontein se Geloftefees in Mpumalanga. Na die verrigtinge vra ʼn hoërskoolonderwyser my om iets vir die kinders oor die Gelofte te skryf. Ek het ingewillig, maar besef dat ek nie net oor die Gelofte sal kan skryf nie. Daarom het ek besluit om die aanloop tot die Gelofte in ʼn historiese jeugverhaal te vervat wat jong kinders, tieners en volwassenes insluit.
Kerkenberg tot Bloedrivier is met die oog op die 175 jarige herdenking van die Groot Trek en die Gelofte van 16 Desember 1838 geskryf. Dit is ʼn historiese jeugverhaal wat op feitelike fiksie gebaseer is, met ander woorde feit en fiksie is op ʼn kreatiewe en geloofwaardige manier vermeng.
Arnoldus Joubert, ʼn weeskind en agterryer van die fiktiewe Scheepers-trek, ontmoet vir Poppie Vermaak, dogter van CJ Vermaak Senior, ook ʼn fiktiewe trekleier, in Januarie 1838 aan die voet van die Drakensberg by Kerkenberg in die Vrystaat. Hulle sien die rots waarop Deborah Retief haar vader, Piet Retief, se naam en verjaardag met groen verf geskryf het. Hulle word deel van die historiese Landman-trek, beweeg met fiktiewe sowel as historiese karakters soos Hans Dons de Lange en Eerwaarde Erasmus Smit oor die Drakensberg tot in Natal. Hulle beleef Zoeloe-aanvalle op die laers, die dood van Piet en Dirkie Uys by Italeni asook Gert Maritz wat aan malaria sterf. Leierloos en moedeloos wag hulle op die koms van Andries Pretorius en sy trekgeselskap uit die Kolonie.
Kerkenberg tot Bloedrivier neem die leser, jonk en oud, op ʼn kultuurhistoriese reis deur die onstuimige 1838 in die annale van die Groot Trek.
Aangeheg is ʼn paar foto’s wat by Kerkenberg geneem is. Die skrywer salueer elke man, vrou en kind wat oor die rotsagtige berg tot in Natal getrek het.
Louise Prinsloo skenk twee getekende eksemplare van Kerkenberg tot Bloedrivier uitgegee deur LouDanis Pen (Edms.) Bpk. Pretoria. 2013 as boekpryse.