FAK en Netwerk vir Afrikaner-belange onderteken kulturele vennootskap

deur Elvira Hattingh

Tydens ’n geskiedkundige geleentheid verlede week is die eerste internasionale kulturele vennootskap ter wille van die bevordering van Afrikaans tussen die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) in Suid-Afrika en die Netwerk vir Afrika¬ner-belange in Namibië onderteken.

Netwerk vir Afrikaner-belange is ’n Namibiese organisasie wat die behoud en bevordering van die Afrikanersaak, asook die Afrikaanse taal en kultuur as doelwit het. Die organisasie is uitgesproke oor die Christelike grondslag waarop dit gevestig is en is nie aan enige politieke party verbonde nie.

Dr. Callie Opperman, Netwerk se voorsitter, het tydens die geleentheid gesê die Grondwet gee elke kulturele groep die reg om hul kultuur te beoefen, te bewaar en uit te bou. Hy het sy lof uitgespreek vir die regering se steun en oop gesindheid teenoor plaaslike kulture.

“Namibiërs praat van ’ons land’ en daar is min ander plekke waar mense so tuis en trots voel en kan sê hulle is trots op ons president – wat self ’n uitgesproke Christen is.”

Dr. Danie Goosen, voorsitter van die FAK-raad, het ook gesê dit is nodig vir Afrikaners om self verantwoordelikheid te neem om hul taal en kultuur te bevorder en nie op die regering staat te maak om dit namens hulle te doen nie.

Volgens hom moet die fokus wees om ’n skeppende, florerende Afrikaanse kultuurgemeenskap oor landsgrense heen te vorm. Boonop behoort Afrikaners daarop te fokus om ’n goeie samewerkende verhouding met die regering en ander kulturele en taalgemeenskappe in die land te vorm.

Namibiërs slaag volgens hom beter in die laaste twee punte as Afrikaners in Suid-Afrika. Netwerk is nie ’n nuwe kultuurorganisasie nie, maar wil bestaande organisasies wat hulle vir dieselfde Afrikaner-belange beywer, met mekaar laat kommunikeer, saamwerk en ’n positiewe bydrae in die land laat lewer.

Die doel is ook nie om beheer uit te oefen nie, maar betrokkenheid by die Afrikaanse taal en kultuur aan te moedig.

In die paar jaar wat Netwerk funksioneer, is met verskeie persone en organisasies binnelands en buitelands geskakel, wat Die Voortrekkers, Dorslandtrek Gedenkfeeskomitee, ATKV, ATKB, Boeremusiekvereniging, Namibiese Vereniging vir Christelike Onderwys (waarby Afrikaanse privaat skole ingeskakel is), Namibiese Woordfees, Afrikaanse dosente by Unam, asook KRIT ingesluit is.

Saam met die Selfhelp Trust is die Deo Gracia Kultuursentrum, wat as ’n Afrikaanse kultuursentrum moet dien, op die hoek van Bismarck- en Blohmstraat in Windhoek opgerig. Die onderste verdieping van die gebou dien as ’n Afrikaner-argief en museum, met ’n saal en ruimte vir ’n restaurant op die boonste vloer.

Netwerk was ook die afgelope drie jaar gasheer vir die Jongeren Projek se Nederlandse studente wat Namibië as deel van hulle besoek aan Suid-Afrika aangedoen het. Elke tweede jaar word ’n Namibiese student benoem om Nederland te besoek. Netwerk is ter wille van Namibiese studente by die Rapport Onderwysfonds betrokke.

Die nuwe vennoot¬skap beloof ’n opbouende samewerking tussen persone en instansies in Namibië en Suid-Afrika wat die Afrikaanse taal en kultuur se belange op die hart dra. Hierdie artikel het verskyn in die Republikein, die Namibiese Afrikaanse koerant, op 30/7/2013. Sien gerus http://www.republikein.com.na/kultuur/fak-en-netwerk-vir-afrikaner-belange-onderteken-kulturele-vennootskap.208671