Na Potchefstroom se Aardklop en Stellenbosch se Woordfees, was dit op Saterdag 13 Julie Bloemfontein se Vryfees se beurt – die FAK Sangbundel Volume II is amptelik bekendgestel aan die Vrystaat. Die FAK-konsert, wat saamgestel is deur Janine Neethling, was ook in die Rosestad baie gewild onder die feesgangers. Omtrent 1 000 besoekers het op Saterdagmiddag saamgekom in die Callie Human-saal om die konsert te geniet.

Bekende kunstenaars soos Jak de Priester, Jannie du Toit, Anna Davel, Danie Niehaus en Amanda Strydom het hul eie en ander liedjies uit die nuwe FAK Sangbundel gesing. Liedjies  soos “Lisa se klavier”, “Hillbrow”, “Gypsey” en ander treffers het die gehoor laat saamsing. Amanda Strydom het behoorlik gerock in ons taal. Gaskunstenaar Monica Maree het haar pa, Lukas Maree, se “Miljoen” gesing.

Die FAK Volume II-konsert was ’n reusesukses. Feesgangers se terugvoer was baie positief. Albie Grobbelaar sê: “Ek was so trots om ’n Afrikaner te wees, die wonderskone bekende Afrikaanse komposisies te hoor, ek was sommer tranerig…” Ander was van mening dat die konsert die hoogtepunt van die fees was.

Die FAK Sangbundel Volume II is verlede jaar bekendgestel en bevat  Afrikaanse liedjies van 1979 tot 2012. Ons beplan om die hoëgehaltekonsert by die KKNK ook aan te bied.