Die reëlings vir die Kultuurfees op Erfenisdag, 24 September –  as deel van die Groot Trek 175 aktiwiteite op die Piekniekterrein van die Voortrekkermonument – is in volle swang.

AfriForum en Rekord koerant ondersteun die fees en gaan ook naas hulle ander bydraes, hulle bydrae vir die dag lewer met ’n “Braai vir Erfenis”-aktiwiteit.

Behalwe die musiek van die Boeremusiekgilde, gaan Adam Tas en die ATKV-sangers die skare verder vermaak. Die publiek kan kyk hoe word brood in ’n outydse  bakoond gebak, seep gekook, kerse gemaak, waband gekort, swepe gevleg en vele meer tradisionele demonstrasies.

Vir die dames gaan daar demonstrasies van hekel-, borduur-, kwilt- en kantwerk wees terwyl daar heerlike eetgoed en interessante snuisterye te koop sal wees.

Om 12:00 gaan kanon Susanna vreedsaam bulder om Groot Trek 175 te herdenk. Hierna lewer dr. Jackie Grobler ’n praatjie oor die Groot Trek waarna die potjiekosdeelnemers se tradisionele potjies beoordeel sal word. Dié items sal ook afgewissel word met boeresport waaraan oud en jonk genooi word om deel te neem.

Die Afrikaanse Filatelievereniging van Pretoria bied  ’n  interessante uitstalling oor Groot Trek en Voortrekkermonumentposkaarte en -seëls in Galery 20.20 in die Kantoorkompleks  aan. Die Genealogiese Vereniging: Noord-Transvaaltak gaan besoekers ook met interessante familiegeskiedenis behulpsaam wees.

’n Ander hoogtepunt van die dag is die veiling van outydse rytuie wat deur prof. Erik Holm gereël word.  Tans is daar ’n Berlinerkoets, halftent bokwa,  oop landau,  Victoria met ’n afslaankap en ’n dubbelbank-kapkar met dubbeldisselboom. Hierdie rytuie is outentiek en pragtig gerestoureer.

bokwa met halftent(1889) perfek herbou

Victoria met afslaankap (2)

Kom geniet ’n heerlike gesinsdag vol interessanthede en lekkernye. Lieb Bester, alias prof. Fritz Retief, is die aankondiger en gaan ons ook met sy musiek vermaak.

Toegang is R20.00 per motor. Die feestelikhede begin 9:00  tot 16:00  die middag.

Navrae aan: Etta Judson:    012 326 6770/082 413 4401      museum@vtm.org.za