Die gedagte dat die N.P. van Wyk Louw-sentrum as deel van die tagtigste verjaarsdag van die Afrikaanse Bybel ’n publikasie uitgee wat handel oor die Afrikaanse Bybel en die Afrikaanse gees, het oorspronklik ontstaan by Johann Rossouw. Die Afrikaanse Bybel het sedert 1933 ’n reuse rol gespeel in die ontwikkeling van die Afrikaanse kultuurlewe, letterkunde, kuns, musiek en kultuur. Om die volle trefkrag van die 1933-Afrikaanse Bybel op die Afrikaanse kulturele lewe en taalontwikkeling te bepaal, is egter ’n omvangryke tema wat nog iewers in die toekoms nagevors moet word.

Die doel van die herdenkingspublikasie is enersyds om die tagtigste verjaarsdag van die Afrikaanse Bybel te vier, maar andersyds om gedagtes te prikkel oor die omvangryke invloed van die Afrikaanse Bybel op die Afrikaanse gees. Daarby wil die publikasie ook erkenning gee en hulde bring aan diegene wat onverpoos gewerk en gestry het vir die droom om Gods Woord in eie taal te mag hoor en lees. Die titel van die publikasie De Bijbel in het Afrikaans was ook die titel van Arnoldus Pannevis se artikel wat op 7 September 1872 in De Zuid-Afrikaan gepubliseer is. Dit was die eerste keer waar daar in die openbaar geskryf is oor die droom van ’n Afrikaanse Bybel.

Die bydraes in hierdie publikasie wissel van wetenskaplike artikels, persoonlike getuienisse tot herinneringe. Alle bydraes is van persone by wie die Afrikaanse Bybel ’n deurslaggewende rol speel in hulle werk op die taalakker. Baie dankie aan elke persoon wat help dink het oor die betekenis van God se Woord in eie taal.

Bestel nou die herdenkingsboek van die Bybel in Afrikaans se tagtigste verjaarsdag by fak@fak.org.za. Om die versamelaarswaarde te verhoog het die FAK slegs 300 beskikbaar gestel vir die publiek.

Verteenwoordigers ontvang boek_resize

Met die herdenkingsdiens van die Bybel se tagtigste verjaardag het lede van organisasies De Bijbel in het Afrikaans ontvang. Hulle is van links na regs: Sakkie Kotze (ATKV), ds. Murray Louw (Bybelgenootskap van Suid-Afrika), prof. Cas Vos, Sonja Lombard (Die Voortrekkermonument), Lukas de Kock (Die Voortrekkers), prof. Danie Goosen (FAK), Flip Buys (Solidariteit) en Danie Langner.