deur Sarie Marais

Die FAK het die afgelope maande ’n Afrikaanse liedjietuin gevestig. Dit is geleë by die FAK-kantoor, op die terrein van die Voortrekkermonument in Pretoria. Die doel van die Afrikaanse liedjietuin is om Afrikaanse musiek te huldig deur op sigbare wyse erkenning te gee aan Afrikaanse kunstenaars wat ’n reuse rol in die musiekwêreld gespeel het.

Die kern van die tuin is ’n roostuin, wat aangeplant is met rose wat na kunstenaars vernoem is, soos byvoorbeeld Christa Steyn, Rina Hugo, Mimi Coertse, Anneli van Rooyen en Steve Hofmeyr. Tydlose Afrikaanse liedjies soos “Skipskop”, “Kinders van die Wind” en ander treffers word op graniet- en ander plate in die tuin uitgestal. Die name van eietydse kunstenaars wat oorlede is, soos onder andere Lucas Maree, Koos du Plessis en Louis van Rensburg sal ook in die tuin aangebring word.

Aangesien die FAK-kantore geleë is op die terrein van die Voortrekkermonument, sal die Afrikaanse liedjietuin ook toeriste lok en sodoende ’n groter bewusmaking kweek van die Afrikaanse liedjieskat en kunstenaars.