Die somer is so waar besig om sy kop uit te steek en vakansiegangers en kampers kom span meer en meer uit na ’n koue winter. Die son glinster oor die Vaalrivier met water wat saggies oor die klippe kabbel terwyl almal met inspanning wag vir die somerreëns om die rivier te voed.

Op die FAK Rivierplaas kampterrein is almal aan die skarrel en besig om reg te maak vir ’n besige somer en reeds amper vol bespreekte oord.

In die stiller wintermaande was daar egter nie tyd vir ontspan nie. Baie moeite is gedoen met instandhouding en verbeterings, alles met die doel om jou vakansie meer aangenaam en volmaak te maak. Omtrent al die geboue het aandag gekry. Mure is geverf en al die dakke is afgeskuur en oorgeverf. Reëlings is opgerig en die terrein spog ook nou met rolstoelvriendelike fasiliteite. Daarby saam is die chalets ook opgeknap met heelwat nuwe storte en kombuise.

Saam met die opknapping het alles ook name gekry. Om in te pas by die FAK is ’n liedjietema ’n heel voor die hand liggende besluit.

Die sewe chalets sal voortaan as volg bekendstaan: Suikerbossie; Jan Pierewiet;  Harlekyn; Eenvoud; Hillbrow; Rolbos en Royal Hotel.

Die Gastehuis is voortaan Sprokie vir ’n Stadskind, terwyl die kampterrein langs die swembad bekend sal wees as Mooifontein. Die swembad is nou Nalekokers en almal kuier deesdae saam onder die Oukraal-lapa. Die eetsaal is natuurlik die Sarie Marais-eetsaal terwyl die meisiekampers almal slaap in die Rooirokbokkie-slaapsaal. Die seuns sal natuurlik slaap in die Mannetjies Roux-slaapsaal, en ter herdenking van die eienaar van die plaas wat sy lewe lank aktief betrokke was in sy gemeenskap, is die groot saal nou bekend as die Henning Klopper Gedenksaal.

Ons besprekings vir Desember is konstant besig om in te kom, en besoekers word aangeraai om so spoedig moontlik te bespreek voor dit te laat is.

Besprekings kan gemaak word deur die Rivierplaas self te kontak by:
•    Tel: 056 818 1197
•    Sel: 082 551 7262
•    E-pos: udolpho@fak.org.za

Onthou dat vriende van die FAK groot afslag kry vir besoeke aan die Rivierplaas.

Gaan gerus na www.fak.org.za of http://www.lekkerkampplekke.co.za/index.php/noord-vrystaat/parys/fak-rivierplaas vir meer inligting.