Op 27 Julie het 57 jong Voortrekkers vanoor die hele Wes-Kaap in die Paarl saamgetrek om ’n veelsydige opvoedkundige naweekkamp met die Anglo-Boeroorlog (1899-1902) as tema by te woon.
Hulle is onder meer toegespreek deur kultuurkundiges en het selfs die opwinding ervaar om ’n egte Britse veldkanon wat in die Slag van Blaauwberg van 1806 gebruik is, te sien (en te hoor) vuur.
Die Britse 7-ponder voorlaaierkanon is in 1806 in die Slag van Blaauwberg teen die Kaapse garnisoen gebruik. Die Britse invalsmag het die slag gewen, en het die Kaap die Goeie Hoop toe onder Britse gesag geplaas. Eers in 1910 het Suid-Afrika sy eie plaaslike regering verkry, maar steeds onder die Britse vlag. In 1961 het dr. Hendrik Verwoerd, Eerste Minister, Suid-Afrika as ’n onafhanklike republiek uitgeroep.
Ander hoogtepunte was begeleide besoeke aan die KWV-wynlandgoed Laborie, waar die enigste Anglo-Boereoorlog Monument vir die Kaapse Rebelle in ’n rotstuin midde-in die wingerde staan, en die De Poort-rytuigmuseum.
Volgens Ronel Ronel Loubser, Kommandoleier en Dogtersveldkornet van die Paarlse Voortrekkers, was dit die Graad 4’s van die Wes-Kaapse Voortrekkers wat die jaarlikse kamp op 26 en 27 Julie op die Voortrekker-kampeerterrein aan die voet van die Paarlberg in Noorder-Paarl bygewoon het. Die Seunsveldkornet was Hennie Basson.
Altesaam 57 jeuglede van die Voortrekkers en 15 offisiere van Wes-Kaap het die kamp bygewoon waar die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) onder die loep geneem is. Die projekleier was Joe Kotzé en die kampleier Grant Lyons.
Groep offisiere in blou uniform by kanon:
Dié Voortrekkeroffisiere wat hier by die Britse 7-ponder voorlaaierkanon van 1806 staan, is van links: Agter: Andries Harmse, Magda Basson en Grant Lyons
Middel: Shantal Lategan, Ronel Loubser, Nadine Conradie, Lizelle Nesenberend, Niel van Tonder en Lizette Mundey.
Voor: Annerie Sheridan en Elmarie Kotzé.
Die kampgangers is toegespreek deur kundiges uit die geledere van die Voortrekkers en die gemeenskap, vuurwapendemonstrasies is gehou, en selfwerksaamheid is deur die kampgangers beoefen met behulp van artikels, vertellings, video‘s, foto’s en rolspel.
Vrydag se verrigtinge op die Voortrekkerkampeerterrein het gewissel van ’n rotasieprogram met selfwerksaamheid-geskiedenisboekies, vertellinge, rolspeel, heldeverhale en gedigte.
Saterdagoggend is die dag se vol program begin met ’n besoek aan die De Poort-rytuigmuseum, waar rytuie uit die Paarlse verlede, soos die 1830’s toe die Groot-Trek aan die gang was, en die laat 1800’s en vroeë 1900’s van die Anglo-Boereoorlog, besigtig en vakkundiges toeligting daaroor gegee het deur interessante vertellings.
Daarna het die groep na die ABO Kaapse Rebelle Monument op die KWV se wynlandgoed Laborie gegaan, waar Marthinus van Bart, kultuurskrywer, joernalis en kundige oor die Anglo-Boereoorlog, die simboliek van die beelde en plakette in brons verduidelik het. Hy het in die Laborie-ouditorium ’n lesing gegee oor die oorsake van die Anglo-Boereoorlog, en dit toegelig met ’n skyfievertoning. Ook het hy groot gelamineerde foto’s uit die argief van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein vertoon wat die lyding van die Boerevroue en -kinders in die Britse konsentrasiekampe gedurende die oorlog uitbeeld. Hy het die Voortrekkers ook met ’n skuifievertoning ingelig oor die honderdjarige herdenking van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein op 16 Desember vanjaar. Weinig van die aanwesiges het enigiets van hierdie monument, die naasliggende Oorlogsmuseum van die Boererepublieke óf die komende eeufees geweet.
Van Bart bied reeds sedert 2009 elke jaar hierdie inligtingsessie op eie koste vir die Voortrekkers aan.
Daarna is almal na die Voortrekkerkampeerterrein in Noorder-Paarl waar een van die skouspelagtigste hoogtepunte plaasgevind het toe Martin Venter van die SA Kanoniersvereniging van Kaapstad ’n skietdemonstrasie gehou het met ’n oorspronklike 7-ponder voorlaaierkanon wat in die Slag van Blaauwberg van 1806 deur die Britse invalsmag teen die Kaapse garnisoen gebruik is. Hy bied die kanon-demonstrasie met loskruit ook reeds sedert 2009 elke jaar op eie koste by die kamp aan.
Saterdagmiddag het die kampgangers ’n skermutseling tussen die Boere en die Kakies met toneelspel uitgebeeld. Daar was selfs ’n Rooi Kruis-tent en ’n krysgevangenekamp. ’n Demonstrasie is met windbukse gehou.
Vir baie van die Penkoppe en Drawwertjies was die kamp hul eerste kennismaking met die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog, en heelparty van die offisiere het gesê hulle het die kamp self besonder leersaam gevind.
Penkoppe en Drawwertjies staan rondom die 7 ponder-voorlaaierkanon waarmee sedert 2009 elke jaar ‘n demonstrasie by die Voortrekkerkamp in die Paarl gehou word. Agter staan Grant Lyons met die helm van ‘n Britse soldaat op sy kop.
Van Bart sê uit sy eie opname en gesprekke met offisiere is dit duidelik dat hierdie baie belangrike faset van die Suid-Afrikaanse geskiedenis minstens twee geslagte lank reeds in die skoolleerplanne afgeskeep of selfs geïgnoreer word. Daar bestaan ’n dringende behoefte om jong mense én hul ouers oor hul eie kultuurgeskiedenis in te lig. ’n Landsburger wat nie met hierdie kennis bemagtig is nie, is soos iemand wat aan geheueverlies ly. Hy of sy weet van vanwaar hulle kom en waarheen hulle onderweg is nie. Hulle weet nie waar hulle en hul besonderse kultuurgemeenskap by die Suid-Afrikaanse kulturele verskeidenheidsopset inpas nie. Hulle voel soos vreemdelinge, sonder geboortereg, in hul eie land, wat ook die land van hul voorgeslagte vir byna 400 jaar was. So verloor hulle hul deelgenootskap aan die groter Suid-Afrikaanse gemeenskap. Hierdie toedrag van sake word deur gewetenloses vir politieke doeleindes uitgebuit.