Opwinding toe gedenktrek-“waens” riviere tussen Oos-Kaap en Vrystaat oorsteek

Na ’n redelik moeisame tog oor die Winterbergreeks tussen Post Retief en Aliwal-Noord het die viertrek-gedenktrekgroep gister (Donderdag, 19 September) die twee groot riviere tussen Oos-Kaapland en die Vrystaat oorgesteek.

Die groep, bestaande uit 34 mense, het Dinsdag van Post Retief naby Fort Beaufort in Oos-Kaapland vertrek om die roete van die trekleier Piet Retief te volg as deel van die 175ste herdenking van die Groot Trek wat vanaf 1835 tot 1838 plaasgevind het.

Net buite Aliwal-Noord het die “trekleier” Gerhard Groenewald die Garieprivier – destyds bekend as die Grootrivier – in sy aangepaste Toyota Hilux (met doelgerigte veldry-bybehore van 4×4 Megaworld) aangepak.

In laestrek-vierwieldryf het die moderne “ossewa” al sy perdekrag gebruik om met malende wiele en Wrangler-bande deur die waterstroom van sandbank na sandbank te stoom. Sy eerste poging was suksesvol en die bakkie het die oorkantste wal bereik, maar ’n tweede probeerslag (vir die TV-kameras) het sy tol geëis.

Digby die oorkantste bank het ’n diep gat onder water die bakkie se desperate momentum gestuit, en dit het vasgeval. Toue is gekoppel aan ‘n tweede voertuig om die Hilux uit sy sandtronk te pluk. Met die voertuig veilig herwin, is die tog deur die Vrystaatse vlaktes hervat.

Die volgende uitdaging was om die Caledon-rivier te kruis, en hoewel die 4×4’s dramaties, dog veilig deur die rivier geplas het, moes die swaargelaaide voertuie se Goodyear-bande afgeblaas word om die steil wal van los sand aan die oorkant te takel.

Die 4×4’s het die wal met grommende enjins teen piek toere bestorm. Sand het in alle rigtings getrek terwyl die voertuie die steil helling klim, en danksy modern tegnologie, soos ewenaarslotte, kon hulle hierdie versperring oorwin.

Van daar het die konvooi van agt viertrekkers oor Smithfield koers gekry rigting Bloemfontein, waar die groep deur ’n hewige stofstorm begroet is toe hulle by Maselspoort, hul oornag-bestemming, indraai.

“Die oorsteek van die Gariep- en Caledon-riviere het weer gewys watter uitdagings Retief en die ander trekpartye destyds in die gesig gestaar het,” het Groenewald gesê.

“As dit selfs met die modernste voertuigtegnologie so moeilik is om deur die riviere te kom, is dit eintlik ongelooflik dat die oertrekkers hierdie uitdaging oorkom het. Waar dit ons net ’n paar ure gevat het, het dit hulle dae en selfs weke gekos het om stuk-stuk hul waens, gesinne en vee oor te karwei.”

Volgens dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die Federasie van Afrikaner-Kultuurverenigings (FAK) onder wie se vaandel die gedenktrek vir die Groot Trek 175 jaar gelede plaasvind, was die trekgroepe ná die oorsteek van die groot riviere uitgeput en moeg van trek.

“Noudat ons weer ervaar het hoeveel krag, energie en deursettingsvermoë dit moes gekos het om tot hier te kom, is dit verstaanbaar waarom hulle hier vir sowat tien maande vertoef het. Dit was ook in dié tyd dat Retief hom by hulle aangesluit en sy leierskap-stempel afgedruk het,” het Langner gesê.

Die trekgroep besoek vandag Marokashoek naby Thaba Nchu en die sendingkerk aldaar en woon vanmiddag die amptelike eeufeesviering van die Vrouemonument in Bloemfontein by. Môre vertrek die gedenktrek na Vegkop.

Die trek word gesteun deur verskaffers soos 4×4 Megaworld (kampeer- en ander 4×4-toerusting), Goodyear (bande, asook steun van sy Hi-Q handelaars landswyd) Jurgens (veldwaens) en National Luna (beligting en yskaste).

Die gedenktrek sal later as dokumentêre program op kykNET uitgesaai word. Die tog kan op verskeie webwerwe en aanlyn-platforms gevolg word, onder meer op die FAK se webtuiste www.fak.org.za, Klipbokkop 4×4 se webtuiste www.klipbokkop.co.za, asook op

verskeie media-netwerke en -publikasies se webtuistes, onder meer www.kyknet.co.za, www.weg.co.za, www.wegry.co.za en www.leisurewheels.co.za.

Vir hoëresolusie-foto’s van die Trek, besoek www.klipbokkop.co.za/latest-events/groottrek.html.  Volg die toer ook op Twitter by #groottrek175. Vir meer inligting oor die gedenktrek, kontak vir Gerhard Groenewald by info@kbkm.co.za of tel. 082 4116998.