Ruvé van Rooyen – Gr. 11, Welkom-Gimnasium (Volksblad Briewe, 2 Oktober 2013)
Wat ’n voorreg was dit om die afgelope twee weke in viertrek-voertuie die voetspore van baanbrekers te volg. Voortrekkerspore is baie groot spore om na te volg en ek was bevoorreg om as ’n moderne Voortrekker aan die FAK se 175ste herdenking van die Groot Trek te kon deelneem.
As jy nie weet waar jy vandaan kom nie, kan jy nie weet waarheen jy op pad is nie. Dit is waarom dit vir ons jong Voortrekkers belangrik is om ons erfenis te verstaan.
Ek kan nie aan ’n beter viering van Erfenismaand dink nie.
Die Groot Trek was ’n ontworteling en agterlaat van dit wat vir ons voormense belangrik en kosbaar was. Die grootste dryfkrag was hul behoefte aan ’n plek waar hulle vry, veilig en voorspoedig kon wees. Dit was ook heuglik om self geskiedenis te maak.
Vir die eerste keer ná die Groot Trek, is in die oorspronklike wa-spore oor die Winterberge getrek. Plek-plek rig ons monumentjies op en teken die GPS-koördinate op sodat enigeen die roete kan volg.
As ’n jong Voortrekker glo ek dit is ’n voortrek wat geen einde kry nie.
Deur die land van son en wind sal die wa-spore altyd lê. Vandag nog leef ons in balans met die plek- en trekmotief. Ons koester ons plekke, maar terselfdertyd trek ons na die toekoms.
Dit is hoe ons generasie jong Afrikaners vooruitgang wil bewerkstellig.
Die Groot Trek-storie en die hedendaagse Voortrekkers is beslis nie oudmodies nie! Die Trekkers se bydrae strek verder as hul leeftyd.
Dit is amper onmoontlik om te dink 175 jaar gelede was daar amper niks. Deur uitnemende, innoverende en toonaangewende prestasies het hulle vir ons ’n toekoms geskep. Hulle het grense verskuif en rigting aangewys.
Die doel van die Groot Trek was nie bloot agter geluk aan nie, maar om produktief en bruikbaar te wees, saak te maak en seker te maak dat hul lewe ’n verskil maak.
Dit inspireer my, as ’n Voortrekker, om vandag ’n eietydse pionier te wees.
Die Groot Trek 175 was beslis ’n hoogtepunt in my 17 jaar en ek sal dit nooit vergeet nie. Ek het wonderlike mense ontmoet en geen pad is lank in sulke goeie geselskap nie. Die les wat ek geleer het, wat my verder op my lewenspad sal lei, is dat geluk ’n manier van reis en nie ’n bestemming is nie.
Die lewe is ook soms ’n opdraande stryd. Soms verloor jy. Soms voel elke tree en elke beweging verlore en rigtingloos. Dan moet jy vergeet van die beloofde bestemming, stop en die uitsig geniet.
Ek het besef dat ’n reisverhaal soos hierdie jou lewe verryk.