Pieter Steyn (Volksblad 1 Oktober 2013)
OP Bloedrivier, ’n Afrikanerheiligdom, bou Hendrik Melk, Donnovin Stanley, oom Gerhard Groenewald en Kobus van der Merwe ’n monument.
Hendrik het Sotho-bloed in sy are, Donnovin Khoi-bloed en oom Gerhard en Kobus Afrikanerbloed.
Hendrik en Donnovin staan by toe die Gelofte verlede week weer afgelê word – dié keer vir die televisiekameras.
Dit was ’n voorreg om die FAK se Viertrek-gedenktrek 175 jaar ná die Groot Trek mee te maak. Dit was ’n grootse ervaring, ’n betekenisvolle belewenis.
Op dié tog het die ware Afrikaners na vore getree, nie die verkramptes wat al ewig fout vind, soos dr. Ronnie van der Merwe van die “Geloftevolk-koördineringskomitee“ verlede week in ’n Volksblad-brief nie.
Ook nie die politiek-korrektes wat dink om jou geskiedenis en voorgeslagte te vier maak van jou ’n verkrampte rassis nie.
Op die Viertrek-trek was nuwerwetse grootkaliber-Afrikaners wat jou telkens verstom laat staan het met innoverende denke, kritiese beskouing en trots op hul herkoms. Op Vegkop, waar dramaties en aangrypend ’n kampvuur aangesteek is, word gevra wat ’n hedendaagse Afrikaner is. Met die stereotipiese beeld van die Afrikaner wat Ronnie van der Merwe en ander nie-denkende “Afrikaners” die wêreld in stuur, kan ek, en baie van my mede- “Trekkers”, onsself nie mee vereenselwig nie.
Om die kampvuur sê ek vir prof. Danie Goosen, FAK-voorsitter: “Ek kan my Afrikaner-wees nie ontken nie. Ek wil ook nie, maar ek sal rondborstig moet erken ek is ’n swak Afrikaner.”
Met sy antwoord laat Goosen dié 30-jarige swak Afrikanerhart jubel.
“Afrikaners kan nie in ’n boks geplaas word nie.” Ná die amptelike gesprek staan ons weer en gesels in die snerpende koue. Goosen pleit by ons, die media, om by te dra om dié stereotipes af te breek.
’n Soort van “ons is nie almal so nie”-boodskap oor te dra.
“Inteendeel,” sê hy, “dis die minderheid wat verkramp en politiek-korrek is.”
Wanneer Van der Merwe skryf “vroeëre geskiedskrywers het die Voortrekkers se kultuurbehoud toegeskryf aan hul diep godsdienstige oortuiging dat vermenging met ander kulture onskriftuurlik is. Hierdie beskouing was die fondament dat daar vandag hoegenaamd ’n Afrikaner- en Boerevolk bestaan”, wil ek my tas pak en soos Max du Preez bedank as Afrikaner. Weet Van der Merwe dat Outa Flink die Trekkers gehelp het om die Geloftekerk in Pietermaritzburg te bou? Dat hy saam met die Trekkers op Wasbank die Gelofte die eerste keer afgelê het en nog agt keer daarna, tot voor die slag van Bloedrivier? Oor die Gelofte self en gebede voor veldslae, spreek ek my nie hier uit nie, maar Outa Flink was nie wit nie.
Op Vegkop vra ek vir Goosen of ons nie die remskoene kan rehabiliteer nie.
Ek het in ’n regse Afrikanerhuis grootgeword. Ek het meer KP-pamflette uitgedeel as Kersvader geskenke. My pa was eens trots HNP. ’n Jaar of wat gelede bel ek hom om te vertel ek is op pad na ’n HNP-vergadering om verslag te doen daaroor.
“My kind,” sê hy. “Staan op in die vergadering en sê, jou pa, ’n oud-card carrying member van die HNP, sê: ‘ ’n Klavier het wit én swart note. Jy kan nie net op die wit, of nét op die swart speel nie. Vir mooi musiek, moet jy op albei speel.’ ”
My pa is gerehabiliteer. Hy is steeds ’n Afrikaner. Steeds gaande oor ons kulturele erfenis.
As hý dit kon doen, waarom nie die handjievol wat soms Afrikaner-wees vir my bederf, ook nie?
Die Afrikaners van vandag is innoverend, briljant, dapper en wíl “met ander kulture vermeng” want dit verryk Afrikaner-wees. En dis lekker.
• Pieter Steyn was Volksblad se verslaggewer op die Viertrek-gedenktrek.