Na die suksesvolle publikasie van die FAK Sangbundel Vol II in 2012, het die FAK die Afrikaanse Liedjietuin ontwikkel om erkenning te gee aan persone wat Afrikaanse musiek ontwikkel het tot wêreldklasgehalte. Bekende Afrikaanse liedjies word vir FASE 1 op granietplate verewig. Die liedjies is ’n kombinasie van immergroen-liedjies soos “Suikerbossie” tot moderne lekkersing, Afrikaanse treffers soos “Pampoen”.
Die kern van die liedjietuin bestaan uit ’n roostuin wat met ondersteuning van Ludwig’s Roses uitgelê is. Dit is hoofsaaklik naamrose van Afrikaanse kunstenaars wat aangeplant is, soos Christa Steyn, Rina Hugo, Mimi Coertse, Steve Hofmeyr en andere – altesaam 165.
Die amptelike opening het op Donderdag 10 Oktober 2013 plaasgevind.
Liewe Heksie het seremonieel namens Verna Vels ’n toekenning vir Besondere Kultuurdiens aan die Afrikaanse kind ontvang. Die werklike toekenning word op 1 November, tydens die FAK se Prestige-aand aan Verna oorhandig.
Van die gaste wat by die opening was, is onder andere Mimi Coertse, Rina Hugo, Johan van Rensburg, Anneli van Rooyen, Lance James en Karla du Plessis.
Afrikaanse sangers/liedjieskrywers wat oorlede is en vereer word in die tuin, is Janita Claassen, Cora Marie, Rudi Neitz, Deon van der Walt, Christa Steyn, Louis van Rensburg, Bles Bridges, Lucas Maree, Koos du Plessis, Gé Korsten, Gert Potgieter en Johannes Kerkorrel.
Vir verdere inligting en navrae oor die huur van die FAK Afrikaanse Liedjietuin vir klein groepies, kontak vir Samantha by 012 301 1777 of samantha@fak.org.za