1838 Was het hoogtepunt van de “groot trek”, de uittocht van boeren uit de kaapkolonie. Vele boerenfamilies laadden hun bezit op huifkarren die voortgetrokken werden door ossen (de zogenaamde “ossewaens”)  en vertrokken met onbekende bestemming, weg van het Britse koloniale bestuur. Deze “voortrekkers” waren de stichters van de Boerenrepublieken waarvan Transvaal en de Oranje Vrijstaat de grootste zijn. Dit ging niet zonder slag of stoot: buiten de strijd die met de elementen geleverd moest worden zoals kou, droogte, ondoordringbare gebergten en wilde dieren, werden er ook oorlogen gevoerd met andere bevolkingsgroepen.

In 2013 is op verschillende manieren aandacht besteed aan de 175-jarige herdenking van de “groot trek”.  Zo is de reeds bestaande uitgebreide literatuur over de “groot trek” aangevuld. Een van de publicaties daarover is The Great Trek uncut, Escape from British Rule: The Boer Exodus from the Cape Colony 1836. Robin Binckes, die onder andere betrokken was bij de ontwikkeling van “Freedom Park”, heeft in zijn boek de “groot trek” geportretteerd in de context van een onpartijdig Zuid-Afrika.

Boek lewer breë blik op Groot Trek

deur Eugene Brink

Soms is dit goed om boeke te resenseer oor onderwerpe waarvan jy hou, maar waaroor jy nie noodwendig ’n absolute kenner is nie. As hoofsaaklik politieke wetenskaplike met ’n lewenslange belangstelling die geskiedenis, kon ek dus The Great Trek Uncut deur Robin Binckes lees en sonder ’n gekibbel oor allerhande feite ’n algemene oordeel daaroor fel. Dit handel oor die Groot Trek, maar bevat heelwat meer en word uitstekend gekontekstualiseer.

Om die boek te beoordeel, moet Binckes se motief vir die skryf van die boek eerstens beoordeel word. Hy erken self dat hy die boek geskryf het omrede die Groot Trek volgens hom nog altyd vanuit ’n Afrikanerperspektief uitgebeeld word. Hy wil dus hierdie wys dat hierdie grootse gebeurtenis nie slegs ’n blywende impak op Afrikaners gelaat het nie, maar ook op swart, bruin en ander blanke Suid-Afrikaners in die land. Na my mening het hy ’n ewewigtige weergawe van sowat 400 jaar se geskiedenis vertel en die sondes, skandes en heldedade verantwoordelik uitgelig. Die boek begin dus nie dadelik met die Groot Trek nie, maar dokumenteer die geskiedenis vanaf die eerste Portugese aankomelinge in die Kaap in die laat 1400’s tot omstreeks 1851.

Eerstens moet vermeld word dat hierdie boek uitmuntend en deeglik nagevors is. Die detail van elke veldslag en gebeurtenis word in fyn detail en nuanses vertel en die noukeurige beskrywing van die persoonlikhede van prominente mense, soos die onderskeie Trekker-leiers, plaas die destydse gebeure in interessante perspektief. Die boek bevat ook heelwat politieke waarnemings en die hedendaagse implikasies van historiese gebeure tree soms subtiel, soms duidelik na vore. Om egter in ’n boekresensie die detail van bepaalde gebeurtenisse noukeurig te behandel, is myns insiens onnodig. Daarvoor moet die leser van hierdie resensie eerder self die boek lees, daardeur geprikkel word en die inligting bepeins. Ek sal myself eerder beperk tot ’n paar opsommende aantekeninge, veral vanuit ’n Afrikaanse hoek, aangesien baie van die detail oorbekend is.

Diegene, swart én wit, met ’n uiters sensitiewe ingesteldheid oor hul mense se geskiedenis moet eerder nie hierdie boek optel nie. Dit sal beslis skok en die donker kant van ons almal se voorsate in ’n lig stel wat sommige sal ontstel. Piet Retief word onder meer uitgebeeld as ’n gewetenlose swendelaar wat brouwerk gepleeg het met die konstruksie van barakke in Grahamstad. Jan van Riebeeck word insgelyks beskryf as ’n misdadiger wat voor sy skeepsreis na die Kaap diep in die pekel was in Nederland oor onwettige handel terwyl die blankes in die Kaap hul slawe onnodig hardvogtig behandel het. Diegene wat egter hierdie foute in perspektief kan stel en aanvaar, steeds die heldedade (en daar is menigte in hierdie boek vervat!) kan en wil vier, en ’n voorliefde vir geskiedenis het, sal egter lekker lees daaraan en heelwat wyser wees omdat hulle dit gedoen het. Hulle sal verstaan hoekom sekere besluite geneem is, hoekom sekere mense op spesifieke maniere opgetree het en hoekom sekere groepe ontwikkel het soos hulle het. Niemand word lof of kritiek gespaar in hierdie boek nie. Soos die titel aandui is hierdie boek ongeredigeerd en dit is myns insiens hoe dit hoort.

Diegene wat hierdie boek lees, sal besef ons bly in veel veiliger tye as tydens die Groot Trek of in die periode wat dit voorafgegaan het. Trouens, baie van die destydse tendense manifesteer steeds vandag en juis hieroor wil ek verder uitwei. Binckes het sekerlik te grafies en eensydig met die gewelddadigheid van daardie epog omgegaan deur die leeue-aandeel van die boek aan die konflik tussen veral die onderskeie rasse te wy (nog ’n rede hoekom dit nie aan te bevel is vir sensitiewe lesers nie!), maar my eie leeswerk uit ander bronne bevestig die gevare vir veral die trekboere in die Kaap-kolonie. Ná die Britse anneksasie van die Kaap, het die trekboere se probleme heelwat erger geraak met die afdwing van Engels as amptelike taal, Protestantisme wat onder druk gekom het, die vrystel van slawe en die verdringing van ’n vroeë Afrikaanse kultuur deur ’n meer dominante Engelse leefwêreld. As Binckes se inligting korrek is, kan dit selfs vir die mees verbeeldingryke persoon moeilik wees om in te dink dat dit die trekboere nog vir hulself in 1835 ’n toekoms in die Kaap-kolonie gesien het.

Dit is juis om hierdie rede dat hulle besluit het om een stel probleme (Engelse anneksasie en geweld aan die grens van die kolonie) vir ’n ander (’n onbekende binneland vol gevare) te verruil. Binckes se boek verduidelik in heldere detail wat hulle als daar teëgekom het en wat hulle als moes trotseer om uiteindelik ’n mate van vryheid te bekom. Retief en sy manskappe is deur Dingaan vermoor, die Voortrekkers is deur wilde diere aangeval en soms gedood, en hulle is strykdeur deur die swart stamme, vernaam die Zoeloes, op die mees wreedaardige maniere aangeval en vermoor. Daarenteen het hulle ook vrede en vriende met die swart stamme gemaak, doelmatige en selfsugtige vennootskappe aangegaan en Christenskap versprei. Geen indiwidu kon in sulke omstandighede alleen oorleef nie en veral die Voortrekkers, ongeag hul berugte meningsverskille, is geen ander keuse gelaat as om te laer te trek en hulself te verdedig nie. Klink hierdie vroeë vorm van nasionalisme bekend?

Ander hooftemas in die boek is dat waaksaamheid die prys van vryheid is en dat nederlae altyd die keersy van sukses is. Die boek toon aan dat nadat die Voortrekkers die sege by Bloedrivier behaal het, is die Union Jack in Durban gehys om Natal Britse besit te verklaar. Terwyl een vyand uitoorlê is, het ’n ander een dus weer kop uitgesteek om ’n nuwe strategie te verg en so is dit ook vandag. Die Voortrekkers het nie die luukse van oorgerustheid gehad nie en nes toe, het Afrikaners rede tot kommer oor ’n reeks probleme en moet hulle nie terugsit en wag vir oplossings nie. Hierdie boek wys hul pioniersgees het al heelwat meer te bowe gekom en dat vandag se probleme nie uniek of onoorkomlik is nie. Daarvoor was daar ontsaglike moed en durf nodig en die Voortrekkers het daardie toets met vlieënde vaandels geslaag. Hulle het egter ook besluit om tot ’n groot mate verder in die gevare in te trek en nie op skepe na Nederland of Frankryk terug te keer nie. Hierdie boek bewys net weer dat as dit nie vir die Voortrekkers was nie, sou Suid-Afrika nie vandag in sy huidige formaat bestaan het nie. Hul inisiatief om die wildernis te verken en nuwe gebiede te vestig, het die weg gebaan vir ander om in hul voetspore te volg en vandag se Suid-Afrikaanse republiek om tot stand te kom.

Laastens wil ek juis die kontinuïteit tussen die verlede en hede, asook die veranderinge, in hierdie boek aandui. Suid-Afrika se diverse bevolking was nog nooit so versoen soos nou nie en daarom is daar heelwat op hierdie gebied om op trots te wees. In die 19de Eeu het swart en wit mekaar uitgemoor sonder om te blik of te bloos. Hoewel daar steeds reuse-vooroordele is om te oorkom en geweldsmisdaad ’n betreklik groot deel van ons sosiale samestelling is, aanvaar meeste Suid-Afrikaners mekaar vandag as permanente dele van die land. Dit was beslis nie die geval tydens die Groot Trek nie. Hierin lê ook ’n groot, dog paradoksale, kontinuïteit: Ons almal het dit tog oorleef. Duisende Zoeloes, Voortrekkers, Xhosas en Britte is in die boek se behandelde tydperk dood weens geweld wat gespruit het uit rassespanning. Steeds is ons almal vandag nog hier. As identiteite sulke beproewinge kan deurstaan en groepe sulke geweld kan oorleef, dan is daar hoop vir almal in Suid-Afrika.

Binckes het myns insiens die Suid-Afrikaanse publiek en ook oorsese lesers ’n groot guns met hierdie boek bewys. Diegene wat dit met ’n oop gemoed benader en selfs net ’n greintjie empatie het met ander se geskiedenis, sal hierdie boek ’n kleinood wees. Menigte swart mense sal vandag hierdie boek kan lees en erken dat die Voortrekkers stief in die Kaap-kolonie behandel is en geen ander keuse as trek gehad het nie. Meeste Afrikaners sal terselfdertyd saamstem dat hul voorsate gelyktydig ongenaakbaar, vrygewig, opportunisties asook bedreig was. Hy het tot ’n groot mate daarin geslaag om elke groep wat deur die Groot Trek geraak is, se geskiedenis te vertel sonder om dit onnodig op te hemel of af te kraak. Hierdie aspek, tesame met al die nuwe en interessante anekdotes en karaktersketse, maak dit vermaaklike leesstof wat ’n deurlugtige bydrae lewer tot ’n beter begrip van die ontstaan en ontwikkeling van Suid-Afrika.

Brink is ’n senior navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Leave a Reply