Op 9 Desember 2013 begin die simboliese Groot Trek vanaf Wasbank, waar die Voortrekkers die eerste keer in volle teenwoordigheid die Gelofte afgelê het.
Alle belangstellende volksgenote sal gedurende die dag op die plaas Blinkwater, van mnr. Jan Labuschagne vergader. Om 17:00 beweeg ons met voertuie na die naby-geleë Wasbankspruit, onthul die marmertablet en doen die herbevestiging van die Gelofte op die plek waar die laer gestaan het.
Op 10 Des sal daar ’n perdekommando, bestaande uit dames en mans, drie waens met Afrikanerosse, fietsryers en verskeie motors die pad aandurf na die volgende oornagplek toe, nl. Biggarsgat, op die plaas van mnr. C.A. Froneman. Daar aangekom, sal daar by die groot dam eers ’n bietjie kleilat gegooi word. Toutrek sal plaasvind, asook ander ontspannings. Die aand sal ’n klein konsert plaasvind waar volksliedjies gesing word, begelei deur die Boeremusiekgulde. Later word afgesluit met aandgodsdiens en herbevestiging van die Gelofte. So sal by elke oornagplek ’n program wees.
Die derde en vierde oorslaappunte sal by Talana Museum (Dundee) en op die plaas van mnr. Frik Vreken wees.
Op 13 Desember trek die laaste skof na Bloedrivier.
Die volgende fasiliteite word voorsien:
1. ’n Waterkar met 1000L water
2. Mobiele toilette
3. Bestellings kan vooraf geplaas word vir vleisbraaipakkies
4. Pap en sous word voorsien vir die aand
5. Warm water word voorsien
6. Beperkte stortfasiliteit, veral vir die dames
7. Vuurmaakhout vir ’n kampvuur
8. Pamflette met volksliedjies
Ter inligting:
1. Indien persone nie die volle toer kan meemaak nie, kan daar wel by enige van die ander oornagpunte ingeskakel word. Reëlings moet net vooraf getref word.
2. Elk sal sorg vir eie slaapgerief (tent/woonwa) en eetgerei. Oggendete is selfversorgend.
3. Persone wat wil deelneem aan die konsert kan vooraf reël en ’n item lewer. U is welkom.
4. Geen besprekings is nodig nie.
5. Volksgenote, kom betaal u Gelofte!
Vir verdere navra, skakel gerus vir Frans Schutte by 083 375 5198 of Boetman Dominy by 083 659 3843.