Louis_Tregardt(Vertaling en aantekeninge deur Jackie Grobler)

Louis Tregardt is die enigste Voortrekker wat van sy trek dagboek gehou het. Dit bevat die binneverhaal van ’n klompie pioniers wat die noordelike Drakensberge na Mosambiek suksesvol met nege ossewaens oorgesteek het. Geen voertuig kon hulle dié prestasie sedertdien nadoen nie. Daarby is die dagboek ook ’n oorspronklike opgaaf van die daaglikse lewe op trek, die praktiese uitdagings, klimaatsomstandighede, omgewing, veetoestande en kontak met ander groepe en individue.

Die dagboek is van die oudste en belangrikste dokumente in die wordingsgeskiedenis van Afrikaans, en nou vir die eerste keer in verstaanbare Afrikaans beskikbaar. Met die medewerking van prof. Christo van Rensburg, ’n taalkundige én Tregardt-kundige, is histories belangrike stelwyses behou. Vir die eerste keer, sê Van Rensburg, verstaan hy Tregardt nou régtig!

Met verklarende aantekeninge deur die historikus Jackie Grobler word die moderne leser moeiteloos ’n verlore wêreld binnegenooi. Daar is ook ’n volledige naamlys van almal op trek, asook diegene met wie die Trekkers in aanraking gekom het.

Tregardt skryf onbeskroomd en pittig oor sy geselskap se swakhede en durf, hul gewoontes, persoonlikhede en streke. Sommige, soos die kwaai weduwee Scheepers, en Tregardt se geliefde Martha, vergeet mens nooit. Die dagboek bevat ook van die oudste en aangrypendste liefdesliteratuur in Afrikaans.

Louis Tregardt se dagboek is ’n menslike verhaal van ’n heroïese en tragiese reis. Dis die storie van gewone mense wat die verste grens oorsteek.

Louis Tregardt se dagboek word uitgegee deur Litera Publikasies en is beskikaar by alle goeie boekhandelaars. Dit kan ook direk bestel word by die verspreiders, On the Dot, tel. no 021 9188810, orders@onthedot.co.za