Verskeie Voortrekkerkommando’s in die Kemptonpark-omgewing het die 175 jaar sedert die Groot Trek Donderdag gevier.
Die geleentheid is deur Impala-kommando op Paul Kruger, oudpresident van die ZAR, se verjaardag, gereël.
’n Klipstapelmonument is tydens die aand op die hoek van Rooibos- en Peperboomstrate, langs Woepel Doepel Kultuurkasteel onthul. Die tydkapsule in die monument sal na 25 jaar by die 200ste viering van die Groot Trek oopgemaak word.
Die monument is gemaak van klippe wat by verskillende skole gekry is. Dit is in ’n driehoekige staalpiramiede gepak om die beginsels van die Voortrekkerbeweging (Afrikanerskap, burgerskap en Christenskap) uit te beeld.
Die tydkapsule met briewe van skoolkinders en laas Donderdag se Kempton Express is in die klipstapel vasgemessel. Rondom dit is van die klippe in die vorm van ’n wawiel gepak.
Die voetspore van ’n moderne “Voortrekkergesin” en die spore van die Frik Swanevelder-gesin se kakebeenwa, ’n replika van Martinus Laas se Voortrekkerwa, is in die sement gemessel. Hierdie kakebeenwa, wat in 1986 herbou is, was die aand by die geleentheid, asook een wat vir jare by Laerskool Triomf gestaan het.
Lede van die Impala-kommando het die vorige dag met die replikawa na Laerskole Impala, Kemptonpark, Edleen, Birchleigh en Oos-Rand Akademie gegaan om meer as 3 500 briewe en klippe vanaf die skole se kinders te kry.
Die onthulling is deur dr. Danie Langner, hoofleier van die Voortrekkers, en Annelie du Plessis, kommandoleier van Impala-Voortrekkers, behartig.
Langner het ook foto’s gewys en meer vertel van sy 4×4-toer op die spore van die Voortrekker, Piet Uys.
Die ATKV se orkes het die musiek verskaf. Daar was onder meer ’n musikant wat betowerende klanke met ’n saag na vore gebring het.