deur Dirk Schellingerhout
Vir lank, en nog steeds is daar min inligting bekend oor die konsentrasiekamp op Stutterheim waar meer as 2000, meestal vroue en kinders van die Vrystaat “aangehou” was en waar daar sowat 10, meestal kinders gesterf en begrawe lê in ’n begraafplasie ten noorde van die ou Kubusi-wolwassery.
Ekself en veel ander het ’n soektog opgesit na die “verlore” begraafplasie wat as konsentrasiekampbegraafplasie deur die Stutterheimse munisipaliteit vir die kamp in 1898 uitgesteek was.
Aanvanklik was net drie name van persone bekend maar later in ’n brief wat ek van die King Williamstown se museum ontvang het, word daar van vyf slagoffers gepraat.
Later nog beweer ’n ander bron dat daar tot 10 kinders, onder andere ’n baba van drie maande begrawe lê.
Na baie e-posse en oproepe is die posisie van die begraafplasie “herondek”, waar ek na ’n persoonlike besoek ’n area van 16 x 24 m effens verhewe oppervlakte aangetref het en waar mens die versinkings van die grafte kon sien. Geen grafstene is ongelukkig op die grafte nie.
Lankal reeds is die bestaande nieshoutpale wat om die area was vir ’n heining, afgesaag en weggedra [gesteel]. Slegs punte van die pale steek bo die grond uit waaraan nog van die draad wat om die area gespan was, vas is asook die ysterpenne van die landmeter.
In sameweking met die Erfenisstigting is die nodige permit en beplanning gedoen en op 4 November 2013 begin die argeoloog, Anton Peltser die oorskotte opgrawe en sal die herbegrafnis op 7 Desember 2013 DV by die Stutterheimse NG kerk plaasvind.
Die onkoste [R13 000] van die opgrawing word deur die Erfenisstigting gedra en dis met groot dank teenoor die hulle en ander instansies dat die projek kan plaasvind.
Die spreker by die geleentheid is prof. Jackie Grobler van Pretoria en genl. Gert Opperman van die Erfenisstigting gaan ook die funksie bywoon.
Slegs een van die slagoffers se familie kon opgespoor word, nl. mnr. Haasbroek van Bethulie, wat moontlik die funksie nie sal kan bywoon nie aangesien hy oud en swak is.
Daar is soveel inwoners en instansies wat hul dienste en hulp gratis aangebied het dat dit mens so dankbaar maak, van ’n plaaslike begrafnisondernemer tot die munisipaliteit wat hul dienste gratis aangebied het en veel meer.
Indien iemand belangstel of die herbegrafnis wil bywoon, kan hulle my kontak by 081 421 2398 / 041 9662662