deur Alet Rademeyer (verskyn in Volksblad, 20 Oktober 2013)

PRETORIA. – Die FAK het sy Afrikaanse liedjietuin bekend gestel wat geskep is om erkenning te gee aan mense wat Afrikaanse musiek tot wêreldgehalte ontwikkel het.

Bekende kunstenaars soos Lance James, Anneli van Rooyen, Rina Hugo en Mimi Coertse was daar.
Die kern van die tuin bestaan uit ’n roostuin met 165 roosbome wat met die steun van Ludwig Taschner van Ludwig’s Rose uitgelê is.

Dit is hoofsaaklik naamrose van Afrikaanse sangers en individue soos Brümilda van Rensburg, Nataniël, Patricia Lewis, Rudi Claase, Sarie Marais, JH Pierneef en Esme Euvrard.

Die nagedagtenis van Afrikaanse sangers en liedjieskrywers soos Janita Claassen, Cora Marie, Christa Steyn, Bles Bridges, Lucas Maree, Gert Potgieter, Gé Korsten en Johannes Kerkorrel word ook op gedenkplate in stil hoekies van die tuin geëer.
’n Lys van Afrikaanse liedjies soos De la Rey, Sarie Marais, Skipskop, Sonneblom uit Bethlehem, Droomvrou, Suikerbossie, Lisa se klavier, Sy is al wat ons het en Stuur groete aan Mannetjies Roux is ook op ’n granietplaat verewig.

Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, het gesê die tuin volg op die suksesvolle uitreiking van die FAK Sangbundel Volume II verlede jaar.

Hy het gesê dié projek sou nie moontlik gewees het sonder die hulp van Sarie Marais, administratiewe beampte by die FAK, nie.

Sy tree einde vanjaar af en ’n spesiale roosboom met haar naam is gister vir haar aangeplant.

“Ons kan vandag tereg vra wat die FAK sonder Sarie Marais is. Dit is nie net ’n liedjie in die sangbundel nie, maar ook die mens wat drome hier laat waar word het.”

Marais het gesê die 13 jaar wat sy by die FAK was, was een groot vreugde en dit was ’n wonderlike omgewing om in te werk.
“Ek het baie planne en wil nog baie dinge doen, soos om my eie onderneming te begin.”

Oor die toekoms van Afrikaans het sy gesê: “Elkeen moet dit met entoesiasme aanpak. Ons moet besef niks sal vir ons gedoen word nie en wat ons gedoen wil hê, moet ons self doen.”

Van Rooyen, wat nie nou sing nie, omdat sy sedert 2007 erge gesigsenupyne het en ’n groot operasie ondergaan het, het gesê daar is nie ’n kort antwoord vir haar gesondheidsprobleme nie.

“Maar ek het hoop en geloof in die Here dat hy dit sal omskep sodat Hy my vorentoe op die een of ander manier kan gebruik.”