deur Alet Rademeyer (verskyn in Volksblad, 3 November 2013)

PRETORIA. – Afrikaners wat diep spore in die sakewêreld, onderwys, uitsaaiwese en kultuurakker getrap het, is eergisteraand in Pretoria deur die FAK vereer.

Prof. Koos Malan, dosent in publieke reg aan die Universiteit van Pretoria, was die gasspreker.

Hy het gesê dit is deesdae vir Afrikaners baie moeiliker as 30 jaar gelede om hul gemeenskap te dien en in belang van hul volk te presteer as toe Afrikaners nog deel van die establishment was en die politieke mag gehad het.

Volgens Malan het min gekom van die Grondwet wat die blink belofte gehad het om almal se belange voorop te stel.

Suid-Afrika het met ’n vervallende staat te kampe en die enigste uitweg nou vir Afrikaners is om na hulself om te sien en hul eie toekoms te skep.

“Dis tyd dat Afrikaners terughark in hul geskiedenis en terugval op die wysheid, onverskrokkenheid, vindingrykheid en kollektiewe vermoë wat hulle nog altyd gehad het om planne te maak.”

Hy het gesê die verval gaan erger raak en Afrikaners sal meer op hulself moet staatmaak. Die aantreklikheid in dié uitdaging is dat as jy presteer vir jou gemeenskap jy kulturele burgerskap opneem. Dit beteken daar is ’n gemeenskap tot wie se voordeel jy ’n rol kan speel en waaruit jy self voordeel kan trek.

“En om meelewende en meedoenende lede van ’n kultuurgemeenskap te wees, bring persoonlike geluk en geleenthede wat aangegryp moet word.”

Individue wat vereer is, is:

• Nico Tromp van Namibië wat onder meer stigterlid van die Namibiese effektebeurs was, hoofbeskermheer van die Voortrekkers daar is en ’n selfhelptrust geskep het vir die bevordering van die Afrikanerkultuur in dié land.
Hy het die toekenning vir uitnemende leierskap gekry.

• Dr. Pierre Edwards, hoof van die Afrikaanse Hoër Seunskool, het die toekenning vir uitnemende onderwys gekry.
Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, het gesê Afrikaanse onderwys speel ’n deurslaggewende rol in die uitdagings in die land.

Hy het gesê onder Edwards het Affies volgehoue prestasies en het hy bewys tradisies en uitnemendheid kan mekaar aanvul.

• Prof. Piet Strauss, voormalige moderator van die NG Kerk en hoofleier van die Voortrekkers, is vir sy bydrae op die gebied van taal, kultuur en geskiedenis vereer.

Hy is geloof vir sy leiding tydens die eerfeesviering van die Vrouemonument en die rol wat hy gespeel het om duisende Voortrekkerkinders te inspireer.

• Heinrich Marnitz, wat deesdae omroeper by Radio Pretoria is, het die H.B. Thom en M.J. Thom-prys vir Afrikaanse joernalistiek gekry.

Volgens Langner het hy in sy eie tyd ’n legende geword wat ’n hele geslag se sportervarings verwoord.

• Verna Vels, omroeper onder wie se leiding karakters soos Liewe Heksie, Kraaines en Wielie Walie ontstaan het, is vir besonderse kultuurprestasie vereer.

Langner het haar bedank vir haar aandeel om ’n liefde vir Afrikaans by geslagte kinders te skep.