Deur Anel du Preez
82 500 HB potlode;
33 000 penne;
396 000 kryte;
8 250 liter verf;
49 500 meter springtou;
16 500 tassies.
En 16 500 glimlaggende gesiggies.
“Dis die meetbare impak wat die Skooltassieprojek oor die afgelope ses jaar gehad het,” sê Anel du Preez, Helpende Hand se projekorganiseerder vir die Skooltassieprojek. “Maar dié projek het sy oorsprong gehad in ’n hart vol vrees.”
In 2007 het Mariana Kriel, Helpende Hand se Gauteng-Noord-streeksorganiseerder, haar seuntjie ingeskryf as ’n graadeentjie. Sy het met ’n skok die nood onder sommige van die ander kinders gesien. Plastieksakke met stompies potlode moes dien as ’n tas vir die groot oomblik wanneer kinders die grootskool betree. Die opgewondenheid van die dag is oorskadu deur die hartseer van ’n kind wat nie soos sy klasmaats ’n skooltas gehad het om met trots uit te pak in die grootskool nie.
“Wanneer ons luister na die mense wat weet, is hulle raad dat ’n mens jou kanse moet aangryp en geleenthede moet raaksien, maar hoe kan ons verwag dat ’n kind die goeie in die lewe moet raaksien en aangryp as hulle nie weet dat hulle eintlik iets beters verdien nie?” sê Anel.
Hierdie kinders word in armoede gebore en die plastieksak as skooltas is nie die enigste ding in hulle lewens wat hulle te bowe sal moet kom nie. Dié goed vorm hulle identiteit en karakter en speel ’n bepalende rol oor hoe hulle die ander streepballe wat die lewe vir hul gaan boul, sal hanteer.
“Hoe kan ons die kinders aan genade alleen oorlaat?” vra sy. “Hoe kan ons toekyk terwyl kinders se drome verpletter word wanneer hulle besef dat my tas eintlik ’n plastieksak is?”
Helpende Hand vat hierdie kinders se hande stewig vas deur op hulle eerste skooldag ’n tassie met die nodige skryfbehoeftes te skenk. Ons skets ’n toekoms wat die moeite werd is, ’n toekoms waar ons kinders hul identiteit kan bepaal sonder die aanslag van armoede.
Dit is ’n toekoms waar ons verantwoordelike burgers kweek; “heroes” wat ’n verskil in ons wêreld gaan maak.
Wees jy vandag ’n Helpende Hand Hero en help ons om ’n verskil te maak.