Heinrich Marnitz is ’n Afrikaanse legende in sy eie tyd. Met byna 50 jaar se ervaring agter die mikrofoon – op radio, televisie, selfs film – is dít hoe Afrikaans klink. Sy afronding, professionaliteit en innemende aanslag dra veel meer as net die inligting wat hy meedeel, dit strek ’n hele kultuur tot eer; dit verteenwoordig waardigheid, entoesiasme, akkuraatheid.
Heinrich begin sy omroepersloopbaan in Nederland en sluit in 1968 aan by die destydse SAUK se Afrikaanse Diens, later RSG. Daar word hy meer as ’n huishoudelike naam of bekende stem onder Afrikaanse luisteraars, hy word ’n huisgas met persoonlikheid in ’n era toe radio dié elektroniese medium in Suid-Afrika was.
Daarom was dit hy wat ook die begin van Afrikaanse televisie aangekondig het met die woorde “Dit is 5 Januarie 1976. Ons heet u welkom by die openingsaand van die volledige televisiediens van die SAUK … ” Hy was dan ook vir anderhalfdekade kontinuïteitsaanbieder vir SAUK TV.
Maar belangriker, sal sommige sê, is dat ’n hele geslag Afrikaners se sportervaring deur hom verklank is, van Gerrie Coetsee wat Michael Dokes in 1983 ’n uitklophou gee en swaargewig bokskampioen van die wêreld word, tot Joel Stranski se deurslaggewende skepskop op Ellispark wat in 1995 aan die Springbokke die William Webb Ellis-trofee besorg en die All Blacks met leë hande huis toe stuur – en wat nog alles tussen-in. Hy ontvang dan ook in 1994 die Staatspresidentstoekenning vir uitnemende sportkommentaar.
Intussen speel hy in films wat ’n geslag kinders vasgenael in hulle teaterstoele laat sit en kyk het, soos Jamie Uys se Dirkie en Franz Marx se En dit was aand en dit was môre.
In 1997 verlaat Heinrich die oënskynlik veilige wêreld van die SABC en betree ’n onsekere toekoms van bemarking en gemeenskapsradio. Vyftien jaar later kyk hy én Afrikaanse luisteraars egter met waardering terug op die waagmoed wat hom op 73 met sy fluweelstem en fyn maniere te meer volksbesit gemaak het en danksy Radio Pretoria steeds in ons huise tuismaak.
Heinrich Marnitz ontvang die H.B. en M.J. Thom Toekenning vir Joernalistiek.