Verna VelsVerna Barbara Robertson Vels is op Reitz gebore en het haar skoolloopbaan daar voltooi. In 1954 behaal sy ’n BA-graad aan die Universiteit van Pretoria met as hoofvakke Afrikaans/Nederlands, Engels en Kunsgeskiedenis.

Verna begin haar loopbaan in die uitsaaiwese by die SAUK in Desember 1954.  Sy toon vroeg reeds belangstelling in kinderprogramme. Vanaf 1963 behartig sy vir etlike jare die vroue-, kinder- en kunsprogramme van die radiodiens in Johannesburg en werk ook in 1968 vir ’n jaar by Radio Nederland Wêreldomroep in Hilversum.

Geskiedenis word in 1973 gemaak toe sy verplaas word na Durban as organiseerder van die Afrikaanse Programdiens in Natal – die eerste vrou wat as SAUK-organiseerder in ’n streek aangestel word.

Terug in Johannesburg word sy in 1974 aangestel by die Suid-Afrikaanse televisiediens as organiseerder van Afrikaanse joernaalprogramme, wat kinder- en jeugprogramme insluit. In die twee jaar voor televisie amptelik op 5 Januarie 1976 op die lug gaan, is Verna aktief betrokke by programvervaardiging, aankope en beplanning. Programme soos Kraaines en Wielie-Walie ontstaan onder haar leiding.

In Februarie 1983 word sy aangestel as programdirekteur van TV1 (Afrikaans) – die hoogste pos wat ’n vrou toe beklee het. Daarna volg verskeie verdere poste. Sy tree in 1993 na ’n loopbaan van byna 39 jaar by die SAUK uit, maar as voorslag regisseur werk sy steeds weekliks by 7de Laan.

Verna se eerste Liewe Heksie-verhale is in 1961 uitgesaai. Later het nog etlike radioreekse oor die geliefde karaktertjies van Blommeland gevolg en het 10 Liewe Heksie-boeke, 52 TV-episodes, 8 plate en etlike CD’s die lig gesien.

Hierbenewens het Verna ander jeugverhale, verwerkings vir radiodramas, asook oorspronklike skryfwerk vir volwasse radioprogramme gedoen.

Sy het talle toekennings van kultuurinstansies ontvang, waarby nou hierdie toekenning van die FAK gevoeg word om spesifiek erkenning te verleen aan haar besondere kultuurdiens aan die Afrikaanse kind. Geslagte kinders het deur haar toedoen ’n liefde vir lees ontwikkel en dra ook die vreugde wat hulle uit die avonture van Liewe Heksie en ander beminde karakters geput het, aan hulle kinders oor.

Verna Vels het as skrywer, radio- en televisiepersoonlikheid, nuwe ruimtes op die Afrikaanse kultuurterrein geskep en kinders se leefwêreld verruim. Dit is ’n eer vir die FAK om haar bydrae op hierdie wyse te huldig.