Die Afrikaanse Ekspo trek vanaf 2014 ’n splinternuwe baadjie aan. Die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) wil nie net aan elke leerder ’n unieke taalervaring bied nie, maar terselfdertyd aan ons jong Afrikaanse sterre die geleentheid bied om erkenning te kry vir hulle spogwerk.

Die FAK Afrikaanse Ekspo word vir skole in Suid-Afrika en Namibië aangebied. Daar is ook ’n internasionale afdeling waar Afrikaanssprekendes van regoor die wêreld kan deelneem. Die FAK het ook opwindende nuwe kategorieë ontwikkel sodat elkeen die kans kan kry om hulle talente in Afrikaans te ontwikkel.

Afdelings waaraan die leerders kan deelneem, is: Afrikaanse geskiedenis, Afrikaanse letterkunde, Afrikaanse toneel en Afrikaanse kommunikasie, met onderskeie kategorieë in elkeen, wat insluit historiese opstelle, dagboekinskrywings, kortverhale, rubrieke, poësie, kortfilms, bemarkingsvideo’s op youtube, nuwe Afrikaanse woorde, Afrikaanse revue en drama en vele meer.

Die tema vir vanjaar is 1914/2014. Die jaar 1914 was nie net belangrik as gevolg van historiese gebeure soos die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog en die Rebellie nie. Dit is ook die jaar waarin Langenhoven die eerste Afrikaanse spelreëls gepubliseer het, wat gelei het tot die ontwikkeling van Afrikaans as ’n hoëfunksieskryftaal.

Ten einde dit vir elke skool en leerder regoor die land moontlik te maak om betyds in te skryf en kostes te bespaar, sal die inskrywings vir die FAK Afrikaanse Ekspo slegs elektronies ingestuur kan word. Die beoordeling sal aanlyn plaasvind. Slegs die groter kunswerke hoef per slakkepos gestuur te word.

Indien u as Afrikaanse, kultuur of geskiedenisonderwyser betrokke wil wees by die beplanning of beoordeling van verskillende kategorieë, is u welkom om my te skakel. Die FAK sal graag u kundigheid by die Afrikaanse Ekspo wil betrek.

Die besonderhede van die kompetisiereëls en kategorieë sal teen middel Februarie gereed wees en aangevra kan word by chrisna@fak.org.za of 012 301 1777. Die instuur van die inskrywings moet Junie-Julie plaasvind, die beoordeling sal in Augustus plaasvind en die wenners in September aangewys word.

Die koste van die inskrywings sal R50 per inskrywing wees.

Ons hoop om elkeen van julle te verwelkom by die FAK Afrikaanse Ekspo.