Wie is ons?
Die Vereniging vir Akademie Reformatoriese Studies is ’n onafhanklike, niewinsgewende organisasie wat hande vat met die privaat sektor en publiek om gehalte Christelike onderwys in Namibië te bevorder. Dit beteken dat ons in samewerking met die gemeenskap gehalte Christelike onderwys bevorder en daarmee saam ons gemeenskap toerus om terug te keer na die beginsels waarop ’n gebalanseerde gemeenskap rus. Hierdie proses van terugkeer na die beginsels kan ook beskryf word as ’n terugkeer na die bronne of te wel die Bybelse beginsels. Die proses staan bekend as reformasie. Vyf veldtogte is geloods en elkeen bestaan uit verskeie projekte om die doel van die vereniging te bereik.
Vars veldtogte
Opskerp – Slyp skerp skoolgemeenskappe vlymskerp
Vars besef dat daar baie uitdagings in skoolgemeenskappe is en dat daar ’n behoefte bestaan om sekere take met groter kundigheid uit te voer. Kundigheid en goed toegeruste skoolgemeenskappe is ook van kardinale belang in die vooruitgang van onderwys. Skole beskik dikwels nie oor die hulpbronne om self aan hulle eiesoortige behoeftes te voorsien nie. Vars wil hierin ’n diens lewer om kenners op verskeie gebiede na die skoolgemeenskappe te bring om hulle op te skerp. Suksesvolle kursusse is reeds aangebied om bestaande onderwysers toe te rus om studieleiding te gee en ook as Christen onderwysers op te tree en klas te gee. Kursusse aan ouers om hulle kinders en onderwysers by te staan in leer en onderrig, kursusse aan direksies en besture van skole om doeltreffende bestuur van skole te bevorder en kursusse aan leerlinge om hulle volle potensiaal te ontgin is ook in die vooruitsig.
Handboeke – Versprei en ontwikkel kwaliteit Christelike leermateriaal
Kundigheid en goed toegeruste skoolgemeenskappe word aangevul met kwaliteit leermateriaal. Vars verskaf kwaliteit Christelike handboeke van Aros (Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies) aan privaat skole, tuisskool-ouers en sommige staatskool-onderwysers in Namibië. In samewerking met Aros berei Vars ook Christelike skoolhandboeke voor vir goedkeuring by die Namibiese Onderwysdepartement vir gebruik in staatskole. Die ontwikkeling van handboeke wat spesifieke behoeftes van Christen Afrikaanse Privaatskole in Namibië aanspreek en die verspreiding van leesboeke en Bybels by privaat en openbare skole om Christelike beginsels te bevorder, is in die vooruitsig.
Kollig – Plaas die kollig op onderwys en onderwystoestande
Vars gebruik “Kollig” om onderwys as professie, maar ook onderwys as ’n krities belangrike segment in gemeenskapsontwikkeling uit te lig. Vriende van Vars ontvang gereeld in die sosiale media nuus, artikels, handige wenke en sêgoed oor kwaliteit Christelike Onderwys. Almal word uitgenooi om by ons Facebook-blad aan te sluit en deel te word van ’n beweging om Christelike onderwys te bevorder. Etlike privaat skoolhoofde is reeds bekendgestel aan kwaliteit Christelike Afrikaanse Onderwys in Suid-Afrika, sodat hulle nog meer innoverend kan optree in Namibië se Christen Afrikaanse Privaat skole opset. Bekendstellings- en bewusmakingsaktiwiteite word gereeld by verskillende kerklike denominasies, onderwyspersoneel, skooldireksies, besigheidsmense en kultuurorganisasies gereël.
Akademie – ’n Privaat Tersiêre Akademie
Om Onderwys werklik diensbaar te wees, moet daar nuwe onderwysers opgelei word en navorsing gedoen word. Vars stel daarom die ontwikkeling van ’n Namibiese B-Ed graad, die volledige akkreditasie van die kursus en registrasie van ’n beoogde Akademie by die gepaste owerheidsinstansies in die vooruitsig. Intussen is begin met die inrigting van ’n Mediateek. Vars ondersteun die onderwyseropleiding van Aros in die RSA wat geakkrediteer en geregistreer is om as Privaat Tersiêre Akademie onderwysers op te lei.
Bekostig – Vars samel in om onderwys “vars” te hou
Vars finansier die verskillende veldtogte deur fondsinsameling en die ondersteuning van die gemeenskap. Vars doen ’n beroep op die publiek om gereelde of maandelikse donasies aan Vars Onderwys te maak om die bestaande projekte uit te brei en die projekte wat nog in die vooruitsig gestel word, te laat realiseer. Die gemeenskap, die man op straat, privaat organisasies en besighede se finansiële ondersteuning is hiervoor nodig.
By Vars glo ons dat ’n voorspoedige land gelowige onderwysers nodig het. Ons nooi almal uit om ons hande te vat en onderwys “Vars” te hou. Kom ons doen dit tot eer van God en ter wille van ons kinders. Onderwys is ons roeping!
Navrae:
Neil Prinsloo
(00264 81) 294 0055
prinsloo@afol.com.na