deur JOHANNA VAN EEDEN
soos verskyn in Volksblad, Maandag, 24 Februarie 2014.
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) het die naweek op die herdenking van 160 jaar van die Vrystaatse Republiek sy nuwe sangbundel aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) in Bloemfontein oorhandig. Hier ontvang Otto Liebenberg (links, kurator van Naln), die bundel van dr. Danie Langner (besturende direkteur van die FAK). Foto: Stef Krüger
Prof. Hermann Giliomee, geskiedeniskenner en skrywer, het Vrydag op ’n FAK-konferensie oor die 160ste bestaansjaar van die Vrystaatse Republiek gesê dié probleme is ’n gebrek aan inkomste, ’n gebrek aan respek vir die wet, buitelandse kragte wat hul eie belange nastreef en die poging om ’n nasionale trots te skep.
Giliomee het gesê dit sou dalk goed gewees het vir die Afrikaner om later jare die republikeinse ideale na te streef, pleks van Afrikaner-nasionalisme, want die republikeinse ideale neem die gemeenskap in geheel in ag. Maar, het Giliomee gesê, dit was pres. M.T. Steyn wat gesê het ’n mens “kan ’n goeie Afrikaner én ’n opregte republikein wees”.
Volgens Giliomee het die idee van konstitusionalisme in die Vrystaatse Republiek ontstaan, “lánk voor Kemptonpark”.
“Almal was gelyk voor die reg, daar was persvryheid en eiendomsreg was beskerm . . . Dit is ’n baie belangrike deel van ons erfenis.”
Tog was dit juis die sterk republikeinse gevoel in die Vrystaat wat uiteindelik tot die ondergang daarvan gelei het, omdat die Vrystaat betrokke geraak het by die oorlog tussen die Transvaal en die Britte. Giliomee het die Anglo-Boereoorlog as ’n “tragiese oorlog” beskryf. Hy het die rol van Steyn uitgesonder wat – hoewel dodelik moeg en siek – die kommando’s aangespoor het.
Volgens Giliomee is dit ook die enigste oorlog wat hy van weet waar vroue hul mans aangemoedig het om aan te hou baklei.
Mosiuoa Lekota, Cope-leier en voormalige premier van die Vrystaat, het gesê dit is jammer dat swart mense se rol in dié oorlog lank ontken is. Lekota het in sy terugblik op die Vrystaatse Republiek gesê wittes het met die stigting daarvan ’n staat gebou wat daar nie was nie – en geboue en strukture. “Baie dankie daarvoor.”
Lekota het die destydse Nasionale Party geloof vir die manier waarop dié party die armblankevraagstuk hanteer het. “Elke blanke kind is in die skool gesit. Binne een geslag is armoede uitgewis.
“Die ergste tragedie is dat hulle swart kinders uitgesluit het. As hulle swart kinders deel daarvan gemaak het . . . Suid-Afrika sou iets anders gewees het.”
Maar, het Lekota gesê, al het die Afrikaner baie geld in blanke kinders belê, was dit steeds ’n belegging in Suid-Afrika se kinders. Die vraag is hoe om armoede vandag uit te wis.
“Ons moet saamwerk. Die ANC het nou ’n leierskap wat geen idee het waar die geheim van ons sukses lê nie. “Dit lê in die Grondwet. In die feit dat almal van ons moet werk en ons ekonomie moet vergroot.” Lekota het gesê vir demokrasie om te oorleef, moet die ANC verslaan word. “’n Bevrydingsbeweging word nie gestig om te regeer nie. Hulle werf nie mense wat die land moet regeer nie.
“’n Bevrydingsbeweging is reg om alles te saboteer. Dan kom hy aan die bewind en die dag daarna wil mense krag, water en infrastruktuur hê.” “As jy nie ingenieurs het wat die vaardighede het om water en reservoirs te bestuur nie, is dit tyd vir ons om jou uit te stem. Ons moenie wag tot 2019 nie.”
Hy het ’n beroep gedoen op mense om later vanjaar te gaan stem. “As jy by die huis bly, is dit ’n stem vir die ANC.”