Die FAK het gedurende Julie 2013 ’n kulturele vennootskap met die organisasie Netwerk in Namibië gesluit. Soos die FAK is Netwerk ’n koördinerende kultuurorganisasie. Die doel van die vennootskap is om die kulturele bande tussen Namibiese en Suid-Afrikaanse Afrikaners te versterk. Die FAK-studiebesoek is ’n uitvloeisel van die vennootskap en het ten doel om Namibiese en Afrikaanse organisasies aan mekaar bekend te stel.
Die doel van die studiebesoek was enersyds om kontak tussen ’n verskeidenheid organisasies te bewerkstellig, maar andersyds ’n breë blik te ontwikkel oor die uitdagings en oplossings van die Afrikaanse taal-, kultuur- en onderwyswêreld in Namibië.
Die program het besoeke aan Netwerk, Afrikaanse media, sakemanne, skole en kontakgeleenthede met verskeie organisasies ingesluit. ’n Hoogtepunt was verseker ’n gespreksgeleentheid en informele kuier saam met die skoolhoofde van die Afrikaanse privaatskole in Namibië.
Dertien persone het die voorreg gehad om hierdie studiebesoek mee te maak. Verskeie organisasies, soos die FAK, Solidariteit, Afriforum, Die Voortrekkers, Akademia en die SAOU, is verteenwoordig. Elkeen kan tereg sê dat dit nie slegs ’n persoonlike verrykende en inspirerende geleentheid was nie, maar ’n belegging in ons organisasie.