Picture2Ons het dr. Jan van der Merwe, die skrywer van die boek Vrystaatse Dorpe genader om die geskiedenis agter die monumentale werk uit te vind.

1) Vertel ons meer van jouself?
Ek het op RAU studeer en ook my doktorsgraad daar verwerf. Ek het begin werk, my diensplig gedoen by die polisie in Soweto en toe is ek myne toe. Ek het ook by Sasol gewerk tot ek op ’n stadium my eie besigheid gehad het en in die Vrystaat opgeëindig het.
2) Wat is die geskiedenis van die Vrystaat Dorpe boek?
Nou hoe ek op die boek gekom het en oor die foto’s? Ek het in die sterwensuur van die Nasionale Party vir hulle gewerk. Ek het fondswerwing gedoen en so deur die klein dorpies gery. Die name van die dorpe het my gefassineer. Waar kom Zastron se naam vandaan? Frankfort? Memel?

Toe het ek dit begin oplees, begin met navorsing en toe my navorsing klaar is, het ek begin skryf. En ek het feitelik klaar geskryf.
Ek en Paul Alberts het die boek saam geskryf, maar toe is Paul oorlede en toe sit ek met ’n krisis, wat nou?
Ek en ’n groep ouens kom elke Woensdag bymekaar, dan skilder ons en drink wyn en chat, en een van die ouens daar is die hoof van die ekonomiese departement en hy stel toe voor dat ons met die foto’s begin. Toe begin ons die foto’s neem en ons toer die hele Vrystaat deur – ry 8000 km basies in ’n kwessie van vier/vyf maande, want jy moet dit oor ’n naweek doen. Ons het toe die foto’s geneem en ek het met die boek begin. Maar ons het as deel van die bemarkingveldtog besluit om hierdie foto-uitstalling te doen.
Ons het toe onderhandel met die Vryfees en hulle het vir ons plek gegee en daarom was eers by die Vryfees. Nou het die Universiteit van Gent se Afrika-departement gevra dit moet soontoe gaan. So ons gaan nou hierdie maand Gent toe met die foto’s.
3) Vertel ons meer van die Vrystaat Dorpe se name?
Daar het vier groot goed met die Vrystaat gebeur:
• Die eerste een was die Groot trek, maar die Vrystaat het GEEN naam oorgehou van die Groot Trek nie. Geen dorp se naam is ooit na die Groot Trek vernoem nie.
• Toe kom die tweede fase en dit was die Vrystaat word ’n republiek en al die Vrystaat se Presidente word vernoem, behalwe twee.
• Na die Republiekwording het die Basoeto-oorlog plaasgevind en drie dorpe word vernoem.
• Daarna was dit die Anglo-Boereoorlog.
Iets wat wyd vernoem is, is predikante, want 75 van die 86 dorpe is deur die NG Kerk begin. Daar’s net twee swart mense vernoem en dis Oppermansgronde en Jagersfontein. Twee dorpies is deur die Dopperkerk begin, Reddersburg en Ventersburg.
4) Waar het jou belangstelling begin? Is dit ’n meer taalgedrewenheid of meer kunsgedrewenheid of is dit net nuuskierigheid?
Geskiedenisgedrewenheid; ek is ’n navorsings”junkie”, nie net ’n skrywer nie. Maar ek het die gawe om goed op te soek tot ek dit kry. So, wat dit ook lekker maak, is dat dit geskiedenis is wat jy nie kan Google nie, jy moet ure en ure insit.
5) Waarmee is jy nou besig?
Doen navorsing oor Noord-Kaapse dorpe.  Ons het die hele Desember en ’n groot deel van Januarie die Noord-Kaap platgery en foto’s geneem.
6) Hoe dink jy gaan die naamsveranderinge ’n impak maak?
As jy my Vrystaatse boek sien, sal jy sien ek spreek die swart munisipale name en die swart woonbuurte se name aan. Wat tragies is, is as jy die navorsing lees, veral oor die kerkafdeling, dan kom jy agter watter mense die Afrikaners was. Hulle sal praat in die sendingsprediking van die lokasie, maar hulle sal nie die lokasie ’n naam gee nie. Ek het in die hele Vrystaat by omtrent net vyf dorpe gekom waar die lokasie ’n naam het.
7) Hoekom is die Afrikanergeskiedenis belangrik vir vandag se jongmens?
Ons het om een of ander obskure rede die ding dat ons nie ons geskiedenis met ander wil deel nie, want ons is bang hulle “waninterpreteer dit” en vervorm dit, maar hoe meer jy dit onder die maatemmer wegsteek, hoe meer gaan dit juis “uitsterf”. Die oomblik as jy jouself isoleer, maak jy jou rug oop om die slaansak te word.

dr. Jan van der Merwe het ook ingestem om hierdie boek op die FAK se webtuiste te laat oplaai en dit kan gevind word deur die volgende skakel te volg:

https://www.fak.org.za/vrystaatse-dorpe/