Waarheen is die ANC op pad met Suid-Afrika?

Ons land brand en die sosiaal-maatskaplike probleme word net al hoe groter. Armoede en werkloosheid is bo-aan die lys.

Hoe moeilik is dit om te verstaan dat ekonomiese groei die enigste wyse is hoe om die probleme van armoede en werkloosheid volhoubaar op te los? Dit beteken die regte ekonomiese beginsels moet op die regte maniere, plekke en tye in werking gestel word.

Die staat (regering) se twee groot take is om eerstens na die veiligheid van die inwoners van die land om te sien en tweedens om deur middel van die beleidsomgewing die regte klimaat te skep waarbinne entrepreneurs met die vertroue dat hul ‘n opbrengs op hul kapitaal sal kry, sal belê. Dit is die vertrekpunt waarsonder daar nie by groei uitgekom sal word nie. Enige rasioneel-denkende mens kan sien hulle misluk in albei hierdie verantwoordelikhede.

Indien ons die laaste tyd gadeslaan welke wetgewing beslag kry, skep dit die indruk dat daar ‘n sterk neiging is om sosialisme te vestig. Indien dit wel die geval is, sal dit die begin van die einde van beleggings wees en sal ons ekonomie die noodwendige negatiewe gevolge dra.

Eiendomsreg2Daar word in Art. 25 van die Grondwet met eiendomsreg gahandel. Let mooi op wat in Art 25(1)(2)(4) gesê word:

1) Niemand mag eiendom ontneem word nie behalwe ingevolge ʼn algemeen geldende regsvoorskrif, en geen regsvoorskrif mag arbitrêre ontneming van eiendom veroorloof nie;
(2) Eiendom mag slegs ingevolge ʼn algemeen geldende regsvoorskrif onteien word:
(a) vir ʼn openbare doel of in die openbare belang;
(b) onderworpe aan vergoeding waarvan die bedrag en die tyd en wyse van betaling óf deur diegene wat geraak word, aanvaar is óf deur ʼn hof bepaal of goedgekeur is;

(4) By die toepassing van hierdie artikel–
(a) beteken die openbare belang ook die nasie se verbintenis tot grondhervorming, en tot hervormings om billike toegang tot al Suid-Afrika se natuurlike hulpbronne te bewerkstellig; en
(b) is eiendom nie tot grond beperk nie

In Art 25 (1) word geen melding word gemaak van enige vergoeding wanneer ontneming van toepassing is nie. Dit is die gaping vir die verkryging van bates sonder om daarvoor te betaal.

Die regering het reeds die regte wat grondeienaars gehad het in water sowel as mineraalregte hul “ontneem” (let wel: nie onteien nie!). Die grondwetlike hof het dan ook beslis dat aangesien die mineraalregte in die Agri SA vs Minister van Minerale en Energie-saak slegs “ontneem” is, hoef daar dus nie vergoeding daarvoor betaal te word nie.

Die regering gebruik dus reeds Art. 25 (1) om bates wat waarde gehad het en verhandelbaar was, aan homself as “voog” kosteloos toe te eien tot nadeel van die eienaar daarvan.

Die ANC-regering se argument is dat hulle nie die eienaar daarvan word nie, maar slegs as “voog namens die mense van Suid-Afrika optree”.

Enige eiendom kan onteien sowel as ontneem word. Eiendom is nie beperk tot grond nie, aldus Art. 25(4) van die Grondwet.

Tot nou toe is daar hoofsaaklik gekonsentreer op grond en grondverwante bates, soos water en minerale. Die klem is duidelik besig om nou te verskuif na ander eiendom as grond.

Die gevolge van “ontneem” en “onteien” is vir die wettige eienaar van ‘n bate een en dieselfde, naamlik die gebruik van die bate is nie meer vir die eienaar beskore nie.

Die voorgestelde Wet op Bevordering en Beskerming van Beleggings wat vir openbare kommentaar ter tafel gelê is teen die einde van 2013 skep ook die moontlikheid dat beleggings en enige ander eiendom wat onder meer roerende en vaste eiendom insluit, deur die staat “ontneem” kan word. Die beginsel van private eienaarskap, wat die grondslag van ekonomiese aktiwiteit is, word dus aangetas.

Dit is dus duidelik dat die Grondwet wat allerweë as goed beskou word, die instrument word waarmee die regering eiendomsreg aantas. Die regering is besig om homself só te posisioneer dat die besluit oor die aanwending van private eiendom al hoe meer in regeringshande gaan lê.

Dit stop egter nie daar nie. Verskeie ander wette is reeds besig om eiendomsreg op een of ander wyse aan te tas en wat die staat in ‘n posisie plaas om dit te reguleer.

Met die toepassing van die restitusie-wetgewing is daar ook groot oneerlikheid, veral teenoor restitusie-eisers. Grondeisers kry in die meeste gevalle slegs die gebruiksreg en nie die titelakte van die grond nie. Dit is dus “dooie kapitaal” waarop persone geplaas word en nie “werkskapitaal” nie en kan derhalwe nie as kollateraal gebruik word ten einde finansiering te kry nie.

Dieselfde geld ook HOP-huise. Die bewoners van hierdie huise word gevange gehou deur die staat se goedgunstigheid en kan nie hul eiendom as ‘n bate tot hul eie voordeel verbeter nie.

Sonder om in detail daarop in te gaan, sluit wette wat eiendomsreg aantas ook onder meer die volgende in: Die Verblyfsregtewet, Huurarbeiderwet, die Konsepwet oor Infrastruktuurontwikkeling, die Eiendomsewaardasiewet, die Onteieningswet, Swart Ekonomiese Bemagtigingswetgewing, ensovoorts.Eiendomsreg3

Suid-Afrika het beleggings as vertrekpunt nodig om sy probleme op te los – buitelandse sowel as binnelandse beleggings. Die vraag wat noodwendig gevra word deur enige persoon wat wil belê, is of die risiko nie nou te groot geraak het nie.

Die geleidelike proses van nasionalisering en die vestiging van sosialisme beïnvloed beleggingsoorwegings negatief. Daarsonder is ons land se ekonomie gedoem tot verskraling. Die enigste slotsom waartoe mens dan kom is die feit dat die ANC se beleidsrigtings nie verder bekostig kan word nie.

Hierdie toedrag van sake verg ‘n ander benadering. Entrepreneurs sal maksimaal hul kundigheid en vermoë moet inspan om kollektief ‘n realistiese beleidsomgewing af te dwing – daarsonder sal niemand belê en niemand verder volhoubaar bemagtig word nie.

Ook herverdeling sal uiteindelik misluk want daar gaan niks meer wees om te “herverdeel” nie. Die sosialis “verdeel” ander mense se eiendom en raak in die moeilikheid as die ander mense se eiendom opraak.

Bron: Die Groot Debat, uit Maroela Media