deur Flip Buys

Die Solidariteit Beweging is gekant daarteen dat die ANC môre ’n verkiesingsvergadering op die terrein van die Voortrekkermonument hou. Die Voortrekkermonument was nog altyd daarop gesteld om nie partypolitieke vergaderings op die terrein toe te laat nie omdat die monument by uitstek ’n kultuurterrein is.

Ons verwelkom dit as ANC-leiers die monument wil besoek omdat dit wedersydse begrip vir en erkenning van mekaar se erfenisse kan bevorder. Daarom het ons verlede jaar adjunkpresident Kgamela Motlanthe se besoek aan die monument ondersteun. Dit is egter duidelik dat wat môre plaasvind, nie ’n besoek is nie maar ’n partypolitieke vergadering wat daartoe kan lei dat die monument verpolitiseer word.

Dit is belangrik dat die ANC as regerende party ook met Afrikaners gesprek voer oor knelpunte wat bestaan. ’n Openbare politieke vergadering is egter nie geskik om so ’n gesprek te voer nie aangesien dit bloot op steunwerwing vir die ANC voor die verkiesing gerig is. Hoewel ons te vinde is vir wedersydse gesprekke oor vraagstukke wat die land en ons as gemeenskap mag raak, is dit nie ons beleid om politieke vergaderings by te woon nie, en kan ons dus nie die vergadering môre bywoon nie.

Ons vind dit ook vreemd dat die ANC juis nou met Afrikaners wil vergader omdat die party se leiers die afgelope ruk baie beleidstandpunte geopper het wat deur talle Afrikaners as vervreemdend ervaar word. Die keuse van die Voortrekkermonumentterrein as vergaderplek is daarom veral onsensitief van die ANC. As beweging respekteer ons die erfenisse wat vir die ANC van groot sentimentele waarde is, en hét en sál ons dit nie oorweeg om vergaderings wat aan sy ondersteuners aanstoot mag gee, daar te hou nie.

Daarom doen ons ’n beroep op die ANC om die Afrikaner se erfenisse met dieselfde respek te behandel en dit nie te betrek by partypolitieke verkiesingsveldtogte nie. Terselfdertyd herhaal ons ons uitnodiging aan mnr. Ramaphosa om die Solidariteit Beweging en die monument ná die verkiesing te besoek om oor sake van wedersydse belang te praat.