deur prof Louis du Plessis, soos verskyn in Beeld, Dinsdag 22 April 2014
Die Afrikaanse gemeenskap krap intens kop oor uitdagings en dilemmas wat voorlê, skryf Louis du Plessis.
‘Ek het groot vertroue in Afrikaners. Hul naam wys hulle beskou hulleself as van Afrika. Ook hul taal ontspring in Afrika. Afrikaners besef nie altyd ten volle watter unieke posisie hulle in Suid-Afrika se geskiedenis beklee nie.”
In hierdie lof van oudpres. Nelson Mandela, toe hy op 15 April 1999 verteenwoordigers van die Afrikanergemeenskap in Pretoria toespreek, lê ook ’n waarskuwing teen onverskilligheid opgesluit.
Die waarheid is dat Mandela gelyk het: Sommige Afrikaners is inderdaad van hul unieke posisie en voortbestaan redelik onbewus. Daarom het die FAK se N.P. van Wyk Louw-sentrum, ná indringende debat, in 2013 Die berge waaroor Afrikaners klim uitgereik.
Uit hierdie besprekingsdokument blyk dit hoe die Afrikaanse gemeenskap saamgestel is, maar ook hoe intens hulle kopkrap oor wat tans die hoofuitdagings en voortspruitende dilemmas is.
Hoeveel praat Afrikaans?
Die 2011-sensus beraam die Suid-Afrikaanse bevolking op min of meer 51 770 000, van wie ongeveer 6 811 000 Afrikaans praat. Hulle vorm dus iets minder as 14% van die bevolking.
Die sensus deel die Afrikaanssprekendes etnies soos volg in: bruin 51% (3 440 000), wit 40% (2 710 000), swart 9% (602 000), en Asiërs minder as 1% (59 000).
Van die Afrikaanssprekendes woon 5% in die Vrystaat en minder as 5% in Noordwes, Mpumalanga, KwaZulu Natal en Limpopo elk.
Waar 21% van Afrikaanssprekendes hulle in Gauteng bevind, woon en werk 61% tans in die drie provinsies van die vorige Kaapland: Die Noord-Kaap 9%, die Oos-Kaap 10% en die Wes-Kaap 42%.
Die berge waaroor Afrikaners klim wys op veral drie breë sienswyses: Dié wat ’n Afrikaanse kultuurgemeenskap sien wat presteer omdat hy sy vermoëns suksesvol konsentreer; dié wat meen Afrikaners kry tans net iets reg as hulle koalisies vorm; en dié wat ’n oorvloed tekens opmerk dat Afrikaanssprekendes wel as individue oorleef, maar dat die Afrikaanse gemeenskap onafwendbaar en stelselmatig in ’n breër Suid-Afrikaanse samelewing geabsorbeer word.
Kom ons loer vlugtig na elkeen.
Konsentrasie
Die waarde van konsentrasie word graag geïllustreer met hoe wyd die Afrikaanse kultuur ondersteun word. Nes die Kaapse Maleierkore gaan Laurika Rauch, Theuns Jordaan en Juanita du Plessis van krag tot krag. Die rieldansers herleef.
Fliekgangers stroom na rolprente soos Roepman, Verraaiers en Die wonderwerker. Naas talle klein kunstefeeste word die groot feeste soos Aardklop in Potchefstroom en die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn oorstroom.
’n Paar honderd, dikwels óngelyksoortige organisasies, van die Afrikaanse Taalraad tot by AfriForum, probeer die energie struktureer.
Naas uitvoerende kunste is daar Afrikaanse koerante en tydskrifte. Op die rekenaars van skrywers en digters, in skryfskole, woordeboekredaksies en vaktydskrifte is Afrikaanse woordkunstenaars so skeppend soos altyd.
Afrikaanse skrywers word nasionaal en internasionaal bekroon, van André P. Brink en Marlene van Niekerk tot by Etienne van Heerden en Deon Meyer, Adam Small en Ingrid Winterbach.
Deesdae bloei veral elektroniese kommunikasie op: Ek luister byvoorbeeld oral na Afrikaanse radiostasies soos RSG en Radio Pretoria op my iPhone, merk iemand op. Saans slaan ek Rietvallei se sauvignon blanc weg saam met 7de Laan en kykNET-besprekings, vertel ’n ander. Elektroniese webwerwe soos LitNet en Maroela Media, selfs Wikipedia en Facebook, slurp my tyd op, protesteer ’n vakansieganger by Keurbooms.
Dié wat fokus op kulturele konsentrasie in die Afrikaanse gemeenskap dra outomaties ’n optimistiese beeld uit.
Koalisie
Binne die tweede sienswyse bevorder Afrikaanssprekendes hul gemeenskapsbelange deur landwyd netwerke van koalisies met lede van ander taalgemeenskappe te vorm. Twee sulke terreine is partypolitiek en onderwys.
In ’n vergelyking van stemdistrikte het meer as 80% Afrikaanssprekende kiesers in 2011 vir die DA gestem. Sodoende het minder as 14% van die bevolking deel geword van ’n koalisie wat 24% van die kiesers verteenwoordig – om reeds ’n provinsie en talle stadsrade te beheer.
Volgens sommige argumente verteenwoordig dié koalisie die Afrikanerbelange egter net gedeeltelik en het die DA, juis om demografiese redes, die afgelope jaar al die rassekaart begin speel teen nie-rassige ekonomiese bemagtiging, teen sekere skole en teen sekere woonbuurte.
Dieselfde dilemma geld onderwys – daardie wisselende koalisies tussen eie vermoëns, bydraes en die rolle van ouers en skoolbeheerrade en nie-Afrikaanse staatsinstellings. Danksy hul konsentrasie in bepaalde laerskole en hoërskole presteer Afrikaanse onderwysers en leerlinge uitsonderlik, met 92% as die gemiddelde matriekslaagsyfer vir Afrikaanse skole.
Maar hoe standhoudend is dié koalisie? Van byna 1 400 enkelmedium- Afrikaanse skole in 1993 is daar tans minder as 700 oor. Is dit dalk ’n onomkeerbare terugtog?
Voorts verteenwoordig die soort koalisies wat histories Afrikaanse universiteite met die staat vorm dikwels egter eerder die geleidelike uitskakeling van Afrikaans.
Onder die faktore wat ’n byna onkeerbare golf van akademiese verengelsing aanhelp, val die aanstelling van eentalig Engelse dosente en die oorstroming van histories Afrikaanse universiteite deur studente wat klasse in Engels verkies.
Assimilasie
Die derde sienswyse fokus op hoe die Suid-Afrikaanse nasie Afrikaanssprekendes assimileer.
Die legio voorbeelde begin gewoonlik met simbole. Hans Strijdomrylaan word Solomon Mahlangurylaan. Op die landkaart word dorps- en stadsname uitgevee en nuwes ingeskryf: Louis Trichardt word Makhado, Nylstroom word Modimolle en Pietersburg word Polokwane.
Voorts dwing die staat se stelsel van raskwotas vir staatsdepartemente, maatskappye en selfs sportspanne, eufemisties beskryf as “wette vir billike indiensneming”, strukturele assimilasie wetlik af.
Volgens die staat se sosiale ingenieurswese mag bruin en wit mense byvoorbeeld elk nie meer as 9% van ’n arbeidsmag, soos in korrektiewe dienste, uitmaak nie. Omdat die kwotastelsel swart mense (black Africans) voortrek, diskrimineer dit regstreeks teen Afrikaanssprekendes, van wie (soos hierbo aangetoon) meer as 90% óf bruin óf wit is.
Die onafwendbaarste assimilasie van ’n taalgemeenskap vind egter minder opvallend plaas – op ekonomiese gebied. Flip Buys, voorsitter van die FAK se federale netwerk, het gelyk: “In ’n hoogs mededingende taalomgewing kan ’n taal net oorleef as hy hom in die werkplek handhaaf.”
Tans draai die 14% Afrikaanssprekendes deurlopend al hoe vaster in landwye verengelsingspraktyke wat die individu laat voortbestaan, maar die taalgemeenskap uitskakel. Dié proses word vergelyk met die absorbering van die Franse Hugenote in die Kaapse samelewing in die 18de eeu; met melk wat in koffie oplos.
Kernvrae
Die feit is: talle Afrikaners worstel dag ná dag, dikwels onbewus, met hierdie subtiele keuses tussen konsentrasie, koalisie en assimilasie. Die uitdaging vir teoretici is om die teenstrydige reekse bevindings te verwerk sonder om, ter wille van gemoedsrus (sielkundiges verwys soms daarna as kognitiewe konsonansie) onwelkome bevindings te onderdruk.
Onder die kernvrae waaroor die N.P. van Wyk Louw-sentrum tans debatteer, is: Aanvaar Afrikaners in Suid-Afrika hulle sal mettertyd geabsorbeer word deur ’n hoofsaaklik nie-Westerse, Engelssprekende meerderheid? Of ontwikkel hulle doelmatig as ’n selfstandige gemeenskap? Selfs as ’n volk wat ’n eie identiteit wil handhaaf?
Van Wyk Louw waarsku tereg: As ’n miljoen Afrikaners ooit ernstig sou meen “dat ons as volk nie nodig is nie, dan is dit klaar”. Dan sal ons binne “ ’n paar eeue” in die sand wegsyfer.