‘Kaap van Slawe’ verander siening van verlede, sê Dr. Dan Roodt

Die Britse slawebedryf het onder Elizabeth I in 1562 begin. Dit het meer as 300 jaar voortgeduur.

Die Britse slawebedryf het onder Elizabeth I in 1562 begin. Dit het meer as 300 jaar voortgeduur.

Kaap van Slawe is by verre die belangrikste geskiedenisboek wat daar oor die afgelope dekade in Afrikaans verskyn het. Dit is die beginpunt van ’n hele nuwe debat oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis en die rol van Engelse daarin. Dat sommige dit graag in die doofpot sal wil steek, spreek vanself. Dit druis teen die polities korrekte weergawe van ons geskiedenis as ‘n verhaal van “Afrikanerboosheid” in. Ons mag egter nie toelaat dat dit gebeur en dat die boek alleenlik vir ’n klein gehoor bestem bly nie. Elkeen behoort dié teks aan te skaf en hom met die feite daarin vertroud te maak, alvorens hy dit aan die groot klok hang.” – DR. DAN ROODT, direkteur van Praag en adjunk-leier van die pas gestigte politieke party Front Nasionaal.

Die opspraakwekkende publikasie van Marthinus van Bart se boek oor die Britse slawegeskiedenis, Kaap van Slawe, mag ons hele siening van die verlede verander. Want, soos die regerende party al male tale sonder tal in die openbaar gesê het, is “geskiedenis ’n terrein van stryd”.

George Orwell het ook gemeen: “Wie die verlede beheer, beheer die toekoms. Wie die hede beheer, beheer die verlede.”

Van Bart bewys dat Brittanje, naas Portugal, die land was wat die meeste voordeel uit die slawehandel getrek het en ook die naasmeeste slawe verhandel het.

Waarom weet ons dit nie? Want die geslepe Britte het bewysstukke en skeepsjoernale uit die argiewe gesteel om hul eie slawegeskiedenis te verdoesel – terwyl die Afrikaner tot vandag toe verantwoordelik gehou word vir Nederland se veel geringer betrokkenheid by slawerny!

In ’n onlangse radio-onderhoud wat met my op SAFM gevoer is, bel ’n Indiër in en verwys na “die Boere se verknogtheid aan gedwonge arbeid”, wat dan kwansuis ook die dryfveer agter apartheid was. Die marxistiese historici wie se woord deesdae in Suid-Afrika wet is, aanvaar dit as ’n gegewe dat slegs Nederlanders aan die Kaap slawe aangehou het en dat die “liberale, mensliewende Britte” die slawebedryf eerste afgeskaf het. Dít alles verteenwoordig infame leuens, want die Britte was allermins liberaal en mensliewend. Hulle het van die ergste gruweldade teenoor slawe gepleeg, selfs lank nadat slawerny sogenaamd “afgeskaf” is.

In die Britse argief (en ook in die boek afgebeeld) is onder meer ’n akwarel van ’n ware gebeurtenis aan boord van ’n Britse skip waarvan die inskripsie in die boek lui: “Aan boord van die slaweskepe is slavinne aan die wellus van die bemanning uitgelewer. Dié akwarel beeld ’n werklike voorval uit toe ’n 15-jarige slavin geweier het om vrywillig aan ’n seksorgie met die bevelvoerder, kaptein Edward Kimber, en sy bemanning op die bodek deel te neem. Sy het haar straf, wat ook wreedaardige verkragting ingesluit het, nie oorleef nie. Toe Kimber op aanklagte van moord en verkragting voor die hof gedaag is, is hy vrygespreek nadat sy advokaat aangevoer het dat die matrose wat teen hom getuig het, griewe jeens dié kaptein gehad het.”

Kaap van Slawe is ’n skokkende boek: Nie net onthul dit die besonderhede van ‘n weggelate deel van die geskiedenis nie, maar ook die wreedheid en verontmensliking wat met slawerny gepaard gegaan het. Britse skepe wat die Kaap aangedoen het, het sonder seremonie die lyke van slawe wat nie die tog oorleef het nie, oorboord gegooi. ’n Britse skip wat in Februarie 1681 aan die Kaap aangekom het, het “byna daagliks die lyke van ses tot sewe slawe oorboord gegooi” (Kaap van Slawe, bl. 78).

Veral in die lig van hedendaagse politieke korrektheid, is ons geneig om slawerny in rasseterme te sien, as blanke slawehandelaars wat in “swart ivoor” handel gedryf het. Daarom is dit soveel te meer ontstellend om te verneem in hoe ’n mate die Engelse hul Ierse broers en dus medeblankes verslaaf het. Juis onder die Protestantse bewind van Oliver Cromwell, is die Katolieke Iere genadeloos vervolg en vele as slawe verkoop.

Marthinus van Bart stel dit so: “Soos sy voorgangers het hy (Cromwell) die Iere verag en hulle genadeloos vervolg en uitgebuit. In 1650 byvoorbeeld, het hy 25 000 Iere laat opruim en as slawe aan die Engelse plantasie-eienaars van St. Kitts in die Karibiese Eilande gelewer. Van 1641 tot 1652 is minstens 300 000 Ierse burgers voor die voet deur die Engelse slawevangers gevange geneem en as slawe na die Amerikas ontvoer. “Gedurende sy terreurbewind oor Ierland is meer as 100 000 Ierse kinders tussen die ouderdomme van 10 en 14 jaar as slawe na die Wes-Indiese Eilande, Virginië en New England ontvoer. Toe die Ierse slawe in 1649 in Barbados gerebelleer het, het die Engelse soldate hulle voor die voet op die gruwelikste wyse gemartel en vermoor. Moord op ’n Ier is nie as ’n misdaad gereken nie.” (Kaap van Slawe, bl. 57)

Terwyl die SA geskiedenisboeke, wat gewoonlik deur Engelse geskryf is, die indruk wek dat Afrikaners reaksionêre slawe-eienaars was en ontevrede was met die “liberale” Kaapse bewind, skets Van Bart die ware prentjie: Die Engelse was skynheilig en het lank nadat slawerny “amptelik” afgeskaf was, steeds met slawe handel gedryf. Kinders is vry algemeen, selfs gedurende die twintigste eeu, as slawe en as gedwonge arbeiders aangehou.

Van 1820 tot 1860 is “minstens 10 000 wees- en ander kinders in Brittanje wat deur die welsyn in kinderhuise geplaas is, na Australië ‘uitgevoer’ onder die voorwendsel dat hulle die wit bevolking van Australië sou aanvul”. By hul aankoms is hierdie kinders egter as slawe verkoop en gebruik. Ook aan die Kaap het die Engelse gedurende die negentiende eeu weeskinders uit Engeland as sogenaamde “indentured apprentices” ingevoer. Vir alle praktiese doeleindes was hierdie kinders slawe wat as goedkoop arbeid in die Kaap gebruik sou word. Dr. John Philip, die bekende “filantroop” wat vandag deur Engelse geskiedskrywers geloof word vir sy (valse) beskuldigings teen Afrikaners in die negentiende eeu, het aan die hoof van hierdie praktyk gestaan. Hy het persoonlik munt uit hierdie stelsel van gedwonge kinderarbeid aan die Kaap en in Australië geslaan. Dit blyk dat die slawerny van blanke Engelssprekende weeskinders ook deel was van die pogings in die negentiende eeu om die Kaapkolonie te verengels.

Dit herinner aan die soortgelyke program van Sargent om Boerekinders in die konsentrasiekampe te verengels deur Engelse onderwyseresse in te voer.

Die Londense koerant The Times het die slawerny wat weeskinders in Australië en aan die Kaap van Engelse “Masters” moes verduur, in 1839 aan die kaak gestel deur na die sogenaamde filantrope as “dealers in British blood” te verwys. Dog nie lank daarna nie het die mislukte aartappeloeste en gepaardgaande hongersnode in Ierland tussen 1840 en 1860 weereens ’n stroom Ierse kinderslawe na die Kaap en Australië verseker.

Soveel minagting het die Engelse aan die Kaap vir die Iere gehad, dat sulke kinders, veral seuns, soos Van Bart in sy boek aantoon, saam met die bruin en swart slawe ingekwartier is: “Dié weeskinders se lot hier ter plaatse was dieselfde as dié van die… CFS én die ‘Prize Negroes’. As ‘Apprentices’ was hulle niks minder as onbetaalde slawe in diens van welgestelde ‘Masters’ nie. As gevolg van die algemene gebruik om die weeskinders, veral die seuns, as minderwaardige mense te bejeën, hulle van die wit gemeenskap af te sonder en hulle by die swart en bruin slawe en arbeiders in te kwartier, is hulle op enkele uitsonderings na deur die swart en bruin arbeidersgemeenskap geassimileer.” (Kaap van Slawe, bl. 146)

Dit word algemeen aanvaar dat Engeland se rykdom in die negentiende eeu aan haar kolonies en Walliese steenkool te danke was. Sommige mense beweer selfs dat steenkool van Brittanje die “Saoedi-Arabië van die negentiende eeu” gemaak het. Marthinus van Bart en die ander skrywers wat hy aanhaal, wil egter aanvoer dat Engeland se rykdom en die uitbouing van die  Britse Ryk met die slawehandel en gratis slawearbeid oor meer as 300 jaar heen geskep is. Daarby moet ’n mens nog voeg die seerowery van die sogenaamde “buccaneers” en “privateers” wat onder Elizabeth I die vrypas ontvang het om ander volkere ter see en op land na hartelus te teister, aan te val en te beroof sodat die Britse adel deur die buit verryk kon word.

Die stereotipe van die “wrede Boer” is in Suid-Afrika deur Engelse historici geskep wat eenvoudig die bedenklike en selfs gruwelike aspekte van hul eie geskiedenis ignoreer om op Afrikanertekortkominge te fokus. Dis waar die “geskiedenis as terrein van stryd” inkom.

Marthinus van Bart lewer met Kaap van Slawe ’n groot bydrae om Suid-Afrika se slawegeskiedenis te sien vir wat dit werklik was: ’n grootliks Engelse bedryf waarvan die dokumentasie deur skynheilige en oneerlike Engelse verdoesel of vernietig is, maar waarvan die feite nie meer verswyg kan word nie. Dit is by verre die belangrikste geskiedenisboek wat daar oor die afgelope dekade in Afrikaans verskyn het. Dit is die beginpunt van ’n hele nuwe debat oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis en die rol van Engelse daarin.

Dat sommige dit graag in die doofpot sal wil steek, spreek vanself. Dit druis teen die politiek-korrekte weergawe van ons geskiedenis as ’n verhaal van “Afrikanerboosheid” in.

Ons mag egter nie toelaat dat dit gebeur en dat die boek alleenlik vir ’n klein gehoor bestem bly nie. Elkeen behoort dié teks aan te skaf en hom met die feite daarin vertroud te maak, alvorens hy dit aan die groot klok hang.

Kaap van Slawe, in hardeband en op glanspapier gedruk, bevat ook vele aantreklike foto’s, skilderye en illustrasies wat dit ‘n kleinood maak om te besit.

Marthinus van Bart is daardie rare verskynsel in ons tyd: ’n Afrikanerintellektueel en -skrywer wat nie daarvan wegskram om die leuen en die halwe waarheid uit te daag nie. Net daarvoor verdien hy al ’n medalje. Dis nou nog afgesien van die reusewerk wat hy as kultuurskrywer en ondersoekende joernalis oor meer as drie dekades by Die Burger en ander Naspers-publikasies gedoen het om ons Afrikanergeskiedenis op te teken en aan die gewone Afrikaner oor te dra. Sedert sy aftrede by Naspers einde 2013, verskyn sy artikels op die FAK se webwerf in die rubriek KultuurKroniek.

* Kaap van Slawe kan van die skrywer bestel word by tel 072 740 5203 of per e-pos:  kultuurkroniek@gmail.com

Hierdie resensie verskyn ook op Dr. Roodt se webblad, Praag, by www.praag.co.za