deur Hannie Boshoff.
Tydens die samestelling van die FAK-Sangbundel Volume II is verskeie Afrikaanse kunstenaars soos Christa Steyn, Lucas Maree en Louis van Rensburg oorlede. Die gedagte is geopper dat daar nêrens ’n plek is waar Afrikaanse kunstenaars onthou word vir die reusebydrae wat hulle lewer ten opsigte van die uitbou en ontwikkeling van Afrikaans nie.
Die behoefte om aan ons Afrikaanse musieklegendes erkenning te gee, het daartoe gelei dat die FAK by hul kantore op die Voortrekkermonumentterrein ’n Afrikaanse liedjietuin uitgelê het. Op 10 Oktober 2013 het die FAK die Afrikaanse liedjietuin aan die publiek bekendgestel. Daar is 165 naamrose van Afrikaanse kunstenaars en liedjies in samewerking met Ludwig’s Roses aangeplant in die tuin met granietplate wat die Afrikaanse liedjies se lirieke ten toon stel. Van die gaste wat by die opening was, is onder andere Mimi Coertse, Rina Hugo, Johan van Rensburg, Anneli van Rooyen, Lance James en Karla du Plessis.
Die FAK kan met trots aankondig dat Chris Chameleon, bekende musiekkunstenaar en akteur die benoeming as nuwe beskermheer van die FAK-Liedjietuin in Maart 2014 aanvaar het.
Chris Chameleon het met sy bekoorlike verhoogpersoonlikheid en sy vier-oktaafstem bekend geraak as ’n musikale fenomeen wat hom verskeie toekennings besorg het. Hierdie toekennings sluit onder andere vyf Suid-Afrikaanse Musiektoekennings (SAMAs), ’n Erepenning van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en dubbel platinum cd’s in. In 2007 het Chris ook die FAK-toekenning vir Besondere Kultuurprestasie ontvang en is vier van sy liedjies in die nuwe FAK-Sangbundel Vol. II opgeneem.
Ons verwelkom hom in ons midde en vertrou dat sy verbintenis met die FAK vir hom verreikend sal wees.
Vir meer inligting skakel
Hannie Boshoff
Kommunikasiebestuurder:
FAK Tel: (012) 301 1777
E-pos: hannie@fak.org.za