sosiale-samehorigheid-320x212Vyftien jaar of wat gelede het ek die voorreg gehad om myself vir vier jaar lank ʼn Puk te noem.

Dit was kort na die 1994-verkiesing, en terme soos “versoening”, “regstellende aksie”, “rassisme” en “voorheen benadeeldes” was deel van elke student se ontluikende politieke woordeskat. Maar ons was maar naïef – ons praktiese uitlewing van dié begrippe was beperk tot vriende maak met die enkele “anderskleurige” studente in die koshuis.

Ek het onlangs die geleentheid gehad om die Puk se jaarlikse Pukki-talentfees by te woon omdat Maroela Media een van die hoofborge van die fees was.

Nou moet ek byvoeg: soos die meeste oud-Pukke soek ek gereeld na geleenthede om in Potchefstroom en op die Puk-kampus ʼn draai te gaan maak. My kinders ken die duikweg, my oud-koshuis en die Calvynfontein en het al met hulle skopfietsies die SS platgery (vir die lesers wat nie oud-Pukke is nie: die SS is die studente se naam vir die studentesentrum en verwys nie na die een of ander Nazi-aktiwiteit nie). Maar om naweke ʼn draai te gaan loop oor die kampus waar ek van die beste tye van my lewe gehad het, gee mens nie insig in hoe die kultuur oor die jare verander het nie. Of, om die term te gebruik wat die NWU se Puk-kampus onlangs weer in die nuus laat beland het: Dit gee mens nie insig in tot watter mate transformasie reeds plaasgevind het nie.

Volgens ʼn verslag wat deur ʼn eksterne ondersoekpaneel saamgestel is en vroeër vrygestel is, het die Puk nog ʼn ver pad om te gaan as dit kom by transformasie op dié kampus van die universiteit. Prof. Dan Kgwadi, die nuwe visekanselier van die universiteit, draai ook geen doekies om nie dat dit een van sy primêre doelwitte is om die transformasieproses op die Puk te versnel.

Terug by die Pukki-talentfees. So halfpad deur die eerste helfte stap ʼn groepie swart manstudente op die verhoog. Puk-Amici, noem hulle hulself. Hulle trek los met Romanz se liedjie “My hele hart” in die mooiste Afrikaans.

Almal huil te lekker. Tot die groot boere-oom langs my wat vir sy dogter se solo kom luister het, ween heerlik saam.

ʼn Rukkie later stel ʼn jong swart student homself voor voordat hy sy item lewer. “Afrikaans is nie my eerste taal nie,” sê hy in Afrikaans sonder ʼn sweempie van ʼn aksent. “Setswana is my eerste taal, en Afrikaans my tweede taal. Maar Afrikaans is die taal waarin ek my graag uitdruk.”

Later in die program, toe hy ʼn prys in ontvangs neem vir sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde, bieg TT Cloete dat hy woordeloos is oor die splinternuwe Cloete-park in Potchefstroom wat na hom vernoem is , maar dat Puk-Amici se liedjie alles gesê het wat hy graag wou sê. En dat hulle optrede die oomblik in die aand se program was wat die emosie hom oorweldig het. Oor Afrikaans so mooi klink uit die mond van dié van wie jy dit nie verwag nie.

Ek sit en kyk na die “transformasie” wat om my gebeur het.

Baie dinge is nog dieselfde. Die Sanlam-ouditorium lyk nog presies dieselfde. Die studente is raserig en maak kliphard onvanpaste grappe op die verkeerde plekke, net soos in my eie studentejare.

Maar baie dinge het verander.

Omdat die kampus hoofsaaklik Afrikaans is, het studente van ander moedertaalgroepe die Afrikaanse kultuur hul eie begin maak, en hulle is met ope arms verwelkom. Die groei het na Afrikaans toe gebeur, en nie weg van Afrikaans af nie – anders as op talle ander kampusse wat ʼn soortgelyke pad gestap het. Uit dié geënte kultuur het iets unieks ontwikkel waarop die Puk met reg trots kan wees. ʼn Kultuur eie aan die Puk. Dis nie ʼn multikulturele kampus nie, dis ʼn kampus met sy eie, besonderse kultuur wat nêrens in ons land ʼn gelyke het nie.

Ek wens dié wat met ʼn akademiese pen in die hand aan die transformasie-verslag gewerk het, kon die pen vir ʼn wyle eenkant toe skuif en ʼn sitplek in die ouditorium inneem tydens die talentfees. Ek wens prof. Kgwadi was in die gehoor, sodat hy kon sien en hoor wat op die Puk gebeur het en aan ‘t gebeur is.

Transformasie is immers die oorgaan van een gedaante na ʼn ander. Integrasie is die saamsmelt van twee gedaantes tot een nuwe vorm, wat eienskappe van albei bevat.

Integrasie is wat op die Puk gebeur het. Om dit te dwing om onnatuurlik te transformeer tot iets wat dit nooit van nature kan wees nie, is ʼn koelbloedige aanslag op ʼn subkultuur binne ʼn groter landskultuur, wat net soveel bestaansreg het soos die kultuur op enige ander moedertaalkampus.

Mag dié wat transformasie op die Puk dryf, ʼn Pukki-talentfees of ʼn groentjiekonsert of ʼn sêr-kompetisie of iets dergeliks in die Sanlam-ouditorium bywoon en terugsit en die kultuur inneem, en tot ander insigte kom. Voor dit te laat is.

Bron: Die Groot Debat, uit Maroela Media