Lindie Strydom (regs) bid saam die mense van Rustenburg

Lindie Strydom (regs) bid saam die mense van Rustenburg

Sonder formele opleiding en kwalifikasie vir gemeenskapswerk moes ek leer hoe om as gewone dissipel, aan die een kant die vraag en behoefte van mense raak te hoor en aan die anderkant God se antwoord te hoor en te luister wat Hý my vra om te doen, om hierdie twee – die vraag en antwoord – bymekaar te kan uitbring.

Dit is maar wat gehoorsaamheid is: om te hoor en te doen. Mense sê gewoonlik, ‘ek wil nie hoor nie’, of ‘ek wil nie sien nie, want dit breek my hart…’. Ek ervaar egter hoe dit juis die raakhoor is wat die kreatiwiteit en dringendheid vir die saak en mense los maak.

Op ‘n afstand…

Só het ek Rustenburg eers op ʼn afstand bekyk. Ek kon nie hier doer ver in Pretoria my kop om die probleem kry nie. Ek was sommer rebels! Hoekom gee ons kos vir mense wat ʼn werk het maar nie wil werk nie? Is onderhandelinge dan nie ʼn aktiewe proses met ʼn dringendheid om dit so spoedig moontlik af te handel sodat mense weer kan werk nie? Wat is so moeilik?

Toe ry ek om self te gaan hoor en sien.

Oor en oor terwyl ek onder die vel van Rustenburg en sy mense probeer kom, het ek syfers, statistieke en nommers gehoor.

Soos mense praat…

ʼn Staking van amper vyf maande lank vir ʼn minimumsalaris van R12 500 raak 1.6 miljoen mense se lewens net in Rustenburg alleen. Vakbonde speel met “syfers” (of is dit mense?) soos R900 wat dan sommer R1 100, R1 350 en R1 800 word. Altesaam 80% van die myners het reeds die aanbod aanvaar en is gretig om terug te gaan werk toe, maar daar is blykbaar so 5% van die oorblywende 20% werkers wat die aanbod weier en nie net self staak nie, maar enigeen wat dit wel waag om te werk, intimideer.

Foto’s wat die dreigemente staaf, word gesirkuleer onder die dorpsburgers en ek verstaan hulle vrees. Ek hou nie telling van dié wat reeds vermoor of kwaai aangerand is nie, maar weet van ses mense wat al selfmoord gepleeg het. Ongeveer 120 besighede, van hulle al 20 of 30 jaar lank deel van die dorp, moes sedert die begin van die jaar weens die staking hulle deure sluit. Meeste winkels se verkope en omset is met minstens 40% af teenoor laas jaar hierdie tyd. Winkelrakke hang tjokkenblok met klere en skoene asof niks beweeg het in die laaste paar maande nie.

Pandjieswinkels aanvaar geen meer goedere nie en die bandeplekke en tandartse is doodstil. Eiendomsagente verkoop een huis in vier maande terwyl gesinne huise deel en ander stad toe trek om by familie heenkome te vind. Een vrou vertel hulle bly nou 13 mense saam in een huis. Twee Graad 11-dogters val flou voor hulle Wiskunde-eksamen: dis Dinsdag, hulle het Vrydag laas geëet.

Ook die hulp word in syfers verwoord…

Hoërskool Grenswag help aanvanklik 50 gesinne met ʼn weeklikse kospakkie. Hierdie hulp het intussen gegroei tot 150 gesinne. Meer as 8 000 toebroodjies word elke week uit die skool se Broodkamer versprei. Bykans 100 organisasies daag op vir ‘n gemeenskapsvergadering om beter saam te werk. Een van die organisasies wat baie nou betrokke is by hulle eie vakbond se lede, is Solidariteit Helpende Hand. Hulle het reeds R1.75 miljoen se hulp aan 1 000 nie-stakende Solidariteit-lede se gesinne geskenk. R200 000 was voedingshulp vir nege skole vir drie maande lank. R30 000 se babadoeke en formulemelk, 100 ton nie-bederfbare kos en 12 ton vars kos is ook reeds versprei. Die hulp stroom steeds in van boere so ver soos Tzaneen, ander myngemeenskappe in Middelburg en skole en kerke uit Pretoria.

Dit word gegee aan mense wat netjies in rye kom staan by een van die verskeie afsetpunte in die dorp met sy lidnommer, ʼn ID-nommer, ʼn selfoonnommer en SMS wat bewys dat hy wel kwalifiseer vir die hulp om sy kospakkie ter waarde van R600 vir sy gesin van 4 vir die volgende 2 weke te kom afhaal. Regmerkie langs jou naam. Volgende een.

Mense is nie nommers nie…

In die twee dae wat ek in Rustenburg spandeer, sien ek lyste en kliniese onderhandelinge ver weg van die mense en selfs die hulpverlening is noodgedwonge klinies om dit veilig en ordelik te doen. Die volumes is só baie, dat die goeddoeners jou skaars in die oë kan kyk. Nie dat die ontvanger regtig kans sien om op hierdie vernederde vlak op te kyk nie. Maar mense is mos nie nommers nie.

Ek het mense gesien. Trotse mense. Honger mense. Onseker mense. Mense wat eintlik voel hulle is oorgelaat aan hulle eie genade en nie mag kla nie, want dis almal se realiteit. Daar is mense wat voel God straf hulle vir iets en ander wat opnuut besef Hy is hulle eintlike grootste behoefte. Ja, daar was ook mense wat lankal swaarkry… soos ou Fort wat ná die motorongeluk nie weer sal kan werk nie, erken dat hy te veel drink en vandag al vier ure lank buite die CMR se kantore sit en wag vir sy pasteie. Ons kon die voorbeeldtoebroodjie uit die skool se Broodbank vir hom aangee.

Dis almal mense met name en kinders en ʼn lewensstorie. Mense wat die winter, net soos ons, aan hulle lyf voel. Wie se kinders ook uit laas jaar se klere gegroei het en nie meer weet wat om te antwoord as sy kind vra ‘wat eet ons vanaand?’ nie.

Hoop tussen die mense…

Maar ek het ook mense soos Susan* ontmoet wat in Januarie self haar werk verloor het en nou by haar kerk help om elke dag die tonne kosskenkings te orden en sorteer. ʼn Taak wat vir haar weer sin en betekenis aan die lewe kom gee het.

Ook Gretha* het haar werk verloor en is nog onseker oor hoe die pad vorentoe sal lyk, maar het nietemin pens en pootjies deel geword van haar maatskappy se insameling al die pad uit Middelburg.

Daar is die planmakerskoolhoof Chris Loubser, wat die mees optimistiese mens is wat ek in ‘n lang tyd ontmoet het. Nie fluffy optimisme nie – hoopvolle positiwiteit! Sy personeel dryf self die omgeeprojekte in die skool, nie die ouers nie. Die kinders en onderwysers het só ʼn vertrouensband en gees van samewerking, dat hulle voor die begin van ʼn dag of selfs voor die bus vertrek na die rugbywedstryd, openlik kan vra wie het geëet en wie nie dat ons gou eers ʼn broodjie uit die Broodbank vir jou reël.

Daar is Gerhard wat vir my die kiekie op sy foon wys van ʼn kind se groot glimlag omdat sy vandag ʼn pakkie Knorr-sop gekry het en moet sluk terwyl hy vertel van die kleuter wat nie wou laat gaan nadat hy ‘n lekkergoedpakkie gekry het nie. Daar is Herman wat met ʼn vreemde deernis vertel van sy kinders se fiets en twee tuinstoele wat gesteel is op sy stoep, maar dat hy amper verstaan hoekom dit gebeur. En daar is Katie wat werk op die dorp en net sê ‘ek is nog oukei, regtig oukei, maar dit gaan baie, baie swaar met die ander’.

Daar is predikante soos Riaan en Pieter wie se kerke nou soos ʼn klein supermark lyk en preekreekse moet aanpas sodat die Goeie Nuus relevant kan wees in hierdie konteks, tyd en plek. Goeie Nuus wat nie lugkastele bou of goedkoop pleisters plak nie, maar geleef word deur mense met regte hande en voete. Daar is Lukas met sy hart vir die tieners en 300 aanneemkinders op sy missie om hulle met liggaam, siel en gees te bedien.

Mense wat bedieninge, ego’s, projekte, planne en strategieë opsy geskuif het en sien hoe hierdie swaarkry maak dat die instelling en gebou van die kerk as ʼn liggaam van Christus begin funksioneer.

Dinge kan nooit “oukei” wees as net ek “oukei” is nie. Mense is nou bereid om te deel en kan selfs saamwerk. Mure word afgebreek en brûe gebou en die alewige voorgee maak plek vir ʼn rouer eerlikheid en meer sigbare weerloosheid. Mense het weer iets van hulle Christelike identiteit van omgee ontdek en hulle geniet dit om dit uit te leef.

Terug by die huis…

Ek leer weereens dat verandering in ons land nie gaan kom deur die regering van die dag nie, maar wel deur diensbare leiers vir wie die saak groter as hulleself of die salaristjek is, en leiers wat kan dien selfs sonder ʼn titel of posisie. Niemand hoef te wag vir ʼn aanstelling nie.

Te midde krisis, maar selfs wanneer die vyeboom bot, bly die “een dag op ʼn slag”-strategie vir my die beste manier om nie die kosbare groei- en gee-geleenthede of die mooi menslikheid of selfs die deurbrake en wonderwerke binne ons geleende tyd te mis nie. Môre bring sy eie moeilikheid en God kan enige doemprofeet se voorspellings oor Rustenburg in elk geval verkeerd bewys. Sy genade en krag en goedheid is elke môre nuut en genoeg vir jou vir vandag.

Ek leer hoe mense, wat met ʼn oorlog- en bywonersmentaliteit leef en selfs in tye van oorvloed sente draai en net dít koop wat hulle regtig nodig het, beter voorbereid is en uitdagings beter hanteer.

Dit gesê, glo ek nie geld is Rustenburg of enige uitdaging of behoefte se antwoord nie. Dit is nie die antwoord of die oplossing nie. Die antwoord lê dalk eerder in onvoorwaardelike omgee in die voorbeeld en voetspore van Jesus, in die eenvoud van vriendskap en verhouding en om in eenvoudige liefde saam te leef…

Daar is nog vele mense en stories en hoop om raak te hoor en te sien in die rus dorp van Rustenburg en nou, as ek aan hulle dink, is daar ʼn gesig en ʼn storie by die naam van hierdie medemense van my.

God nooi ons nie net om te doen nie. Hy nooi ons om saam met Sy kinders te leef. Hy ontmoet ons daar in die plek van swaarkry en Hy verander ons. Hy het my verander tussen die mense van Rustenburg…

Die klankinsetsel is deur GROOTfm 90.5 vervaardig.


http://debat.maroelamedia.co.za/files/2014/06/Leef-saam…die-inwoners-van-Rustenburg-BLOG.mp3

Bron: Die Groot Debat, uit Maroela Media