deur Frederik van Dyk.

Jongmense se stem word te min gehoor oor sake wat hulle raak. Dit het tyd geword dat jy jóú stem dik maak. Die besluite wat ons vandag neem, is immers dit wat die omgewing skep waarbinne jongmense oor ’n klompie jaar van nou af moet floreer. Wat dink jy oor die sing van die Stem – was jy dalk daar en het jy saamgesing? Of uitgestap? Hoe voel jy oor Afrikaans op universiteite – sal jy dalk eerder verkies om in Engels of oorsee te studeer? Het jy ’n sterk mening oor die rol wat Afrikaners in die ekonomie speel, of oor plaasmoorde?

Maroela Media en die FAK bied jou nou ’n platform om jou sê te sê. Skryf vir ons oor enigiets wat jou na aan die hart lê of waaroor jy ’n sterk mening het; verkieslik ’n aktuele aangeleentheid. Die beste bydrae van die week word op ’n Vrydag gepubliseer op Maroela Media se meningsplatform, Die Groot Debat en op die FAK se webblad . Elke week se beste bydrae ontvang ’n geskenkpak ter waarde van R400 van Maroela Media, en boonop sal een van Die Groot Debat se gereelde skrywers, almal prominente Afrikaanse meningsvormers, jóú bydrae lees en persoonlik daarop reageer.

Die beste skrywer van elke maand ontvang ook ’n kontantprys van R500. Bydraes van ongeveer 800 tot 1 000 woorde kan gestuur word aan maroela@maroelamedia.co.za en fak@fak.org.za, met “My standpunt” in die onderwerpveld. Die beste bydraes word ook ingeskryf vir die FAK se Afrikaanse Skole-Ekspo. Trek los en skryf!

Die brief is deur ’n 17-jarige matriekseun, Frederik van Dyk, van Komatipoort, geskryf na aanleiding van “Die Stem”-debat. 

Basson se argumente rondom Steve se Stem tas mis

“Het ons moed opgegee?” deur Adriaan Basson (Beeld, 7 Julie) het betrekking.

Hopelik is my brief die laaste wat die onbenullige geteem rondom die sing deur duisende Afrikaners by vanjaar se Innibos betref.

Die argumente is gehoor: “Die Stem” is ’n onskuldige volksliedjie. Maar dit het apartheidspatsels. Maar dis sonder haatspraak. Maar dis opruiend … en, en, en …

Ons kan vir ewig debatteer oor die morele waarde rondom die sing van die ou volkslied. Ek respekteer redakteur Adriaan Basson se mening dat die lied eerstens nog apartheidskonnotasies het, en hoor ook sy vrese dat die sangers dalk op dié manier hul misnoeë met die reënboognasie te kenne gee. Ek sien egter twee grondige foute in sy argumente.

Eerstens is dit inkorrek om afleidings te maak rondom die motief vir die sing van “Die Stem”: daar was 45 000 Afrikaners en Steve. Hofmeyr het sy verskeie redes wyd bekend gemaak. Die 45 000 ander se rede weet ons nie en kan ons nie opsom nie – daar is geen manier dat hul motief dus as “rassisties”, “behoudend” of selfs “gematig nasionalisties” of enigiets anders bestempel kan word sonder om te veralgemeen en sodoende te diskrimineer nie, aangesien elke individu dalk ander motiverings gehad het om saam te sing! Dit duik op in Basson se argumente, maar selfs meer prominent in dr. Piet Croukamp se ondeurdagte reaksies.

Die belangrikste hier is dat beide Steve en die skare se optrede totaal binne die perke van grondwetlike spraakvryheid val, aangesien daar nie ’n kriesel haatspraak in “Die Stem” is nie – Basson het immers die mooi, vreedsame lirieke met sy artikel gepubliseer.

Laastens en tweedens is dit verstaanbaar dat sommige mense mag aanstoot neem, omdat “Die Stem” die konnotasie van apartheid dra. Ongelukkig dra hierdie argument van Basson geen gewig nie, aangesien hierdie gevoelens bitter subjektief relatief tot die inhoud en betekenis van “Die Stem” is. Selfs al voel die meerderheid van die land die lied dra “baggage”, maar daar is geen haatspraak in nie, mag dit gesing word. Punt. Konnotasies sonder ’n direkte verband met die wese van die simbool kan mos onmoontlik net “verban” word! Dit ruik sommer na anti-demokrasie.

Die argument van Basson klink besonder baie na Cosatu se belaglike vergelyking tussen Bokkaptein Victor Matfield se Kamoefleer-skrumpet en die kepse van die apartheidspolisie …

Daar was moontlik regses wat hatige motiverings gehad het oor die onlangse dilemma. Maar daar was ook duisendes wat net hul grondwetlike regte van spraakvryheid, vryheid tot kultuur van hul keuse en vryheid van assosiasie uitgeleef het. Mnr. Basson, dr. Croukamp en ander: ons hoor julle, maar julle aggressie is misplaas. Hierdie is demokratiese, grondwetlike Suid-Afrika, nié Polities Korrekte Vertrap Diversiteit Suid-Afrika nie. (Ek skaam my eintlik dat ek, ’n 17-jarige lightie, meer demokraties-volwasse as u dink.)