FAK-Leiersgesprek – Tema: Afrikaners in 2015

deur Dawie du Plessis.

Die FAK het op Donderdag, 29 Januarie 2015 sy jaarlikse Leiersgesprek by die Kremetart-raadsaal van Solidariteit gehou. Die geleentheid, wat van 8:30 tot 12:30 geduur het, is deur meer as 90 belangstellendes bygewoon. Die gehoor is deur die loop van die oggend deur drie sprekers toegespreek, te wete doktor Frans Cronjé van die Suid-Afrikaanse Instituut van Rasseaangeleenthede; doktor Dirk Hermann van Solidariteit; en die FAK se voorsitter professor Danie Goosen.

Doktor Cronjé was eerste aan die woord, en sy voorlegging het ’n politieke en ekonomiese oorsig van Suid-Afrika vir 2015 verskaf. Tydens die voorlegging het doktor Cronjé bepaalde eietydse gebeure in die Suid-Afrikaanse politieke milieu verduidelik, waaronder tanende steun vir die ANC in ’n tydperk van ’n groeiende ekonomiese middelklas; die gebrek aan toekomstige ekonomiese groei vanweë die elektrisiteitskrisis; gewelddadige diensleweringsproteste; en die stand van onderwys. Daarby het hy by wyse van die skets van ’n aantal scenario’s die moontlike toekomsverwagtinge van die land tot ongeveer 2024 uiteengesit.

Daarna het doktor Dirk Hermann van Solidariteit ’n uiteensetting gegee van die vakbond se aksie teen die Suid-Afrikaanse regering by die Verenigde Nasies. Ingevolge die International Convention on the Elimination of All Forms of Racial Discrimination, wat deur die Committee on the Elimination of Racial Discrimination (CERD) gemonitor word, hou Solidariteit vol dat die ANC-beleid van Swart Ekonomiese Bemagtiging en Regstellende Aksie die bepalings van hierdie konvensie oortree. Ironies genoeg was die konvensie juis in 1965 beroep om teen Suid-Afrika se rassediskriminasie standpunt in te neem. Alvorens ’n belangegroep soos Solidariteit ’n skaduverslag aan die CERD kon oorhandig, moes die Suid-Afrikaanse regering eers sy eie verslag inhandig, ’n verpligting wat vir 8 jaar versuim is tot Oktober 2014. Doktor Hermann het ’n volledige beplanning tot en met vroeg 2016 gegee, wat die opstel van die dokument, die aanhoor en beoordeling daarvan, sowel as ’n volskaalse bewusmakingsveldtog ter plaatse, insluit.

Professor Danie Goosen was die laaste spreker, en sy toespraak het gehandel oor die noodsaak vir die daarstelling van ’n lewensvatbare, doeltreffende, en volhoubare gemeenskapstrategie vir die Afrikaner. Professor Goosen het pittig opgemerk dat hy nie óór sy nuwe boek gaan praat nie, maar wel úít hom. Die boek, Oor gemeenskap en plek, word binne enige dae deur die FAK gepubliseer. Die noodsaak vir die strategie spruit uit die verskynsel dat die kultuurgemeenskap, selfs die volk, in die moderne, liberale wêreld grootliks ontken word. Waar dit wel erkenning geniet, word dit hoofsaaklik negatief getipeer. Die wêreld word egter veel eerder gekenmerk deur ’n hiper-individualisme, met ekstreme fokus op die individu, sy eie unieke identiteit, en die handhawing van sy persoonlike regte. Professor Goosen ontken egter nie die bestaan van die individu nie, veel eerder kom hy eers werklik tot sy reg binne sy gemeenskap. Dit is op hierdie wyse waar die “Vryheid van selfverwesenliking” setel, deurdat ’n simbiotiese verhouding tussen individu en gemeenskap bestaan. Hier verskaf die gemeenskap die fondament vir die kreatiewe, skeppende en leidende individu, wat op sy beurt weer die gemeenskap dien, inspireer en lei. Verder het hy klem gelê op die belang van gemeenskaps-, burger- en belangeorganisasies om as “tussenliggame” die draers van die gemeenskapsidee te wees. Die Afrikaner se belangrikste kultuurtaak lê tans in die vormgewing van sodanige idee.

Die volgende FAK-byeenkoms geskied op 20 Februarie 2015, wanneer ’n Afrikaanse taalwerkswinkel aangebied word.