Waak teen ‘geleerde barbare’

deur prof DANIE GOOSEN.

Die volgende artikel het in Rapport, Sondag, 15 Maart verskyn:

’n Afrikaanse ‘gemeenskapsuniversiteit’ moet inklusief wees én ’n Christelike karakter hê, meen Danie Goosen.
Hoe gemaak met universitêre Afrikaans? Is dit gedoem om ’n talige artefak uit ’n glorieryke, maar verbygegane era te word?

Dit is nie ’n nuwe vraag nie. Van die 1990’s af word dit met vervelige reëlmaat gevra. Nogtans is daar steeds nie ’n helder antwoord nie.

Op lang termyn is daar waarskynlik twee keuses vir universitêre Afrikaans: Óf die Afrikaanse wêreld beding een of twee Afrikaanse universiteite met die regering óf die Afrikaanse wêreld skep self ’n eie Afrikaanse gemeenskapsuniversiteit.

Tensy iets dramaties gebeur, is eersgenoemde moontlikheid onrealisties omdat die regering van sy vroegste oomblikke af deur ’n volledige onwilligheid gekenmerk word om ons tale sinvolle institusionele ruimte te gee. Goeie argumente sou natuurlik kon help, maar ons moenie naïef wees nie. Goeie argumente word nou reeds twee dekades lank deur divisies van taalapologete en -kenners ingespan.

Nogtans stoomroller die regering steeds elke verstandige insig uit sy pad.

Dit bring ons by die tweede moontlikheid, naamlik die gemeenskapsuniversiteit. Lê die toekoms van universitêre Afrikaans in die hande van dié universiteit? En as dit so is, wat word daarmee bedoel?

Slegs dwase sal ontken dat so ’n onderneming uitdagend is. Nogtans is Akademia, die nuwe Afrikaanse tersiêre inrigting van Solidariteit, reeds suksesvol daarmee besig.

Maar wat word bedoel met Akademia se strewe na ’n “uitnemende gemeenskapsuniversiteit” vir die Afrikaanse taalgemeenskap?

Hoewel die gesprek oor die gemeenskapsuniversiteit nog in sy kinderskoene staan (en daar nog heelwat daaroor gedink moet word), kan gesê word dat dit ’n alternatief vir die hiërargies-staatlike universiteite van die verlede verteenwoordig.

Nog meer, dit is ook ’n alternatief vir die sogenaamde ekonomiese (of globale) universiteit van vandag. Laasgenoemde is die universiteit wat die gewig van die universiteitswese in die algemeen en die betekenis van elke dissipline in die besonder slegs aan een enkele maatstaf meet, naamlik die vraag of hy winsgewend is.

Nodeloos om te sê, die ekonomiese universiteit is, in weerwil van sy verbintenis tot veelheid, ’n eentalige universiteit. ’n Universitêre verbintenis tot ander tale as Engels belemmer glo sy winsgewendheid.
“’n Opgevoede mens word deur ’n insig in die geheel gekenmerk.”

Om ’n gemeenskapsuniversiteit te wees beteken egter om méér te wees as dienstig aan óf die staatlike orde óf die globale mark. Maar wat is die onderskeidende kenmerk van die gemeenskapsuniversiteit?

Alvorens daarop geantwoord kan word, moet onthou word: Geslotenheid is altyd ’n dreigende gevaar by gemeenskappe. Gemeenskappe moet altyd daarop bedag wees om ruimte vir onderlinge verskille te skep. Anders verstar hulle.

Dit is ook van die gemeenskapsuniversiteit waar. Dit kan slegs ’n egte universiteit wees as dit geduld het met die veelheid van standpunte en houdinge in eie geledere.

In aansluiting by die Von Humboldt-universiteit uit die 19de eeu is die doel van die gemeenskapsuniversiteit ook uitnemende opvoeding (Bildung).

Maar wat word daarmee bedoel?

Vir die Von Humboldt-universiteit het opvoeding nie net beteken om uitnemende beroepsopleiding en                   -spesialisasie aan sy studente te bied nie. Uiteraard was en is hierdie dinge belangrik. ’n Opgevoede mens is egter óók iemand wat deur ’n insig in die geheel van dinge gekenmerk word. Hy of sy is opgevoed as hulle die samehang tussen dinge verstaan, ook die samehang tussen die verskillende dissiplines. Anders is hulle bloot “geleerde barbare”.

Sulke insig kan vandag die gemeenskaps¬u¬niversiteit onderskei. Maar waarom? Waarom bied dié universiteit die moontlikheid om opvoeding in genoemde voorwaardes te beoefen?

Die antwoord hou verband met die feit dat gemeenskappe, in weerwil van onderlinge verskille, steeds deur gemeenskaplike lewenshoudinge (en bindende sosiale waardes) gekenmerk word. En dit is noodsaaklik as insig in die geheel nog ’n belangrike doel van opvoeding is.

Ons het immers slegs insig in die geheel (die eindpunt van opvoeding) te danke aan ons lewensbeskoulike vertrekpunte (die beginpunt van opvoeding).

As ons lewensbeskoulike vertrekpunte fragmenteer, sal ons ook ’n gefragmenteerde beeld op die geheel hê.
Dit is tipies van die ekonomiese universiteit. In weerwil van sy aansprake laat hy ons met ’n gefragmenteerde wêreld. Een van die dramatiese gevolge hiervan is dat Bildung juis onmoontlik word.

By die gemeenskapsuniversiteit is dit anders. Omdat dit deur gemeenskaplike lewenshoudinge gevoed word, kan dié universiteit opvoeding in bogenoemde sin nastreef.

Dit bring ons by die belangrike vraag: Watter lewenshoudinge moet ten grondslag van die Afrikaanse gemeenskapsuniversiteit lê?

My voorstel is dat dit in die oop Christelike tradisie gegrond moet word.

Uiteraard is daar ’n voorwaarde hieraan verbonde: dit moet inklusief wees. Daar is egter kwalik ’n méér inklusiewe tradisie as dié. Verreweg die grootste deel van die Afrikaanse wêreld vind daarby aansluiting. Selfs diegene wat heftig daarteen gekant is, dink en lewe steeds binne die invloedsfeer daarvan.

Trouens, hulle het hul opvoeding daaraan te danke.

■ Prof. Danie Goosen is ’n lektor in godsdienswetenskap aan Unisa en voorsitter van die FAK-direksie.