deur Danie Langner
FAK-HOOGTEPUNTE van 2015
AFRIKAANS
Afrikaans 90
Afrikaans is vanjaar 90 jaar lank al een van Suid-Afrika se amptelike landstale. Die FAK het in samewerking met Maroela Media ’n embleem ontwerp en vir al die taal- en kultuurorganisasies gestuur om te gebruik op hul taalprojekte vir 2015. Die embleem is wyd gebruik. Daarmee saam het die FAK ’n video gemaak genaamd: Ek hou van Afrikaans. Graad 2-leerders van Laerskool Louis Leipoldt het die FAK gehelp om ’n oulike video te vervaardig wat gebruik word as bemarking van Afrikaans 90.
Afrikaanse Nasionale Skole-Ekspo
Die Afrikaanse Skole-Ekspo is ’n nasionale kreatiewe Afrikaanse kompetisie vir leerders van graad 6-12 in Suid-Afrika en Namibië. Vanjaar se oorkoepelende tema is Afrikaans 90. Wat beteken dit vir vandag se jongmense en hoe help hulle verseker dat Afrikaans oor ’n verdere 90 jaar nog sal bestaan en gepraat word?
’n Rekordgetal hoërskole regoor Suid-Afrika en Namibië het aan die Nasionale Afrikaanse Skole-Ekspo deelgeneem.
Die digter AG Visser se agterkleindogter was een van die nasionale wenners in Poësie.
As deel van die projek het Joshua na die Reën in ’n kort video leerders aangemoedig om hul drome in Afrikaans uit te leef.
“Afrikaans”-roos
Die FAK het in samewerking met Ludwigs Rose ’n unieke “Afrikaans”-roos ter viering van Afrikaans 90 ontwikkel. Die roos is op 8 Mei bekendgestel.
Die “Afrikaans”-roos is ’n nuwe roos wat nie misgekyk kan word nie, maak nie saak waar dit groei nie. Die kombinasie van ’n inherente sterk krag, glansgroen, siektebestande blare, goed gevormde kleinerige knoppe wat oopmaak met sterk blare in blywende blomme en wat ’n lewendige mengsel van helder oranje op ’n goue basis vertoon, maak dit ’n moet vir enige tuin. Die “Afrikaans”-roos is ideaal as ’n fokusplant met ’n dimensie van 2 m hoog en wyd met ongehinderde groei. Dit kan geplant word in massabeddings, in digte blomheinings op heinings en mure of vrystaande grense, sowel as in groot potte. Die roos reageer goed op vormsnoei in die somer en hewige snoei in die winter.
Afrikaanse Taalmonument 40
Die FAK het saam met die Afrikaanse Taalmonument die 40ste bestaansjaar gevier deur “Afrikaans”-roosboompies aan die monument te skenk. Die roosboompies is ook vergesel met ’n brons plaat wat die datum en gebeurtenis aandui, wat by die Taalmonument aangebring is. Professor Wannie Carstens wat dit in ontvangs geneem het, het die FAK bedank vir die besonderse geskenk en die hoop wat daarmee gepaard gaan.
Afrikaans in Namibië
In samewerking met die Namibiese Kultuurorganisasie, NETWERK, het die FAK ’n dokumentêre program van vier episodes – ’n Plek om dop te hou – oor die stand van Afrikaans in Namibië vervaardig. Chris Chameleon en Daniella Deysel was die aanbieders en dit is op kykNET uitgesaai.
Afrikaanse Werkswinkel
Op 20 Februarie het die FAK ’n werkswinkel aangebied vir Afrikaanse kultuurorganisasies. Tydens die werkswinkel het belangstellende organisasies die geleentheid gekry om ’n kort voorlegging te doen oor hul beoogde Afrikaans 90-taalprojekte. Organisasies is ook toegerus met praktiese wenke vir standpuntstelling oor Afrikaans en die kreatiewe gebruik daarvan. Professor Gerhard van Huyssteen, Willie Spies en Susan Lombard het as gassprekers opgetree. Daar was 50 mense van ongeveer 30 organisasies wat die geleentheid bygewoon het.
Oorsprong van Afrikaans-toer
Die FAK het gedurende die Julievakansie 16 studente die geleentheid gebied om taal- en kultuurbande met Nederland en België te versterk. Die Jongerenprojek word in 2016 vervang met ’n nuwe produk, naamlik die Oorsprong van Afrikaans-toer.
Die 12-dag-toer wat 10 stede besoek in Nederland, België en Frankryk is deur die FAK in samewerking met Travel & Sport ontwikkel. Die doel van die toer is om elke leerder wat belangstel in die oorsprong van Afrikaans die geleentheid te bied om eerstehands te ervaar waar ons taal vandaan kom. Die studente besoek onder andere museums, universiteite, Jan van Riebeeck- en Anne Frank-huis, die kaas-, porselein- en sjokoladefabrieke, en die Suid-Afrikaanse Nasionale Gedenkteken.
Afrikaanse taalkonferensie
Die Afrikaanse taalkonferensie op 8 Mei is suksesvol aangebied ter herdenking van Afrikaans wat op 8 Mei 1925 amptelike landstaal geword het. Tydens die konferensie is saambesin oor die volgende 90 jaar. Verskeie meningsvormers en afgevaardigdes van Afrikaanse organisasies, sangers en meningsvormers het die geleentheid bygewoon. Die sprekers was professor Koos Malan, Henk Schalekamp, doktor Theuns Eloff, Andries Vrey en Flip Buys.
Afrikaanse musiekprojekte
FAK Afrikaanse Sangfees, Potchefstroom
Die FAK Sangfees is op 15 April in samewerking met die Potchefstroom Dienssentrum aangebied. Sanggroepe wat opgetree het, is die Mooirivier Sanggroep, Potchefstroom Mannekoor, die Cantabile Dameskoor en Johan Schlebusch & Dewald Grobler. Data is ingesamel, boeke is verkoop en vriende is aangesluit.
FAK Sangbundel
Die eerste oplaag van 5000 bundels is uitverkoop en die kontrak vir die herdruk van die bundel is deur die FAK-direksie aan Protea Boekhandel toegeken. Protea beoog om die herdruk van die bundel voor die einde van die jaar af te handel.
Gewilde eg Afrikaanse liedjies
Sedert die verskyning van die nuwe FAK Sangbundel het talle nuwe Afrikaanse groepe ontstaan wat fokus op nuwe, outentieke Afrikaanse musiek wat nie in die FAK Sangbundel opgeneem is nie. Die FAK het gedurende Augustus begin met ’n projek om die eg Afrikaanse musiek van moderne Afrikaanse groepe te versamel. Die bundel word vroeg volgende jaar uitgegee en is gerig op skoliere en studente.
Afrikaanse volksmusiek-CD
Die FAK is, in samewerking met VONK en Beeskraal, in die proses om ’n CD saam te stel oor eg Afrikaanse volksmusiek, wat hoofsaaklik uit die FAK Sangbundel Volume 1 kom. Die CD sal teen einde November 2015 op die winkelrakke wees.
Afrikaanse Liedjietuin
Die Afrikaanse Liedjietuin het ontwikkel as ’n bate vir Afrikaans. Verskeie Afrikaanse sangers word in die tuin vereer deur liedjieborde of rose. Die tuin word daagliks deur oorsese en Suid-Afrikaanse toeriste besoek.
Andrew Murray-FAK-toekenning vir die bevordering van kerkmusiek
Die FAK is ’n stigterslid van die Andrew Murray-prysfonds en word verteenwoordig op die ledevergadering en Uitvoerende raad. Die UR het goedgekeur dat vanaf 2016 ’n Andrew Murray-FAK-toekenning vir die bevordering van Afrikaanse Christelike musiek toegeken word. Deur die prestige-toekenning word erkenning gegee aan die rol wat Afrikaanse kore, orreliste en musiekleiers speel om Afrikaanse kerkmusiek te bevorder.
NP VAN WYK LOUW-SENTRUM
Publikasies
Danie Goosen se publikasie Oor gemeenskap en plek het in Januarie 2015 verskyn. Die gesaghebbende publikasie se waarde word beklemtoon deur professors Kobus Kruger en Auwais. Die publikasie is ook deur Danie Goosen op die Woordfees in Stellenbosch bekendgestel.
Danie Langner se publikasie, NJ hou koers het verskyn ter herdenking van die FAK se stigterslid en eerste FAK-hoof, asook die eerste hoofleier van Die Voortrekkers, doktor NJ van der Merwe wat vanjaar 75 jaar gelede oorlede is. Die boekbekendstelling van NJ hou koers het op Taaldag, 14 Augustus plaasgevind. Oud-Springbokkaptein Theuns Stoffberg, kleinseun van NJ van der Merwe, het as gasspreker opgetree.
Afrikaners in die branding deur Jaap Steyn is gepubliseer en wyd versprei. Die reaksie was oorweldigend positief.
Taalpioniers is ’n gedenkbundel deur Danie Langner en Dawie du Plessis ter viering van Afrikaans se hoëfunksieprestasies die afgelope 90 jaar.
Standpunte
Veertig Standpunt-artikels deur top Afrikaanse meningsvormers oor lewensbeskoulike en aktuele kwessies is op die webwerf www.standpunte.co.za gepubliseer.
Voorsiening is gemaak vir ’n Internasionale afdeling op die Standpunte-blad. Dit is belangrik vir die NP van Wyk Louw-sentrum om ’n ruimte te bied waarbinne hy in gesprek kan tree met gesaghebbende Europese denkers. Die doel van die afdeling is om aandag te gee aan enkele sentrale kontemporêre denkers in die Westerse wêreld. Die afdeling sal veral fokus op internasionale denkers soos Patrick Deneen (VS), Roger Scruton (Engeland), Chantal Delsol of Philippe Beneton (Frankryk) en twee figure uit die Nederlande, naamlik Andreas Kinneging (Utrecht) en Bart-Jan Spruit (Gouda).
NP van Wyk Louw-gespreksgroep
Die NP van Wyk Louw-sentrum het begin met ’n maandelikse gespreksgroep onder jong leiers om hulle toe te rus vir die wêreld van idees. Dawie du Plessis is die koördineerder en die gesprekke geskied onder leiding van professor Danie Goosen. Gesaghebbende ideële werke word bespreek. Die tema onder bespreking vir die eerste paar gesprekke is Robert Nisbet se werk The quest for community. Die gespreksgroep blyk om geweldig sinvol te wees, en al die deelnemers geniet dit geweldig.
AFRIKANERGESKIEDENIS
Internetmuseum
Die inhoud van die internetmuseum word tans uitgebrei om voorsiening te maak vir:
Verdere Junior Historia-artikels is gefinaliseer en opgelaai. Dit word gereeld bygewerk.
’n Ooreenkoms is aangegaan met Taaloord (Helene Liebenberg) om van hulle artikels wat handel oor geskiedenis, op ons webwerf te laai.
’n Klankargief is ook geskep. Die eerste klanksnitte word binnekort opgelaai.
Dagstukke uit die Kultuuralmanak word daagliks op die web gelaai, en dan op sosiale media gedeel, telkens met ’n unieke foto.
Geskiedenis in skole-verslag
Die ontnugterende verslag oor die feitlike korrektheid van skoolgeskiedenis is bekendgestel en het wye mediadekking geniet. Die verslag word tans opdateer en sal gereed wees om vroeg in 2016 weer vrygestel te word.
Skakeling met plaaslike Erfenisorganisasies
Die FAK het die afgelope jaar met verskeie plaaslike Erfenisorganisasies saamgewerk, onder andere:
FASILITEITE
FAK Rivierplaas
Die FAK Rivierplaas aan die walle van die Vaalrivier, naby Parys, het bykans ’n 100% bespreking. Wooneenhede en fasiliteite is opgegradeer en vier nuwe wooneenhede is teen die rivieroewer geskep. Verskeie toeriste-aantreklikhede is in die omgewing, soos die gewilde dorp Parys, ’n leeuplaas, ’n bessieplaas en avontuur-aktiwiteite. Staproetes en rivieraktiwiteite word tans op die FAK Rivierplaas ontwikkel.
FAK Liedjietuin en Oukraal Lapa
Die FAK liedjietuin en Oukraal Lapa is gewilde fasiliteite vir partytjies, familiebyeenkomste en ander funksies. FAK-vriende kry ook spesiale afslag. Die Oukraal Lapa is volledig toegebou en het ’n sinkdak wat bestand is teen reën wat die fasiliteit aansienlik meer bemarkbaar maak. Daar is ook ’n kombuisie ingerig hoofsaaklik vir huurders van die Liedjietuin en Lapa.