’N AFRIKANERBEELDJIE IN ELKE HUIS

deur Ziegfried van Huyssteen

As Afrikaners ervaar ons daagliks meer druk op ons kultuur. Ons geskiedenis word gekriminaliseer en alles wat die Afrikaner bereik en vermag het in die verlede, word doelbewus vergeet of afgekraak. Daarby saam word dinge wat ons na aan die hart lê, geminag, en ons kultuur word openlik gediskrediteer.

Voorbeelde hiervan is die stelselmatige naamsveranderinge wat sedert 1994 plaasgevind het. Dorpe se name is sonder waarskuwing verander, en straatname bly heeltyd in die slag. Sommige name soos Nelspruit, Witbank en Kerkstraat het duidelik geen konnotasie met apartheid of diskriminasie nie, maar steeds word dit eenvoudig verander sonder respek.

Die nuutste oplewing in dié veldtog teen Afrikaners is die afbreek en beskadiging van ons monumente en standbeelde. Voorvalle van vandalisme is daagliks in die nuus, en weereens is dit dikwels standbeelde van mense wat geen betrokkenheid gehad het by die vorige bedeling nie. Watter skade het Totius tog ooit aan iemand berokken?

Geen instelling of selfs die staat kan egter die vandalisme van Afrikanermonumente bekamp nie. Die FAK is besig met ’n poging om sommige standbeelde te hervestig op Afrikanergrond soos die Voortrekkermonument, maar die sukses daarvan berus ongelukkig nie alleenlik by die FAK nie.

Die FAK is betrokke by en ondersteun ’n reeks plaaslike organisasies, insluitende die Karel Landman-monument, Vriende van die Tolhuis, Bloedrivier Geloftekomitee, die Vereniging vir Kultuurgeskiedenis, Vegkop-erfenisterrein, Valsrivier Erfenisstigting, die Vrouemonumentekommissie asook die Voortrekkermonument en verskeie geloftekomitees wat daagliks ’n reuse bydrae lewer tot hul plaaslike gemeenskappe. Die FAK wil graag hierdie organisasies verder ondersteun en ’n daadwerklike verskil op gemeenskapsvlak maak.

Vir dié rede stel die FAK graag sy Afrikanerbeeldjie in elke huis-projek bekend. Die FAK is tans besig om ’n reeks replika-standbeeldjies van bestaande standbeelde te vervaardig. Al sou Oom Paul op Kerkplein, Jan van Riebeeck in Kaapstad of President Steyn voor Kovsies se hoofgebou geheel en al tot niet gaan, sal niemand Afrikaners kan keer om standbeeldjies van mense wat hul na aan die hart lê, in hul huise te hê, te koester en te bewaar nie.

Die eerste twee beeldjies wat pas voltooi is, is dié van doktor NJ van der Merwe en Sarel Cilliers.

IMG_9053 crop

NJ van der Merwe was die stigter van beide die FAK en Die Voortrekkers. Hy was ook die eerste Hoofleier van Die Voortrekkers. Die standbeeld staan tans op NJ van der Merwe se graf op die plaas Doornkloof, Kroonstad. Oud-Springbokkaptein Theuns Stoffberg, kleinseun van NJ van der Merwe, het op 19-jarige ouderdom as model opgetree vir die maak van die standbeeld.

Die standbeeld van Sarel Cilliers beeld uit hoe hy die gelofte aflê kort voor die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838. Hierdie standbeeld staan vandag by die Geloftekerk, Kroonstad.

Die FAK nooi u graag uit om sy Geskiedenisfonds te ondersteun deur ’n donasie van R500 of meer te maak, en in ruil ’n beeldjie vir u huis te ontvang. Die FAK se Geskiedenisfonds word alleenlik aangewend vir die beskerming en behoud van Afrikanergeskiedenis. ’n Beperkte aantal beeldjies is vervaardig, en beide beeldjies is beskikbaar in brons en silwer. Vir u donasie aan die Geskiedenisfonds kan u kies watter beeldjie, asook of u ’n brons of silwer beeldjie wil hê.

Kontak vir Zieg van Huyssteen by die FAK-kantoor by zieg@fak.org.za of 012 301 1777 om die Geskiedenisfonds te ondersteun en ’n beeldjie te ontvang:

Hou die FAK se Facebook-blad en nuusbrief dop vir die bekendstelling van nog beeldjies in die jaar.