Afrikaners se bydrae tot kunste monumentaal – Stephan Welz

Die bydrae van daardie Afrikaners met ’n diep gewortelde gevoel vir Afrikaans en die Afrikaanse kultuur – Afrikaner-nasionalisme in die breëre sin – tot die vestiging en uitbouing van Suid-Afrikaanse kuns was monumentaal. Onder hulle tel intellektuele wat as uitlandse immigrante in die land aangekom en stelselmatig voortreflike Afrikaners geword het, soos Jacob Hendrik Pierneef, Anton van Wouw en Gerard Moerdyk.

Wyle Stephan Welz (1943 -2015)Dit was die uitgesproke mening van die doyen van kunsafslaers in Suid-Afrika, wyle Stephan Welz (1943–2015), wat verlede Kersdag op 72-jarige ouderdom in Johannesburg aan kanker oorlede is. Met byna vier dekades in die kunsbedryf het hy tot kort voor sy afsterwe steeds waardasies van kuns en oudhede gedoen, en was hy pal betrokke by die kunsveilings wat sy firma, Strauss & Co van Sandton en Nuweland, elke jaar onderneem. Welz se kennis van en empatie met Afrikanerkuns het deur die veilingsbedryf ’n enorme hupstoot gekry waarvan die rimpelings steeds wêreldwyd uitkring. Sy unieke boek oor antieke Kaapse Silwer, Cape silver and silversmiths, A.A. Balkema, 1976, was sy meer persoonlike bydrae tot die bevordering en bewaring van Africana.

Stephan is op Worcester gebore waar sy vader, die Oostenrykse argitek en kunstenaar Jean Welz, die Hugo Naudé Kunssentrum bedryf het. Sy moeder was ’n skrander Deense joernalis, Inger Christensen. Die egpaar het vyf kinders gehad. Van hulle leef Jerome (85), ’n afgetrede elektriese ingenieur, en Martin, die uitgewer van die kommentaarblad Noseweek, nog.

In 1970 het Stephan die graad BCom aan Unisa verwerf en hom in Johannesburg by die afslaersaak Sotheby Parke Bernet, filiaal van die bekende Londense afslaer Sotheby’s, aangesluit. Hy het die saak, wat in 1968 gestig is, mettertyd oorgeneem en in 1987 die naam verander na Stephan Welz & Co (in assosiasie met Sotheby’s). In 2006 het hy ernstig siek geword en daar is vir sy lewe gevrees. Hy het die firma in 2007 verkoop, en dit doen steeds onder die gevestigde naam sake in Sandton, Johannesburg, en Constantia, Kaapstad. Die huidige besturende direkteur daarvan is Anton Welz, seun van Stephan se oudste broer, Jerome.

Stephan het indertyd sodanig van sy siekte herstel, dat hy weer fiks genoeg was om sy geliefkoosde loopbaan as afslaer van kuns en oudhede voort te sit. ’n Nuwe kulturele afslaersaak, Strauss & Co, is deur dr. Conrad Strauss en Elizabeth Bradley in Houghton, Johannesburg, en in Nuweland, Kaapstad, op die been gebring, en hulle het Stephan genader om hom by hulle aan te sluit. Hy het ingewillig. Sy herverskyning in die afslaersbedryf by Strauss & Co se eerste veiling in Maart 2009 in Johannesburg het talle mense verwar, want nou was Stephan Welz die kunsdirekteur van Strauss & Co, terwyl hy geen verbintenis meer gehad het met die saak wat sy naam dra nie. Toe hy die podium bestyg, het die meer as 400 veilinggangers hom luid toegejuig. Die veiling het op hierdie dag R38 miljoen behaal.

Hoewel Stephan hom nooit as ’n Afrikaner voorgedoen het nie, en hy Afrikaans én Engels vlot gepraat het, het hy nooit gehuiwer om in die openbaar vir die Afrikaanse kunstenaarsgemeenskap en die Afrikaanse kultuur ’n bres te slaan nie. Op 1 September 2010 het hy in Stellenbosch in die Rupert-kunsmuseum by die opening van die Pierneef-stasiekunsversameling verwys na die “behoefte van Engelssprekendes, en veral die Engelse media, om in die Afrikaner ’n sondebok vir al Suid-Afrika se probleme te vind.” “Was dit nie vir die monumentale rol van Afrikaner-nasionaliste – in die patriotiese sin bedoel – nie, dan was Suid-Afrika kultureel onmeetbaar armer. Dit is hierdie patriotisme van Afrikaners wat steeds toesien dat die kuns van voortreflike Afrikaanse meesters, soos Pierneef, die eb en vloed van modeverskynsels en politieke korrektheid weerstaan.”

Pres. Paul Kruger se Statebybel:

Pre. Paul Kruger van die ZAR

Pre. Paul Kruger van die ZAR

Een van die vreemdste veilings wat Stephan Welz beleef het, was toe die geroofde Statebybel van pres. Paul Kruger, laaste president van die Transvaalse Boererepubliek, die Zuid-Afrikaansche Republiek, op 7 Februarie 1985 in Johannesburg deur afslaersaak Sotheby’s van die hand gesit is. ’n Ongenoemde Goudstadse versamelaar het R18 000 daarvoor betaal.

Die Nederlandse Bybel is in 1686 in Dordrecht gepubliseer en in 1864 deur eerw. K Hols, superintendent van die Hermannsburgse Sendingvereniging in Afrika, aan Kruger geskenk toe hy nog kommandant-generaal van die ZAR was.

Kruger het voorin met pen en ink die name en geboortedatums van sy hele familie neergeskryf. Die Bybel is op die Kruger-familieplaas Boekenhoutfontein naby Rustenburg gehou.

Met die inval in 1901 van die Britse leër in Transvaal, het Piet Kruger, seun van die president, die waardevolste besittings in die plaashuis, onder meer die Bybel, in die sorg van die naburige swart Magato-stam geplaas om te voorkom dat die Britse soldate dit in hul gebruiklike plundertogte roof.

Die Britte het die Magato-stat egter ook geplunder en op die Kruger-kosbaarhede afgekom. Lt. GF Pledge, kommandant van die Sherwood Forester-regiment, het die Kruger-besittings as oorlogsbuit na Engeland geneem. Daar het hy die Bybel aan sir Leicester Harmsworth se biblioteek geskenk.

Welz skryf in sy boek Art at auction in South Africa dat die Bybel op 19 Desember 1949 deur Sotheby’s opgeveil is, en dat ’n Amsterdamse antikwarier, BM Israel, 155 pond daarvoor betaal het. ’n Nederlander wat van plan was om na Suid-Afrika te immigreer, het die Bybel in Israel se boekwinkel gesien en dit gekoop. Hy wou die Bybel graag aan Suid-Afrika terugbesorg. In plaas daarvan om dit aan die Kruger-museum in Pretoria te skenk, het sy seun egter besluit om die Bybel eerder te laat opveil.

Hoofman Mogato en skrander seuns

Hoofman Mogato en skrander seuns

Die Krugers se verbintenis met die Magato-stam dateer van die vroeë republikeinse dae toe Paul Kruger goed bevriend was met die opperhoof Mokgatle Thethe (Magato), kgosi (koning) van die Bafokeng. Toe die Voortrekkers in 1837 onder aanvoering van Andries Hendrik Potgieter, Gert Maritz en Paul Kruger die bloedlustige Zoeloe-rebel Mzilikazi en sy impi’s uit Transvaal verjaag het, was Magato en sy mense baie dankbaar dat hulle van die tiran verlos was. Kruger het die plase Boekenhoutfontein, Waterval, Rietvlei en Baviaanskrans by Rustenburg bekom. Sy buurman, hoofman Magato, is op 19 September 1891 oorlede.

In die publikasie De zonen van Magato (Mokgatle Thete, kgosi der Bafokeng) in Delft, een geschiedenis uit de Nederlands-Zuid-Afrikaanse betrekkingen, 1887–1890 deur dr. GJ Schutte en uitgegee deur die Suid-Afrikaanse Instituut in Amsterdam, word vertel hoedat Kruger toegesien het dat twee skrander kapteinseuns, Bloemhof (16) en Paul (14), van 1887 tot 1890 in Nederland kon studeer sodat hulle later bekwame leiers van die Bafokeng sou wees. Die broers het hul skoolopleiding by die Hermannsburgse sendingstasie Saron in die Noordweste ontvang. In Nederland is hulle onder meer in teologie, onderwys en skrynwerk opgelei, en albei is as lidmate van die Gereformeerde Kerk aangeneem. Die argief-foto hierby afgebeeld is in die publikasie opgeneem.

Abraham Kriel-kinderhuis:

Met die afsterwe van Stephan Welz het dit aan die lig gekom dat hy namens hom en sy gesin jare lank ’n stille ondersteuner van die Abraham Kriel-kinderhuisgroep in Suid-Afrika was. Sy naasbestaandes het dus versoek dat simpatieke mense in plaas van blomme eerder geld aan die kinderhuisgroep skenk.

Oorlogswesies versorg deur die Abraham Kriel Kinderhuis

Oorlogswesies versorg deur die Abraham Kriel Kinderhuis

Die Abraham Kriel-kinderhuisgroep is die oudste bestaande Afrikaanse kindersorgorganisasie in die land wat reeds in 1896 in die Zuid-Afrikaansche Republiek, die Transvaalse Boererepubliek, van pres. Paul Kruger, tot stand gekom het. Op 19 Februarie van daardie jaar, enkele weke nadat die berugte Jameson-staatsgreep, ’n geheime komplot van die Britse regering in Londen en Cecil John Rhodes, premier van die Kaapkolonie, klaaglik misluk het vanweë die paraatheid van die Boere, het verskeie treinwaens op Braamfontein-stasie met sowat 60 ton dinamiet vir die goudmyne gelyktydig ontplof. ’n Gerangeerde treintrok het glo teen die waens gebots en die skok daarvan het die dinamiet afgesit. Sabotasie is egter nie uitgesluit nie.

Ná die ontploffing, wat 200 km ver gehoor is, is 127 lyke en stukkies liggaamsdele wat tien doodskiste gevul het, gevind. Sowat 200 mense is beseer en dertien kinders is wees gelaat. Waar die stasie was, was ’n gapende krater van 8 m diep, 60 m lank en 15 m wyd. Ook het beduidende getalle huise in die omliggende woonbuurte ineengestort en is honderde inwoners dakloos gelaat. Binne twee dae is £104 000 vir noodleniging ingesamel.

Van die weeskinders is na mev. Maria Kloppers van die Vrouesendingbond in Fordsburg gebring om te versorg, en deur haar ywer is die Kinderhawe van Observatory in Johannesburg gestig. Sy is bygestaan deur ds. Abraham Kriel, NG leraar van Langlaagte en Fordsburg, wat die begrafnisse gehou en ook geld ingesamel het om sy pas ingewyde Fordsburgse kerk, wat deur die ontploffing ineengestort het, te laat herbou.

Gedurende die Anglo-Boereoorlog van 1899–1902 was Kriel veldprediker by die kommando’s van genls. CF Beyers, Lucas Meyer en JC Smuts. Ná die oorlog het hy die leiding geneem om die meer as 12 000 oorlogsweeskinders – wat hul ouers in die konflik verloor het – by pleegouers uit te plaas of om hulle in tehuise te laat versorg. Deur sy toedoen is die Langlaagte-weeshuis gestig.

Dii. JM Louw en AP Burger het weeshuise in Boksburg en Middelburg opgerig. Mettertyd is hulle saam met die Maria Kloppers-Kinderhawe by die Langlaagte-weeshuis, sedert 1929, met die afsterwe van ds. Kriel, bekend as die Abraham Kriel-kinderhuis, ingelyf.

Vandag is daar filiale in Pretoria, Nylstroom, Potchefstroom en staan die groep steeds bekend as die Abraham Kriel-kinderhuis. Duisende weeskinders en gestremde kinders van alle rasse en kulture word daar gehuisves, versorg en vir ’n volwaardige, volwasse lewensbaan opgevoed en in beroepe opgelei.

Leave a Reply