deur Daantjie Dinamiet
Ons almal het iewers in die verlede, of dit nou onlangs of lank gelede is, kennis gemaak met Afrikaanse volksmusiek, veral dit wat deur die jare in die verskillende FAK-sangbundels voorgekom het.
Nou het die FAK met ’n nuwe projek vorendag gekom wat daarop gemik is om hierdie tipe musiek aan ’n nuwe gehoor bekend te stel. Beeskraal is al jare lank bekend vir hul vermenging van rock- en Boeremusiek, en hulle, asook ’n aantal ander bekende kunstenaars, het bekende volksliedjies in ’n meer moderne styl verwerk.
Die CD bestaan uit drie dele. Die eerste daarvan is bekende saamsingliedjies wat al volksbesit geword het, maar in die meeste gevalle die afgelope vyftig jaar die eerste keer verskyn het. Die eerste snit is Beeskraal en Gerhard Steyn se verwerking van Groep 2 se lekker saamsing-treffer “Oukraalliedjie.” Een van die heel bekendste volksliedjies is “Blinkvosperd”, wat deur Beeskraal opgeneem is. Beeskraal het ook ’n stukkie bygeskryf. “Lied van die Boland” was ’n treffer vir die A Capella-koor, en James en André wat byna as die moderne Groep 2 beskryf word, het dit vir hierdie album opgeneem. “Ver in die ou Kalahari” is nog ’n lekker saamsingliedjie waarmee die meeste mense grootgeword het. Beeskraal sing dit saam met Richard van der Westhuizen. Die volgende twee snitte is keurspele, naamlik een van volksliedjies deur Beeskraal en ’n kampvuur-keurspel deur Lukas de Kock en Danette Smith. Dié keurspel sal gewese en huidige Voortrekkers lekker laat saamsing.
Die tweede deel van die CD bestaan uit vaderlandsliedere wat uiteraard meer patrioties van aard is. “O, Boereplaas” is vir hierdie album opgeneem deur Jannie Moolman, en dit pas baie goed by hom. Die getroude sangpaar Wynand en Cherée is verantwoordelik vir die bekende saamsingliedjie “Ken jy die land?” wat deesdae nog gereeld in die Voortrekkers gesing word. “Die lied van jong Suid-Afrika” is vroeër jare gereeld gesing, nie net in Die Voortrekkers nie, maar ook in Afrikaanse skole, en Chris Chameleon se weergawe daarvan, saam met die koor A-Minere, is uitstekend. Een van die vaderlandsliedere wat dalk effens vergete geraak het, is “Dierbaar Suid-Afrika”, wat deur Helene Bester vir dié album opgeneem is. Chris Chameleon en A-Minere se tweede bydrae tot hierdie deel van die CD is “Afrikaners, landgenote”. “Uit die chaos van die eeue” word soms op die wysie van “Die stem van Suid-Afrika” gesing, maar Corlea Botha hou by die oorspronklike wysie.
Daar is een baie groot verrassing op die album. Cordelia is besig om haarself te vestig as ’n uiters talentvolle sangeres. Sy het heeltemal uit haar gemaksone beweeg met die “Vrystaatse volkslied”, haar bydrae tot hierdie album. Sy het dit in die oorspronklike Nederlands opgeneem; ’n mens kan byna nie haar stem herken nie en daar is niks met haar uitspraak verkeerd nie. Al wat ’n mens kan sê, is welgedaan Cordelia! Die Transvaalse volkslied, “Kent gij dat volk?”, is die volgende snit op die album. Jannie du Toit sing gereeld in Nederlands, en daarom kan daar ook geen fout met sy uitspraak gevind word nie. Die volgende snit verdien ook spesiale vermelding. Die Voortrekkers is vanjaar 85 jaar oud, en Jak de Priester het “Sporelied” ter viering daarvan geskryf en opgeneem. Dit is ’n maklike lied om te sing, hoewel dit dalk vir sommige mense in ’n effens hoë toonaard is. Hopelik sal dit ’n groot radiotreffer word.
Die derde deel van die CD bestaan uit vyf Christelike liedere, wat op Voortrekkerwysies gesing word. Linda Malan se eerste bydrae is “Jesus neem ons klein kind hier”. Die Voortrekkerwysie van Psalm 130 was jare lank omstrede, omdat daar geglo is dat ’n mens nie jou skuld op ’n walsmaat mag bely nie. Nogtans het dié wysie vasgesteek en is dit ook in die Liedboek van die Kerk ingesluit. Linda Malan en Anneke Louw sing dit op hierdie wysie, maar die oorspronklike Totius-beryming. Een van die bekendste Voortrekkerwysies is beslis dié van Psalm 146. Hannes van der Walt het dit vir hierdie album opgeneem. Rudi Muller het al drie Christelike albums vrygestel, en sy bydrae is “Aan U, o God, my dankgesange”, wat ook as die Aandgesang bekendstaan. Weer eens word dit op die Voortrekkerwysie gesing; dié wysie is ook in die Liedboek van die Kerk ingesluit saam met die oorspronklike een. Die laaste snit is een van die heel mooiste Christelike liedere wat in ons land ontstaan het, naamlik die “Magaliesburgse aandlied”, wat deur Steyn de Wet opgeneem is.
Daar was al verskeie pogings om Afrikaanse volksliedjies aan ’n jonger gehoor bekend te stel, sommige meer suksesvol as ander. Met hierdie album het Beeskraal en vriende egter die kol getref. Dit sal jou van voor af na liedjies laat luister wat jy gedink het jy ken, terwyl dit ook ’n paar vergete liedere aan ’n nuwe generasie bekendstel. Daarom kan hierdie album sonder voorbehoud aanbeveel word.