Mev. Trui van Wyk het op Saterdag 19 Maart tydens die onthulling van die Dorslandtrek-gedenksteen spesifiek hulde gebring aan die vroue van hierdie trek.  Sy het familie in beide trektogte gehad wat hierdie droogte … Gees, Siel en Liggaam moes deurstaan. Haar ouma, Stiena Klopper, moes as weduwee met klein kindertjies, transportryer wees ter wille van oorlewing. Daar is menigte sulke stories.

Die ontberinge wat oumas, ma’s, dogters, susters, eggenote en weduwees moes deurmaak tydens trektogte was kort duskant onmoontlik/ondenkbaar om te oorleef.  Weke en soms selfs maande aaneen moes hulle sonder enige water klaarkom … water om te drink, mee kos te maak, wonde af te was, ongesteldhede te dokter of tydens geboortes te gebruik …  Nie eers water om ’n lap nat te maak om op ’n koorsige voorkop te sit nie …

My eie oumagrootjie was as ’n dogter van 12 jaar in een van die konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog waar sy as gevolg van masels blind geword het. Dit het haar egter nie teruggehou nie. Sy is later getroud, het kinders en kleinkinders gehad terwyl sy nooit enige van hulle se gesigte geken het nie. Sy het die geringste beskikbare take vir mense gedoen om volwaardig ’n versorgende vrou en ma te wees.  Of dit nou naaldwerk, strykwerk of enigiets dergeliks was.

Die Boervroue in elke konsentrasiekamp het ’n “oorlewingstema” uit die Bybel gehad.  Bethulie s’n was Mattheus 10: 29 en 31, wat in die nuwe Bybelvertaling lui:
“Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van die Vader nie.  Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as mossies.” 

Die vroue het ’n belofte gemaak dat, indien Suid-Afrika ooit ’n oortjie, kwart pennie, stuiwer of sent uitreik, hulle sou probeer om die mossies hul simbool van hoop en geloof op die munt te laat uitbeeld. 

Tolstoi verwys na mense wat strewe na waarheid en bestaande vorme van samelewing, as mense aan wie vlerke gegee is om te vlieg, sonder om te weet watter hindernisse voorlê.

Psalm 18:2-7

“Ek het U baie lief, Here … U is my sterkte … Die Here is my rots, my vesting en my redder … my God, en my rots by wie ek skuil … Hy is my skild, my magtige redder en my veilige vesting … Ek sal roep tot die Here wat my lofwaardig is, want Hy red my van my vyande … Bande van die dood omring my, bande van die dood draai my vas, strikke van die dood wag my in … In my angs het ek tot die Here geroep, tot my God om hulp … In Sy heiligdom het Hy geluister, my hulpgeroep het Hy gehoor …”

Ingesteldheid soos hierdie is wat vroue laat uithou en aanhou het: 

Gesindheid van DIENSBAARHEID “ons hande staan vir niks verkeerd nie …”

LIEFDE … “ons help mekaar sonder om te huiwer” selfs om ander vroue se weeskinders onder vlerke te neem. 

Gedagtes van HOOP …  Hoop vir ’n beter toekoms, ander vooruitsigte.

GELOOF in God se voorsiening, beskerming en ook vertroosting.

Laat ons dan sterk, maar nederig saamstaan in die dinge wat oor ons pad kom!