Ek dink terug aan my kinderdae… toe die wêreld nog in my oë onskuldig was. Terwyl ek rustig op ‘n swaai gewieg het in ‘n parkie skuins-oorkant ons huis en kou aan ’n toffie.  Daai wat soos botterskorsie proe. Hmmmm sê ek vir my maatjie langs my, dis taai, maar dis lekker!

Nou dat ek met meer volwasse oë na die lewe kyk besef ek dat Afrikaans ook, maar eintlik so ‘n soortgelyke toffie is… taai, maar lekker!  Kom dat ons dit sommer nou al vir mekaar sê, Afrikaans is nie een van die maklikste tale om te praat nie, maar verskaf dit nou genot om jouself uit te druk in kreatiewe woorde soos woefkardoes, flaterwater en bakkiesblad!

Ek geniet dit om met die jeug te gesels oor die trots wat hulle moet kweek vir hul taal en erfenis. Kan jy glo dat ‘n laaitie my eergister antwoord met “Oom, my pa sê dat hy nie by sy werk Afrikaans mag praat nie, want sy baas sê die taal is te platvloers vir die besigheid”. Te platvloers? Ek is geskok tot in my skoene! Eintlik moet ons seker die mense bejammer wat dink dat ons eie Afrikaans nie ryk genoeg is om te sê wat gesê moet word nie.

Dan kyk ek weer na Afrikaanse films soos Modder en Bloed en luister na Elvis Blue op die radio en besef dat dié taai taal met al sy aanvalle tog lekker bly!

Kom kou saam met my aan daai soetsappige taai toffie… Afrikaans… ons taal, ons toekoms!!