Jy staan op ‘n nuwe plek in jou lewe, sê die Here. Jy stap oor die grens van die oue na die nuwe. Jou seisoen is besig om te swaai… ‘n radikale swaai. ‘n Nuwe wind het begin waai. ‘n Vars wind van my Gees. Hy waai in nuwe rigtings en op nuwe plekke! Hy waai op ‘n nuwe manier! Hy waai soos Hy wil, wanneer Hy wil, so lank Hy wil, waar Hy wil en deur wie Hy wil. Hierdie wind is uit My gebore, sê die HERE. En daarom kan geen mens Hom stop nie… gee die treë een-een op ‘n slag.  Volg net My wind.

Die spreekwoord lui:  “’n Verandering is so goed soos ‘n vakansie”, maar verandering is nie noodwendig maklik nie. Om te stagneer is egter fataal!  Soms is dit makliker om ‘n ingewikkelde lewe te onderhou as om ‘n nuwe een aan te pak.  Nietemin bly God ‘n God van lewe en groei en stap hy elke tree saam met ons hand aan hand soos ‘n klein kindjie wat leer loop.  Verandering verg ‘n proses van nuwe treë te leer loop, maar ai is dit darem lekker as jy eers op jou eie kan rond hardloop!

Ps 40 : 2-4 Ek het die Here lank verwag, en Hy het Hom na my toe neergebuig en my hulpgeroep gehoor; en Hy het my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek en my voete op ’n rots gestel; Hy het my gange vasgemaak. En Hy het ’n nuwe lied in my mond gegee, ’n lofsang tot eer van onse God. Baie sal dit sien en vrees en op die Here vertrou.

“’n Vriend is iemand wat jou ken soos jy is, verstaan waar jy was, aanvaar wat jy geword het, en steeds sagkens jou toelaat om te groei” – William Shakespeare