Burgerd, was vir sewe jaar deel van die bekende groep Romanz– deesdae werk hy hard aan sy eerste solo album.
Burgerd Botha vertel
Afrikaans, my soetste, mooiste, moedertaal, is en was nog altyd vir my kosbaar. Noudat die vyande daarvan dit oral probeer afskaf, besef ek al meer die waarde daarvan en koester ek dit nog meer as ooit tevore. Hoe kan ek daarsonder? Dit is die taal waarin en waardeur ek lewe. Saam met elke mondjie moedersmelk het ek Afrikaans ingekry – soos soete heilsame heuning. Dit is die taal wat my gevorm het en steeds voed. Ek is tot lewe gebid, liefgehê, getroetel, gekoester, aan die slaap gesing, gerig en onderrig in my soetste moedertaal.
Afrikaans is die vel aan my lyf. Ek kan nie daarvan gestroop word sonder om te dooi nie. Somtyds is ek wel genoodsaak om ’n ander baadjie aan te trek wanneer ek Engels praat of selfs in ’n vreemde taal moet sing, maar dit is wat ’n ander taal vir my bly; vreemd. Dis slegs ’n baadjie waarin ek vir ’n wyle geklee is, maar dan wil ek dit weer uittrek om gemaklik te wees en te ontspan in my eie lyf. Wanneer ek dan kaal staan, is dit Afrikaans wat onlosmaaklik aan my kleef.
My taal lê ook nie slegs veldiepte nie, maar is deur my hele wese verweef. Te danke aan my ouers en voorouers is ek in murg en been deurtrek daarvan; dit is vervleg dwarsdeur my gene. Hoe dan anders? Met elke hartslag bruis dit deur my are en elke polsslag pomp ritmies Afrikaans. My hart en siel juig en treur woordeloos in Afrikaans, ek lag, huil en het lief ook in die taal wat ek die beste verstaan. Deur my oë sien, beleef, en ervaar ek die wêreld in my moedertaal – dit is hoe my brein dit reeds van jongs af verwoord en selfs oordra aan my hande en voete om arbeid te verrig. Bowenal aanbid, loof en prys ek die Here in Afrikaans, want dit is die taal waarin Hy met my praat.
Wanneer ek Afrikaans PRAAT, is dit soos ’n sappige vrug waaraan ek heerlik weglê. Ek hap hier, byt daar, suig soms die pit af en spu selfs partykeer ’n pitjie of twee uit, terwyl ek lustig die sap om my mond afvee.
Met die SKRYF van lirieke is dit egter ’n heel ander proses, want dan lê die woorde nie so geredelik rond en reg om te eet nie. Die woorde word diep uit my siel en wese geoes. Ek kan dit beter vergelyk met die eet van ’n granaat. Jy hap nie sommer en sluk nie. Nee, nee, nee! ’n Granaat moet geduldig en versigtig oopgebreek word sodat dit netjies oopbars. Selfs dan word nie al die vruggies ten toon gestel en kan al die lekkerte nie op een slag uitgedop word nie. Dié eksotiese vrug het nie ’n harde dop of skil nie, maar moet nogtans amper gepel word om by die vruggies uit te kom. Ek wikkel en pik dan die sappige karmosynsaadjies een vir een uit die wit vliese en gaar dit op in my handpalm tot daar ’n handjievol is. Hierdie proses laat my mond behoorlik water. Hierna kom natuurlik die lekkerste deel en dit is die eet van hierdie welverdiende vrug. Soms vat ek wel ’n hele mondvol, kou en eet dit met saadjies en al, maar dán is dit nie so bevredigend nie. Die heel beste is wanneer ek die saadvruggies rondrol in my mond, versigtig daaraan knibbel, saggies daaraan suig en sodoende uitkom by die heerlike sappies waaraan ek lank kan teug. Hierna spoeg ek eenvoudig die harde pitjies uit. Wanneer ek liedjies skryf, doen ek dit só – net soos wanneer ek ’n granaat eet. Dis ietwat seremonieel. Ek skryf so heerlik in Afrikaans, want elke woord word diep uit my siel en wese geoes.
Afrikaans is soos reeds gesê die taal waarin en waardeur ek wil lewe. Dit lê my na aan die hart en daarom is ek hartseer dat ons Afrikaners (myself ingesluit) alewig ons taal verinneweer deur Engelse woorde oral in ons gesprekke in te druk, terwyl daar perfekte, pragtige en kort Afrikaanse woorde beskikbaar is. Dis soos ’n vrot kol in ’n mooi granaat. Kyk maar hoe Afrikaners skryf, praat, onderhoude voer en selfs toneel speel. Ons gesprekke is deurspek met Engels. Hoe kan ons taal behoue bly as ons dit nie suiwer besig nie? Hoekom doen ons dit? Die Afrikaner wat so praat, word die grootste vyand van sy eie taal, want die aftakeling kom dan van binne af en nie van buite nie, en dit is uiters gevaarlik. Ons is besig om selfmoord te pleeg! Miskien is dit goed dat daar nou druk op Afrikaans en Afrikaners uitgeoefen word, want dan begin ons almal dalk oplet na ons eie taalgebruik, hoe ons dit kan opskerp en selfs verbeter. Laat ons almal vuriglik daaraan werk om ons taal suiwer te hou sodat dit behoue kan bly vir ons nageslagte. Eers dán kan ons saam met Totius sê:
“My doodkry is min.”