Annie Curtin het geen bekendstelling nodig in die musiekkringe van Suid Afrika nie. Hierdie multi-talentvolle musikant is ’n sessie- en studio-musikant uit die boonste rakke. Annie is bekend vir haar sterk en kranige stem, maar is ewe gemaklik agter die klavier en dromme as dit by lewendige optredes kom. Sy is ook lid van die befaamde geestelike groep Onbeskaamd. Annie het egter hierdie jaar besluit om haar eie solo-album vry te stel en voor ’n vol gehoor in Centurion het haar droom op haar verjaarsdag waar geword. ‘Annie en Vriende’ is saamgestel en opgeneem by Valor Studios in Roodepoort deur JP Pretorius. Die produksie en verwerkings is baie goed en Annie het verseker haar stempel afgedruk om die mark te betree as een van Suid-Afrika se beste sangers. Al die musiek en liriek is deur Annie geskryf en sy het ook self die synth- en strings-gedeeltes, sowel as die dromme, opgeneem. Musiek bloei sterk in die Curtins se are met broer George wat meesterlik die klavierdele gedoen het. Alouise Peens van die Onbeskaamd-groep en Cobus van Schalkwyk het die kitaardele behartig. Met gaskunstenaars soos Corlea Botha, Jessie Presto, Cordelia, Anders, Charlie van Beeskraal, Ghapi, Tiro, Henno Botha en Arno van Wyk is hierdie album definitief een vir die versameling. Annie hoef vir niemand terug te staan in die bedryf nie en het dit deur en deur met hierdie album bewys. Die CD is uitgereik deur die cap43 organisasie wat hulle ook met baie liefdadigheidswerk bemoei. Dis blymoedigend om te sien dat van ons land se weggesteekte juwele op die voorgrond begin blink. Gaan groot, Annie!